Kinderhuis vra hulp met wintersklere, immuunondersteuning

Argieffoto

Die Abraham Kriel Kinderhuis (AKK Nylstroom) op Modimolle het Vrydag ʼn dringende beroep op die gemeenskap gedoen om sy kinders te help met skenkings van komberse, warm klere, skoolklere en immuunondersteuners vir die winter wat voorlê.

Volgens Gerda van der Merwe, uitvoerende bestuurder van die AKK Nylstroom, moet talle van dié kinderhuis se kinders terugkeer na verskillende skole Maandag. Van die kinders se wintersklere is reeds te klein en die gemiddelde koste om voorsiening te maak in elkeen se behoeftes beloop omtrent R2 000 per kind.

Die kinderhuis se kinders is leerders in agt verskillende skole, elkeen met sy voorgeskrewe skooldrag. Van der Merwe sê wanneer kinders goed geklee en netjies is, hulle goed voel oor hulself en hulle gedrag ook meer positief is. Die kinderhuis se klerestoor is egter nie toegerus om aan die behoeftes van skoolklere te voorsien nie en heelwat winterskoolklere moet dus aangekoop word.

“Ons verwelkom enige klereskenkings, selfs klere vir volwassenes. Indien die klere nie in ons klerestoor geberg kan word nie verkoop ons dit by die kinderhuis se tweedehandse winkel om geld te genereer om nuwe klere aan te koop,” sê sy.

Sy voeg by dat die kinders daagliks gebalanseerde maaltye kry, maar dat daar steeds aan hulle immuunstelsels gebou moet word om hulle sterk genoeg te kry om Covid-19 en ander virusse te beveg, veral met die oog op die heropening van die skole. “Volgens kenners kan kinders met sterk en gesonde immuunstelsels wel die virus en ander patogene in bakteriese infeksies natuurlik afweer om gesond te bly in uitdagende tye soos wat ons tans beleef.”

Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom is ’n niewinsgewende organisasie wat 170 kinders versorg wat weens verwaarlosing of mishandeling uit die sorg van hul ouers verwyder is en wetlik in die kinderhuis geplaas is. Die kinderhuis ontvang ʼn staatsubsidie vir die versorging van die kinders maar die subsidie dek slegs 50% van die begroting.

“Ons weet dat wanneer baie mense elkeen ’n bietjie bydra tot die behoefte kan die kinderhuis, ons 170 kinders gesond en warm deur die winter en die Covid-19 pandemie kan neem,” sê Van der Merwe.

Die AKK Nylstroom se model hiervoor is om by soveel Suid-Afrikaners as moontlik ʼn klein maandelikse skenking te kry om hulle #WarmWinter-projek te finansier.

Die inperking en gepaardgaande verlies aan inkomste by van die kinderhuis se gereelde donateurs en die breër gemeenskap beteken dat die vermoë van die AKK Nylstroom om in die behoeftes van die kinders te voorsien, beperk is.

Die kinderhuis versoek dat mense help met ʼn SMS-skenking van R15 deur die woord FONDS te stuur na 39 236 (ten ʼn koste van R15, bepalings en voorwaardes geld) wat ʼn kind sal help die winter.

Die bekende sangeres Corlea Botha, oud-Springbokkaptein Wynand Claassen, motiveringspreker en ontwerpster Elzaan van der Merwe, voormalige kinderhuisinwoner adv. Anton Wiid, en die bekende estetikus dr. Riekie Smit, is almal beskermers van die AKK Nylstroom en sal die #WarmWinter-projek help bemark.

Van der Merwe sluit af met die woorde: “Die kinders in die kinderhuis is blootgestel aan omstandighede wat trauma veroorsaak het. Sodra ons kinders gevoed en geklee is, kan ons begin om hulle emosionele probleme en trauma te hanteer en op te los, waarna hulle ook op emosionele vlak kan genees en ontwikkel. Sodoende skep ons ’n veilige tuiste en heling vir ons kinders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marcus

Wie sou kon dink dat 2020 so n moeilike jaar gaan wees. Dit stel die weerloses eerste bloot. Ek sal my SMS stuur vir die kinds en elke maand n klein debiet order gee wat my gesin kan bekostig. EK wens die kinderhuis al die beste toe en elke kind daar n warm winter.

Sarel

Terwyl Kospakkies uitgedeel word moet Kinderhuise smeek om hulp. Dit is ‘n skreiende skande en groot aanklag teen ons gemeenskap

Sarel

Snaaks dat hier so min kommentasr is.

marius

Reg .

Deon

Ons is reg vir die virus het die regering gese… Hoeveel van hierdie tipe gevalle is daar?