Kindermartel-saak weer uitgestel

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vrou van Mpumalanga wat haar susterskind jare lank gemartel het, se vonnis is Vrydag weer in die Nelspruit-streekshof uitgestel.

Die saak moes tot 21 Mei uitgestel word nadat staatsaanklaer Magda Marais gesê het maatskaplike werkers het nog steeds nie ʼn voorvonnisverslag ingedien nie, berig ʼn Sapa-korrespondent. Die vrou (39), wie se naam nie bekend gemaak mag word nie om die kind se identiteit te beskerm, bly in aanhouding. Sy is van Msholozi naby Mbombela.

Die hof moes die vrou al verlede Vrydag gevonnis het, nadat landdros André Geldenhuys haar op 8 April skuldig bevind het aan kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig. Die saak is toe uitgestel vir ʼn voorvonnisverslag van maatskaplike dienste.

Die hof het vroeër gehoor die mishandeling het in 2009 begin toe die dogter agt jaar oud was. Die mishandeling het eers in 2011 tot ʼn einde gekom toe bure die polisie in kennis gestel het.

Geldenhuys het in sy uitspraak gesê die vrou het in haar getuienis gejok toe sy aangevoer het bure het die bewerings uitgedink om haar eiendom te bekom. Die vrou het glo ook aangevoer ʼn dokter het in sy verslag gelieg oor die kind se beserings. Geldenhuys kon geen bewyse hiervoor vind nie.

Die dokter, wat die kind op 12 Desember 2011 by Rob Ferreira-hospitaal ondersoek het, het bevestig die kind se vingers, tone en geslagsdele is met ʼn tang geknyp. Daar was ou littekens en vars kneusplekke aan die kind se nek en talle ander beserings aan haar liggaam.

Die hof het gehoor die kind het by haar tannie begin bly toe haar pa gesterf het en haar ma nie na haar kon omsien nie. Die tannie het haar gedwing om die huis skoon te maak en vir haar en haar kinders kos te maak.

Volgens die klagstaat is die kind gedwing om kaal op ʼn koue vloer te slaap sonder enige beddegoed. Sy is nie toegelaat om skool by te woon nie en die tannie het haar gereeld met takke geslaan.

Die tannie het die kind glo in ʼn stadium gedwing om in ʼn puttoilet te klim om ʼn sleutel uit te haal. Die kind moes deur die uitskot en urine soek.

Die kind is ook soms met kettings vasgebind, en haar bene is met ʼn rubberhamer geslaan.

Die vrou het die kind ook gedwing om haar eie urine te drink en uitskot te eet. Sy het geweier om vir die kind kos te gee, en wanneer sy wel kos gekry het om te eet, is dit in die tannie se bedpan bedien.

ʼn Getuie het gesê die vrou se eie kinders word goed versorg.

Die hof het ʼn foto ontvang van die kaal meisie wat om haar nek en hande met kettings vasgebind is.

Die vrou het onskuldig gepleit op die aanklagte. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Dit is uiters siek!!! Stuur haar tronk toe en gee vir haar dieselfde behandeling daar.

Sy is siek in haar kop!!! Ek is skoon naar. Dis walglik om ‘n jong kind so te behandel. Selfs misdadigers in die tronke kry beter behandeling.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.