Kinderhuise trek swaar onder pandemie

‘n Inwoner van die kinderhuise se kamer. (Foto: Verskaf)

Die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise in die hoofstad poog om in ʼn abnormale situasie vir kinders, wat dikwels mishandel en verwaarloos is, ʼn tuiste te skep waar hulle alles kry wat hulle in ʼn gewone huis met ʼn gewone huisgesin sou vind.

“Ongelukkig moes kinderhuise met die aanvang van die pandemie ons normale bemarkingsplan om geld vir die kinderhuise te genereer, eenkant toe skuif en tot dusver kon ons geen geldinsamelingsfunksies hou nie,” sê Charlene Grobler, uitvoerende hoof van albei kinderhuise.

Die jaarlikse Jakaranda-liggiefees wat reeds ʼn instelling by die inwoners van Pretoria is en sommer vroeg in dagboeke aangeteken is, is nie in Desember 2020 soos gewoonlik aangebied nie. Die inkomste uit hierdie fees het gewoonlik die kinderhuis in East Lynne se uitgawes gedek terwyl die bestuur wag vir die kinderhuis se jaarlikse staatsubsidie.

Intussen het die kinderhuise se bestuur besluit om ook ʼn gala-aand in Augustus uit te stel weens die derde golf van die Covid-19-pandemie wat Gauteng tans swaar tref.

“Die plan was om mense met ʼn driegangmaaltyd te trakteer terwyl ons van ons kinders se suksesverhale met die ondersteuners op die aand sou deel.”

Grobler sê die kinderhuise moet hulle nou tot lede van die publiek wend vir ondersteuning om die daaglikse bedrywighede by die huise in East Lynne en Queenswood te laat vlot.

“Lesers moenie onderskat wat hulle vir ons kan beteken nie. Onthou, die kinderhuise benodig alles wat jy in ʼn gewone huis sou gebruik, al verskil is: jy moet dit alles met 30 maal.”

Grobler sê die opset by die twee kinderhuise is ook lankal nie meer een van ʼn sentrale kombuis met slaapvertrekke en stapelbedjies nie.

Louis Botha-kinderhuis, wat vanjaar reeds 103 jaar bestaan, was een van die eerste kinderhuise wat ʼn stelsel ingestel het van 12 kinders wat saam met huisouers in ʼn huis woon en ondersteun word deur assistente. Die kinders kan hier saam leer kosmaak en help met sekere skoonmaaktake terwyl hulle so lewensvaardighede aanleer.

“Om by altesaam 326 kinders, wat by 16 verskillende skole ingeskryf is, se reëlings in te val en dit te bestuur is beslis nie grappies nie.”

Jakaranda-kinderhuis (voorheen die Abraham Kriel-kinderhuis Pretoria) kan teen volle kapasiteit ʼn veilige tuiste vir 230 kinders tussen drie en 18 jaar oud bied, terwyl Louis Botha na 100 kinders omsien. Die kinders wat in dié kinderhuis woon, is tussen sewe en 18 jaar oud.

Grobler moedig lesers aan om betrokke te raak as vrywilligers by die kinderhuise. Die kinderhuise ontvang klere, kos en finansiële skenkings. Lesers kan op verskeie maniere kies om finansieel by die twee kinderhuise betrokke te raak:

  • Eenmalige kontantskenking met PayFast of ʼn EFT.
  • Maandelikse debietorderaftrekkings.
  • Maak ʼn erflating aan die kinderhuise.

Besoek die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise se webwerwe of sosialemediaplatforms vir meer inligting, of stuur ʼn e-pos aan Ina Kotze na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bolander ·

Die staat het die subsidies aan ‘n kinderhuis in my omgewing gesny so paar jaar terug. Die staat gee hulp aan sekere mense/instansies gedurende hierdie COVID situasie. Hoekom kan die regering dan nie die kinderhuise oor die land help nie? Dit is mos in lyn met die regerende party se propaganda dat hulle omgee vir (vroue) en kinders.
Mnr. die president, hier is ‘n idiaale geleentheid om vir SA burgers te wys dat jul doen wat jul sê, want ons volk kry swaar met die beperkings en bydraes vir liefdadigheid is nie tans altyd moontlik, al bloei ons harte vir die arme kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.