Kinderporno-saak dalk geskrap oor klagstaat-probleme

Argieffoto

Argieffoto

Die saak teen ʼn man, wat tereg staan op aanklag van meer as 179 000 aanklagte wat met kinderpornografie verband hou, se saak kan dalk van die hofrol geskrap word weens probleme met die klagstaat.

Die 38-jarige rekenaaringenieur van Plettenbergbaai is in Januarie verlede jaar in hegtenis geneem nadat die internasionale polisie op sy strandhuis toegeslaan het. Hulle het glo lêers met duisende foto’s en video’s van kinderpornografie gevind en internetadresse van meer as 300 ander vermeende pedofiele.

Sy inhegtenisneming vorm deel van Operasie Cloud 9, ʼn samewerking tussen Suid-Afrika en die Belgiese polisie wat ʼn internasionale kinderpornografienetwerk wil blootlê. Dit sluit die verspreiding van duisende foto’s en video’s in waar babas verkrag en gemartel word.

Carl Jeppe, vir die rekenaaringenieur, wie se naam nie bekend gemaak mag word tot hy gepleit het nie, het Maandag in die Knysna-streekshof versoek dat die saak van die rol geskrap moet word.

Staatsaanklaer Chamelle Bastian het daarop gewys dat sy opdrag van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging ontvang het, dat die man individueel aangekla sal word vir elkeen van die 179 000 foto’s en dit sal dus minstens twee tot drie maande duur voor die klagstaat gereed is.

Jeppe het gesê dit is onaanvaarbaar, aangesien hy al sedert Junie vanjaar sukkel om die klagstaat in die hande te kry. “My kliënt het die reg op ʼn vinnige hofsaak en hierdie is nie aanvaarbaar nie,” het hy gesê.

Bastian het verduidelik die direkteur van openbare vervolging het besluit dat elke foto ook in die klagstaat beskryf moet word.

Jeppe het reageer en gesê hierdie “reuse taak” sal langer as drie maande neem en om elke aanklag in die hof voor te hou, gaan selfs nog langer duur. “Ons sal volgende jaar Kersfees nog besig wees,” het hy gesê.

Jeppe het gesê die besluit laat hom kopkrap, aangesien die wet voorsiening maak daarvoor dat al die foto’s in een aanklag vervat kan word.

Landdros Eugenia Jacobs het saamgestem en gesê aangesien hierdie ʼn “ernstige saak” is, sal sy nog vergunning bied vir een finale uitstel, en sy wil hê die kantoor van die direkteur van openbare vervolging moet die massiewe taak, om elke foto individueel te beskryf, heroorweeg.

“Ek doen ʼn beroep op die betrokke partye om hul sake te orden, anders gaan daar geen ander opsie wees nie as om die saak van die rol te skrap,” het sy gewaarsku.

Jeppe het ook op vorige gesprekke gewys dat die getal foto’s van 179 000 na 50 000 verminder moet word, as gevolg van duplikate.

Die saak is tot 30 November uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Operasie Cloud 9 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Phillie ·

Ipv dat die vervolgens gesag (aspris klein letters) hulle toespits op werklike afskuwelike probleme en die politieke agendas vir later los Maar nee numba1 betaal goed

Jan ·

Nie noodwendig nie. Soos in die Henning saak vat die staat dooierus. Min mense besef dat as ‘n beskuldigde eers skuldig of onskuldig gekies het as verweer en dir staat is nie reg om te bewys nie, is die beskuldigde vir ALTYD vry. So om terug te trek voor pleit is baie takties.

Ek kook ·

Ek kook as ek sulke goed sien, Jeppe jou werk is jou werk, maar wragtig n pedofiel / pornografie van baba verkragting te verdedig en op n flippen flou verskoning van die reg op vinnige verhoor los te kry, mag jou gewete inskop, watter reg het daai baba gehad. Dit is siek verby en jy keur dit goed.

Theresa B ·

Dit is absurd!! Kan julle nie julle werk reg doen nie??

ADK ·

“Babas verkrag en gemartel word” ????????? Hierdie is baie, baie, baie siek mense en daar is nie pille om hulle te genees nie. Maak hulle gesigte en name bekend en laat hulle gaan. Die gemeenskap sal hulle buite die tronk uitsort. Dit sal baie vinnig einde kry…….dit kan ek jou waarborg!!!!!

Marlene ·

Hierdie storie het my bloed laat kook. Hy behoort die doodstaf te kry. Hy’s siek in sy kop. Ek dink die publiek behoort te weet wie hy is, sodat hul self met hom kan afreken.

johan strydom ·

ek vind dit uiters moeilik om rasioneel kommentaar te lewer op hierdie verskriklike demoniese saak. dit lyk asof verskeie partye hul uiterste bes doen om die saak van die hofrol geskrap te kry – net te laat verdwyn, insluitend die staat, by monde van die staatsaanklaer, ene chamelle bastian asook die landdros, ene eugenia jacobs. ek vermoed dit het alles te doen met die moontlike openbaarmaking van die name van meer as 300 pedofiele. ek dink ook alles moontlik gaan gedoen word om te probeer verhoed dat hierdie agente van satan se name bekend word. ek bid dat die name van al hierdie gewetenlose skurke baie duidelik in die lig gebring sal word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.