ʼn 34-jarige man verskyn Donderdag in die Bellville-landdroshof in die Wes-Kaap in verband met die besit en verspreiding van kinderpornografie.
Die man is Dinsdag in Parow in hegtenis geneem tydens ʼn gesamentlike operasie tussen die Gautengse ondersoekeenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksoortredings (GKS) en Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid.
“Die verdagte is in hegtenis geneem nadat die departement [van binnelandse veiligheid] in Januarie via Interpol ʼn navraag ontvang het,” het brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die ondersoekeenheid in Gauteng, wat fokus op misdade teen die seksuele uitbuiting van kinders in die res van Suid-Afrika, het ondersoek ingestel en dit het die span op die man se spoor in Kaapstad gebring.”
Die verdagte se huis is tydens die inhegtenisneming ondersoek en die polisie het beslag gelê op ʼn tabletrekenaar, ʼn videospeler, twee USB-stokkies, ʼn USB-video-aanpasser, drie selfone, honderde CD’s, een hardeskyf, ʼn mikro SD-kaart en een SD-kaart.
Naidoo het dit benadruk dat die noue werksverhouding wat die GKS binne die eenheid en tussen ander wetstoepassingsagentskappe wêreldwyd gevestig het, is die hoofrede waarom dit so suksesvol is om oortreders van kinderpornografie en seksuele uitbuiting landswyd aan te keer.
Die wêreldwye ondersoek na ʼn groot kinderpornografiekring duur voort. “Verdere inhegtenisnemings is nie uitgesluit nie,” het hy bygevoeg.
Dit is nog nie duidelik of die man deel is van Operasie Cloud 9 nie. Maroela Media het in September berig ʼn sesde Suid-Afrikaner is in hegtenis geneem in verband met dié internasionale kinderpornografie-ondersoek. Die 47-jarige makelaar van Vishoek is tydens ʼn klopjag by sy huis in hegtenis geneem. ‘n Johannesburgse student is ook in September in hegtenis geneem.
Lees alle vorige berigte oor Operasie Cloud 9 op Maroela Media.
Iets waaroor ek wonder. ‘n Mens kry die ouens wat drugs verkoop, maar nie self gebruik nie. Ek wonder nou of kry mens sulke porno verspreiders ook? Hy versprei dit, maar self dink hy dit is verkeerd. Seker simple van my, maar ek het nou net gewonder.
Verstaan mooi, ek keur dit gladnie goed nie. Dit bly walglig en baie verkeerd en moet ten strengste gestraf word.
Wat is die verhouding tussen die kinders wat misbruik word en hulle ouers? Kom die ouers nie agter dat iets vekeerd is nie? Waar is ouerverantwoordelikheid?
Dit is die ook gemeenskap se verantwoordelikheid om sulke gemors uit te roei.