Kinderontvoering en mensehandel: Hoe groot is die probleem werklik?

(Argieffoto.)

Gesprekke om etenstafels oor mensehandel en kinderontvoering in Suid-Afrika het algemeen geword nadat beeldmateriaal van ʼn man wat probeer het om ʼn kind by haar ma aan die Wes-Rand te gryp, verlede maand wyd gedeel is. Die brandende vraag van al hierdie besprekings is: Hoe groot is die probleem in ons land?

Nadine Blom, sangeres en aktivis teen mensehandel en kinderontvoering, sê dit is moeilik om ’n akkurate statistiek te kry:

“Oor die afgelope 18 jaar is sowat 16 000 kinders in Suid-Afrika as vermis aangemeld. ’n Kwart van hulle is nooit opgespoor nie. Dit is moeilik om jou die angs van ouers voor te stel wat ’n kind as vermis wil aanmeld, maar dan verkeerdelik deur polisiebeamptes ingelig word dat hulle 24 of 48 uur moet wag of aangeraai word om eers ná die naweek terug te kom.”

Blom sê dis belangrik om onderskeid te tref tussen ontvoering en mensehandel.

“Ontvoering is as iemand onwettig en teen hul wil weggeneem word, gewoonlik vir ’n losprys. Mensehandel is die onwettige handel in mense vir uitbuiting of kommersiële gewin. Mensehandelaars dwing dikwels hul slagoffers in dwangarbeid of prostitusie. Die rede hoekom dit so toeneem, is omdat dit ’n lae risiko inhou en hoë opbrengste verseker,” sê sy.

Blom sê onder sommige omstandighede is mensehandel vrywillig as die persoon saam met die oortreder weggaan uit hul bekende omgewing omdat hulle dikwels mislei word om dit te doen, maar hulle kan ook teen hul wil ontvoer word.

Lizelle Lancaster van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in Pretoria sê ontvoerings het die laaste dekade skerp toegeneem.

“Die verhoging in voorvalle word meestal toegeskryf aan die toename in rowers waar laasgenoemde slagoffers aanhou vir hul bankkaartnommers of om seker te maak die opspoortoestelle word nie geaktiveer nie. Die data wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verskaf word, het egter beperkinge omdat alle gevalle van ontvoering nie aangemeld word nie; nie alle gevalle het ’n duidelike motief nie; en ’n mens kan nie uit die statistiek aflei wat die persentasie kinders onder die getal ontvoerings is nie. Ons statistiek toon dat net sowat een persent van alle ontvoerings deel van mensehandel uitmaak.”

Volgens die statistiek van die SAPD was daar in die verslagjaar 2019/’20 sowat 6 623 ontvoerings – ’n styging van 16,3% teenoor die vorige jaar. Hiervan was 2 202 gevalle in Gauteng, 1 423 in Kwazulu-Natal en 748 in die Wes-Kaap. In 830 van die gevalle het die ontvoering of kaping met rooftogte gepaard gegaan.

“Die grootste drywers vir ontvoerings in Suid-Afrika is weens rooftogte (27%), seksuele oortredings (27%), kapings (18%), afpersing (2%) en huishoudelike struwelinge (7%). Tradisioneel is dit meer waarskynlik dat kinders ontvoer word deur ’n ouer of toesighouer tydens toesigdispute met egskeidings of wanneer daar nie toestemming gevra word om ’n kind van die een ouer te neem nie. Die gevalle waar dit gedoen word vir doeleindes van mensehandel of die eis van ’n losprys, is min,” sê Lancaster.

Jacqui Thomas, direkteur en medestigter van Pink Ladies, ’n organisasie wat hom daarop toespits om vermiste persone op te spoor, sê daar is nie ’n wesenlike toename in kinderontvoerings nie en daar moet deeglik onderskei word tussen ontvoering uit ’n misdaadoogpunt (kidnapping) en dit wat spruit uit sosiomaatskaplike omstandighede (abduction).

“Onder die omstandighede waarin ons tans verkeer, en veral met die Covid-19-pandemie en oor wydverspreide swak sosiomaatskaplike huislike omstandighede, kry ons ook dikwels dat kinders wegloop omdat hulle verward is en uit hul omstandighede wil ontsnap. Dit kan nie as ontvoering gesien word nie, maar hulle word wel as vermiste persone beskou.

“Ontvoerders sal ook gewoonlik ryk ouers dophou, hul bewegings analiseer en dan toeslaan omdat hulle weet hulle sal geld kan eis in ruil vir die kind se vryheid,” sê Thomas.

Kinders as ’n kommoditeit

mensehandel-in-suid-afrika

(Argieffoto.)

Beatri Kruger, van die Sentrum vir Menseregte, Universiteit van die Vrystaat het onlangs geskryf dat kinders as ’n maklik verhandelbare, sukkelvrye kommoditeite beskou word.

“Hul kwesbaarheid, in die besonder wanneer handelaars hulle van hul gesinne en ander hulpbronne skei, maak hulle makliker om te manipuleer en te beheer. Gevolglik gedy die kinderhandelbedryf wêreldwyd, ook in Suid-Afrika.

“Die internasionale gemeenskap beskou Suid-Afrika as die eindbestemming van menige slagoffer uit veral elders in Suider-Afrika, terwyl dit as oorsprong en deurgang vir mensehandel na hoofsaaklik Europa en Noord-Amerika dien. Suid-Afrikaanse kinders word sowel binne as oor die landgrense verhandel.

“Werwing van slagoffers vind meestal in landelike gebiede plaas, waarna hulle na stede soos Johannesburg, Kaapstad, Bloemfontein en Durban geneem word. Hier word meisies aan sekshandel en gedwonge huisarbeid blootgestel, en word seuns gedwing om aan straatsmousery, voedseldienste, bedelary, misdadige aktiwiteite en landbou deel te neem,” verduidelik sy die redes hoekom kinders in mensehandel gebruik word.

Molo Songololo , ’n organisasie wat hom vir kinderbeveiliging beywer, het ‘n paar vorme van mensehandel en ontvoering geïdentifiseer: Deelname van vreemdelinge, individue en bendes of sindikate wat kinders met geweld vir hoofsaaklik prostitusie ontvoer; ouers of familielede wat kinders dwing om van hul huise af prostitusie te bedryf (deesdae ook aanlyn); familielede of mense in gesagsposisies wat kinders dwing om aan seksuele aktiwiteite deel te neem; advertensies in publikasies vir tienermeisies wat werk aangebied word in die gasvryheids- of rolprentbedryf (wat dan dikwels ’n dekmantel is vir prostitusie); en kinders wat soms oor landgrense geneem word vir seks en ander werk.

“Dit het ook al gebeur dat ouers hul kinders op Gumtree adverteer, vir so min as R5 000, of voorvalle waar kinders aan aanneemouers verkoop word omdat dié ouers nie self kinders kan kry nie.”

Afpersing vir geld

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Mike Bolhuis, bekende privaat sekuriteitspesialis van Specialised Security Services (SSS) in Pretoria, glo die rede vir kinderontvoerings in die meeste gevalle is afpersing vir geld.

“Ek glo ook nie daar is tans ’n nuwe vlaag van kinderontvoerings nie, maar misdaad skep misdaad en as misdadigers agterkom dat kinderontvoering vir hulle geld in die sak kan bring, word dit oorweeg.

“Dit is ook nie altyd ’n georganiseerde optrede nie. ’n Misdadiger mag dalk op die ingewing van die oomblik ’n kind in ’n motor sien en hom of haar gryp en dan die ouers nader vir geld as losprys. Hulle glo hulle kan wegkom met die misdaad én geld daaruit verdien, ook veral omdat die polisie nie altyd dadelik kan optree nie.

“Buiten dat kinders vir sekshandel ontvoer en gebruik word, word hulle ook gebruik om dwelms te verkoop en te versprei en om namens hul ontvoerders diefstal te pleeg. In uiterste gevalle word kinders ook ontvoer vir die oes van organe wat dan verkoop word, of hulle word aan buitelanders verkoop wat nie self kinders het nie.

“Die oplossing vir hierdie probleem is die hokslaan daarvan (lockdown). Ons moet saamwerk om die misdaad te bestry en kan dit nie alleen doen nie. As jy sien iets gebeur in die straat, tree op en word deel van die oplossing. Jy kan die polisie bel of gaan help of net hard skree om aandag te trek.

“Moenie met kinders rondry as dit nie noodsaaklik is nie. Dit is ongelukkig die wêreld waarin ons tans leef en ons moet dienooreenkomstig optree. Dit is ook belangrik dat daar deurlopend opleiding en inligting oor die gevare van ontvoering aan kinders gegee word. Dit is nie lekker nie, maar dit is die werklikheid.

“Daar moet ’n soort van paranoia hieroor geskep word. As ’n vreemdeling ’n kind uit sy omgewing wil neem en hy of sy hou nie daarvan nie, moet hy geleer word om te skree, te skop, te byt en te kere te gaan sodat omstanders kan sien iets is verkeerd. Die grootste gevaar is dat ouers of mense wat oor kinders toesig moet hou, glo dat dit nie met hulle sal gebeur nie. Maar dit kan.

Thomas sê ouers moet altyd weet waar hul kinders is. “Jy het die reg om jou kinders se selfone na te gaan om te sien met wie hulle kontak het, waar hul afsprake gaan wees en met wie hulle gesels. Wees met jou kinders openlik daaroor en verduidelik dat dit vir hul eie veiligheid is.

“As jy en jou kinders uitgaan, hou hulle dop, hou die kleintjies se hande vas en sorg dat hulle altyd binne sig is – selfs al gaan hulle badkamer toe. Wees net ’n goeie ouer, dan sal jy die risiko’s verminder. En as iemand jou kind wil gryp, gryp hom vas, skop en skree en doen enigiets om te keer dat hy wegkom. Dit is jou reg en jou plig as ouer om terug te veg,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Kan jy voorstel as ons soveel moeite sou insit in die verduideliking en onderskeid van ander klaarblyklike misdade/oortredings/motiverings. Ek verstaan nie hoe daar net op loop gegaan kan word met ‘n storie, afhangend van die demografie van die mense betrokke, maar die oomblik as jy van die inligting ‘omruil’, is die scenario veel erger, of sommer glad nie van belang nie. Is een lewe werklik meer werd as ‘n ander?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.