Kinderporno: Veiligheidswag bly in aanhouding

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Veiligheidswag wat Dinsdag in Parow in die Wes-Kaap in hegtenis geneem is in verband met die besit van kinderpornografie, het Donderdag vir die eerste keer in die hof verskyn.

Die 34-jarige man, wie se naam nie bekend gemaak mag word voordat sy hofsaak begin nie, bly vir minstens ʼn week lank in aanhouding terwyl die vervolgingsgesag sy agtergrond nagaan.

Die man het voor landdros Cyril Kroutz in die Bellville-distrikshof verskyn. Kroutz het die saak tot 12 November uitgestel waar die man na verwagting kan aansoek doen om borgtog.

Staatsaanklaer Stefan Venter het aan die hof gesê die staat sal die man se borgtogaansoek teenstaan.

Die man se ma, en ander vroulike lede van sy familie, het die verrigtinge bygewoon. ʼn Groep van vier vroue polisiebeamptes van Gauteng, wat in die ondersoek betrokke is, was ook in die hof.

Die klagstaat dui aan die man bly in Smitstraat in Parow, een van Kaapstad se noordelike voorstede.

Kroutz sal die borgtogaansoek hanteer, maar die man se hofsaak sal na verwagting in die gespesialiseerde seksoortredingshof in Parow aangehoor word.

Die man, geklee in ʼn roomkleurige langbroek en geel T-hemp het Donderdagoggend in die hof verskyn. Hy staan tereg op aanklag van die vervaardiging, besit en verspreiding van kinderpornografie, ʼn oortreding van die Wet op Seksuele Misdrywe en die Wet op Film- en Publikasiebeheer.

Maroela Media het vroeër berig die man is in hegtenis geneem tydens ʼn gesamentlike operasie tussen die Gautengse ondersoekeenheid van die SAPD se eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (GKS) en die Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid. Die inhegtenisneming kom ná ʼn ondersoek van Interpol in Januarie.

Tydens die inhegtenisneming het die polisie beslag gelê op ʼn tabletrekenaar, ʼn videospeler, twee USB-stokkies, ʼn USB-video-aanpasser, drie selfone, ʼn rekenaarhardeskyf, ʼn SD-kaart, ʼn mikro SD-kaart en honderde CD’s.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê nog inhegtenisnemings word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Genis ·

Dit is baie onverantwoordelik om oor die presiese adres van die huis te bespiegel. Kort voor lank word onskuldige mense dalk geteiken wat geen misdaad gepleeg het behalwe om te braai en onguur te lyk nie. Terloops. Pedofiele lyk selde onguur, dis gewoonlik vooraanstaande lede van die gemeenskap. Die duiwel beklee homself mos met die lig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.