Kinders kritiek ná ongeluk

Sewe mense is tydens die botsing beseer. (Foto: Verskaf)

Paramedici het Sondag gevorderde lewensondersteunende ingrypings op twee kinders toegepas nadat hulle ernstig beseer is tydens ʼn botsing in Noordwes. Vyf ander mense, onder wie een kind, het minder ernstige beserings tydens die voorval opgedoen.

Volgens Russel Meiring, ER24-woordvoerder, het twee motors by die aansluiting van die R500 en Potchefstroom-pad in Fochville gebots. Paramedici is 15:22 na die toneel ontbied en het die beseerdes langs die pad gewaar.

“Vier volwassenes en een kind kon daarin slaag om met matige tot geringe beserings uit die motors te ontsnap. Twee kinders, een in elke motor, was egter met ons aankoms op die toneel in ʼn kritieke toestand,” het Meiring gesê.

Reddingsdienste het die twee kinders met behulp van lewenskake uit die motors bevry en hulle op die toneel behandel.

“Die kinders is deur paramedici gestabiliseer en na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir verdere behandeling.”

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, maar die polisie was op die toneel en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.