Kinders in dié skole binnekort sonder kos

Argieffoto

Argieffoto

Sowat 64 000 leerders in Gauteng wat van skoolvoedingskemas afhanklik is, word geraak deur ’n besluit van die Nasionale Tesourie om nie geld hiervoor beskikbaar te stel vir die sogenaamde kwintiel 4- en 5-skole nie.

Suid-Afrika se openbare skole word in vyf groep verdeel waarvolgens finansiële hulpbronne aan die skole toegeken word. Skole word in ʼn sekere kwintiel (kategorie van welvarendheid) ingedeel. Volgens die stelsel is ʼn kwintiel 1-skool die armste en ʼn kwintiel 5-skool die welvarendste.

Melanie Buys, die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se provinsiale bestuurder in Gauteng, het gesê vanaf vandeesmaand sal kwintiel 4- en 5-skole wat skoolgeld aanvullend tot die toewysing deur die staat hef, geen bydrae ontvang van die onderwysdepartement nie. “Skole wat wil voortgaan om behoeftige leerders van ’n daaglikse maaltyd te voorsien, sal self daarvoor moet betaal. Die Tesourie het bepaal dat toekennings vir voedingskemas slegs aan kwintiel 1- tot 3-skole gemaak mag word en dat provinsiale onderwysdepartemente daaraan gebonde is,” het sy gesê.

Volgens Buys bedryf die helfte van Fedsas se sowat 1 800 ledeskole voedingskemas, waarvan 85% van hierdie skole dit reeds met hul eie geld doen.
“Daar word gemiddeld 77 leerders per skool gehelp,” het Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, gesê. Volgens Colditz sal skole wat die meeste vrystelling van skoolgelde gee die swaarste getref word. “Hierdie skole sal dus nie geld hê om met die voedingskema voort te gaan indien die provinsiale departement op aandrang van Tesourie hierdie betaling staak nie.”

Fedsas het ’n dringende beroep op die Tesourie gedoen om die besluit te heroorweeg. “Mense moet nie die fout maak om te dink dat daar nie ook honger kinders in kwintiel 4- en 5-skole is nie. Daar word gepraat van die voorsiening van tabletrekenaars aan leerders en dít terwyl van hierdie leerders honger in die klas sit en nie kan konsentreer nie,” het Colditz gesê.

Fedsas het ook gemeenskappe versoek om skole by te staan en betrokke te raak by die nood van kinders in skole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Annelien ·

Eks seker as hul die geld wat so nitteloos gebruik word vir Ministers woonings en Presidents vrouens sou daar genoeg geld gewees het om vir elke skool n ordentlike voedingsskema uit te werk.

Nie eers gepraat van handboeke en opgraderings wat hul by skole kan doen as hul net minder spandeer het op motors en 5ster verblyf verblyf ens.

Paul ·

Maak die som voordat jy “seker” is, Annelien.

Neem R250 miljoen.
Gestel een maaltyd per skooldag kos slegs R5.
Daar is ongeveer 250 skooldae per jaar (hoef nie hare te kloof daaroor nie).

Dit beteken R1 250 per kind per jaar.

Deel R250 miljoen deur R1 250.

Dit gee 200 000. Met ander woorde, met die geld vir Nkandla sou slegs tweehonderdduisend skoolkinders ‘n basiese maaltyd per dag kon kry vir slegs een jaar.
Dis nie vreeslik baie nie. Daar is baie meer behoeftige kinders in Suid-Afrika as dit, en hulle gaan nie net vir een jaar skool nie.

se-net ·

Hier word nie net v Nkandla se vermorsing gepraat nie! Daar word meer as R250 miljoen gemors per jaar deur regering!!!!!

Paul ·

Ongetwyfeld. My vorige kommentaar stel slegs die bedrae in perspektief. Net omdat daar “miljoen” agter ‘n syfer staan, beteken nie eintlik dis “oneindig baie” nie. Dis dikwels die indruk wat mens kry – iemand hoor “miljoen” en dink dan daardie bedrag kan enigiets doen.

Theresa ·

Kan jy dit nou glo?? Daar is nie geld om kinders kos te gee nie maar daar is geld vir Nkandla, Duur karre en toerusting, oorsese besoeke en lekker lewe. En wat het geword van die storie dat die parlement opgegradeer gaan word. Julle is idiote. Julle prioriteite stink. Julle bly maar gevoelloos en dink net aan julle self. Julle sal almal julle dag kry……………………..

Elizabeth ·

Ek weet nie hoe dinge deesdae by skole is nie maar toe my kinders op skool was was daar ‘n maklike manier om sulke kinders te help. Elke week het ‘n ander klas se kinders beurt gekry om ‘n ekstra broodjie (of meer, nes die ouers wil) saam te stuur skool toe. So het almal wat kon bygedra dat daar nie honger kinders is nie. En omdat elkeen nie elke dag ekstra broodjies hoef te neem kon regtig niemand kla dat daar ekstra van hul verwag word nie. Ek stem nogals dat gemeenskappe meer betrokke moet raak, ons leef so verby mekaar en sien nie altyd die, dikwels groot, nood om ons nie.

Phillip ·

Wel paul daardie geld kan meer goed doen as dit op die regte goed spandeer waar daar nood is as onbenullighede en dis wat annelien probeer sê. ‘n Miljoen gaan baie meer doen vir mense wat in nood is as wat dit vir mense gaan dien wat dit nie nodig het nie.

Piccolo ·

[Paul het gesê: “Ongetwyfeld. My vorige kommentaar stel slegs die bedrae in perspektief. Net omdat daar “miljoen” agter ‘n syfer staan, beteken nie eintlik dis “oneindig baie” nie. Dis dikwels die indruk wat mens kry – iemand hoor “miljoen” en dink dan daardie bedrag kan enigiets doen.”]

Nou toe nou, dit is dan presies dieselfde argument wat evolusioniste so graag voer: plak net daardie miljoene jare in die aanhef van enige wetenskapverslag, en die slag is gewonne- oor miljoene jare kan ‘n klip in ‘n mens verander…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.