Kinders hoor ‘Daddy kom huis toe’ voor pa sterf

Wayne, sy vrou Ashleigh en hul drie kinders. Foto: Verskaf

Wayne, sy vrou Ashleigh en hul drie kinders. Foto: Verskaf

“My boet ek is hier, ek is lief vir jou,” het Terry-Ann Booyse vir haar broer, Wayne Coetzee (40), gesê nadat hy in ʼn motorongeluk betrokke was, min wetende dat dit die laaste woorde sou wees wat sy aan hom sê.

Volgens Booyse het hulle aanvanklik gedink Coetzee is nie so ernstig in die ongeluk beseer nie. “Wayne het met my gepraat. Sy gesig was vol bloed en hy het gesê sy heupe is seer. Die paramedici het gedink hy het dalk sy pelvis gebreek. Hulle was meer bekommerd oor sy kollega, Theuns de Lange.”

Coetzee en De Lange het omstreeks 16:00 Dinsdagmiddag teruggekeer van ʼn vergadering toe hulle in Beyers Naude-rylaan in Johannesburg in ʼn ongeluk betrokke was. Volgens Booyse het ʼn vragmotor en ʼn bakkie gebots en het die vragmotor in die aankomende verkeer se baan beland en teen die bakkie waarin Coetzee en De Lange gery het, gebots.

Booyse is dadelik na die ongelukstoneel. Coetzee is na ʼn hospitaal geneem waar hy gestabiliseer is. “Hulle het hom ingestoot vir x-strale toe sy hart gaan staan het. Die nadoodse ondersoek het gewys hy het erge inwendige beserings gehad en dat al sy organe beskadig is. Ons het gedink hy gaan oukei wees. Ek het nog vir sy kinders gesê daddy kom later huis toe.”

Coetzee was ten tyde van sy dood ʼn operasionele bestuurder by ʼn veiligheidsmaatskappy, Drift Reaction cc, aan die Wesrand. “Die maatskappy word deur twee families bedryf. My broer se vrou, ek, my seun en nog familielede werk ook daar. Wayne was soos ek en ons ander broer in die polisie. Hy was ʼn groot hero aan die Wes-Rand,” het Booyse, ʼn skakelbeampte by Drift Reaction, gesê.

Coetzee laat sy vrou, ʼn 10-jarige seun en sewejarige tweeling agter. “Hy was baie geliefd en wou altyd orals help. Niks was te groot of te klein vir hom nie. As ʼn alarm afgegaan het, het hy gaan kyk. As iemand hom nodig gehad het, was hy daar. Hy het gelewe vir sy vrou en sy kinders. In die aand as hulle geëet het, het sy tweeling op sy skoot gesit met sy bord kos in die middel van hulle. Hy het so hegte band met hulle gehad. My boetie was ʼn wonderlike mens en pa.”

Booyse het gesê De Lange weet nog nie van sy kollega se afsterwe nie. “Theuns is in ‘n geïnduseerde koma in die Milpark-hospitaal. Hy het albei sy arms, albei sy bene, sy enkels en sy pelvis gebreek in die ongeluk. Hy het bloeding op sy longe en word in die koma gehou tot hulle kan opereer. Theuns het erger gelyk op die ongelukstoneel. Hy is per helikopter na die hospitaal vervoer. Almal het gedink Wayne gaan nie probleme hê nie.”

De Lange werk ook as ‘n operasionale bestuurder by Drift Reaction. Sy toestand is ernstig, maar stabiel. Booyse het die bestuur van Drift Reaction bedank vir hul bystand aan haar en die res van die familie in die moeilike tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Hoekom sien ons die metropolisie net tydens skoolvakansies of as hulle daarop uit is om geld te maak met boetes? Ek het vanoggend weer DIESELFDE metropolisie van Ekurhuleni, Edenvale raakgeloop wat net besig was om boetes uit te skryf aan motoriste wat nie doodstop by ‘n stopstraat nie. Ek het aan hulle gesê dat my motor afgeskryf is die Vrydag nadat ek ‘n proleem aan hulle wou rapporteer en hulle geweier het om na my te luister. Die een beampte het gesê hulle luister nie na my nie want en praat te veel!!! Dis ons metropolisie se houding teenoor ons as motoriste. Hulle gee nie ‘n bloue duit om vir ons veiligheid nie!!!

Christa ·

My broer is elf jaar terug in n motorfiets ongeluk gewees, hy het nog op die toneel met die dame gepraat, my ouers is gebel en vir hul gese om na die hospitaal te gaan. By hul aankoms was hy oorlede. Hul het hom ook verkeerd ge diagnoseer. Hy het die ongeluk half sewe gehad en 7 uur toe hul instap oorlede.

Judy ·

Ons gebede gaan na sy ouers, boetie & suster, sy vrou en kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.