Kinders groet vermoorde ouers maande later

Dr. Hannes Beukes en sy vrou, Ibel. (Foto: Facebook)

Die vermoorde dr. Hannes Beukes (70) en sy vrou, Ibel (67), se drie kinders wat in die buiteland woon, kon vroeër vanjaar eindelik na Suid-Afrika reis om hul ouers finaal te groet.

Dit is nou reeds sowat 18 maande ná die Beukes-egpaar se dood, maar die egpaar se kinders,  Marlize en Robert, Andries en Hester asook Evan en Franche, kon weens die Covid-19-pandemie en gepaardgaande beperkings nie verlede jaar na Suid-Afrika reis nie.

Hannes, ’n geliefde oudleraar van Bethal in Mpumalanga, en Ibel, ’n afgetrede onderwyseres, se liggame is op 18 Maart verlede jaar in hul voertuig in ʼn veld naby die Bethaldam op die dorp aangetref.

Die egpaar het ernstige, sigbare beserings aan hul liggame gehad. Albei se selfone, asook Ibel se handsak was steeds in die motor en net ʼn paar klein items is oënskynlik gebuit.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar het op die dag van hul moorde by hul huis gery om hul huiswerker in Emzinoni, net buite die dorp, te gaan aflaai. Hulle het nooit teruggekeer huis toe nie.

ʼn Verbygaande motorfietsryer het die voertuig laatmiddag in die veld opgemerk en die owerhede ontbied.

Francois Pretorius.

Francois Pretorius is sowat ʼn week later, op 27 Maart, in verband met die egpaar se moord in hegtenis geneem. Pretorius is ʼn juwelier op die dorp asook ʼn lidmaat van die kerk waar Beukes vantevore ʼn leraar was.

Volgens Hannes se broer, Wilco Beukes, het Pretorius ná sy inhegtenisneming erken dat hy die egpaar vermoor het. Hy het sedert sy inhegtenisneming al verskeie kere in die streekshof op Middelburg verskyn.

Volgens Beukes het Pretorius ook al twee keer onsuksesvol in die hooggeregshof op Middelburg aansoek gedoen om borgtog. Hy is ná die tweede borgtogaansoek vir sielkundige waarneming gestuur.

ʼn Verslag hieroor sal Maandag (6 September) by die hof ingedien word, waarna ’n verhoordatum vasgestel sal word.

Beukes sê volgens inligting tot die familie se beskikking, het Pretorius vir Hannes geld geskuld.

“Francois het finansieel swaargetrek en het ’n bestaan op ’n klein plasie buite Bethal probeer voer. Hannes het vir Francois geld geleen omdat hy so swaargekry het,” vertel Beukes.

“Daar was op ʼn dag ’n konfrontasie tussen Francois en my broer op dié plaas. Soos ons verneem het, het dit gegaan oor die geld wat Francois vir Hannes geskuld het. Dit is op daardie einste plaas waar Hannes en Ibel vermoor is.”

Maroela Media het navraag oor die hofsaak aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

Familie neem finaal afskeid

Beukes sê hoewel die familie se harte nog seer is, vind hul tog berusting daarin dat iemand reeds in hegtenis geneem is. Hy verkies egter om nie die hofsittings by te woon nie.

“Daar is nie sin daarin om die hofsake by te woon nie. Ek gaan net van voor af kwaad word. Ons glo en vertrou die reg sal nou sy loop neem en ons is tevrede daarmee.”

“Hoewel die vermeende oortreder agter tralies is, sal dit nie ons verlange na Hannes en Ibel wegneem nie.”

Die egpaar se kinders het in Julie vanjaar na Suid-Afrika gereis en ’n gedenkdiens vir Hannes en Ibel is op 7 Julie in die Hervormde Kerk in Bethal gehou. Hannes was jare lank die leraar by dié gemeente.

Die egpaar is verlede jaar veras en ʼn nis met hul as is by die kerk geplaas.

Die kinders het ook hul ouers se besittings opgepak – volgens Beukes ʼn uiters emosionele proses.

“Hulle kon nou eindelik amptelik afskeid van hul ouers neem.”

Beukes sê hy sal altyd sy broer as ’n eerlike man met ’n hart van goud onthou.

“Hy het altyd die reguit pad geloop. Hy was ’n goeie man.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

miavos ·

Die beste is om nie geld terug te verwag nie. Gee. Die Here sal verder sorg. As jy nie dit kan doen nie, moet liewer nie geld aan ander leen nie. Dit eindig selde goed. Jy verloor vriende, kinders, ouers, familielede, goeie kennisse. Niks maak mense so ‘mal’ as finansiële druk nie.

Hardekwas ·

Dit is skandelik as ons deur ons eie mense vermoor word. Sterkte en medelye aan die familie en vriende.

Adelaide ·

Ek het al hard geleer dat ‘n wit vel en’ n taal iemand nie noodwendig deel van “my” mense maak nie. Daar is ander kriteria wat belangriker is vir my soos integriteit, hard werksaamheid, respek vir medemens,….

Hardekwas ·

Ek stem Adelaide, maar as n mens nie jou eie kan vertrou nie, wie kan n mens dan vertrou?

Thom ·

Sjoe , die moordenaar is dan WIT !? EN MM plaas die berig !?

Cherokee ·

Net ‘n effentjiese deurkyk van die kommentare en tye in in opvolg), maak jou wys wie die ateïs is, wat God minag, en om vreemde redes, steeds toegelaat word, om God te minag. Prys die Here!~

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.