Kinders kyk toe hoe jagluiperd ma aanval

Tanya Swanepoel kort voor die jagluiperd haar aangeval het.

Tanya Swanepoel kort voor die jagluiperd haar aangeval het.

WAARSKUWING: Die foto onderaan die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Tanya Swanepoel (34), ʼn ma van drie van Steelpoort in Limpopo, sterk tuis aan nadat sy Sondag by ʼn lodge in Middelburg, Mpumalanga, deur ʼn jagluiperd aangeval is.

“Dit was my tweede besoek aan die lodge. Ek en ʼn vriendin het ons kinders die dag daarheen geneem om lekker te gaan ontspan, min wetend wat op my sou wag,” het Swanepoel Woensdag aan Maroela Media gesê.

Swanepoel het gesê sy is ʼn groot diereliefhebber en wou nog altyd interaksie met wilde diere hê. “Die vorige keer toe ons daar was het ons met die welpies gespeel. Dis ʼn belewenis wat nie elke mens die kans kry om te doen nie. Dit was ʼn groot droom van my om met jagluiperds interaksie te hê en ook om op olifante te ry, maar ek is nou vir eers heeltemal daarvan genees,” skerts sy.

Sy sê sy is omstreeks 13:00 saam met ʼn hanteerder in die jagluiperd se hok in nadat sy ʼn vrywaringsvorm geteken het. “Ek het by die jagluiperd gesit en hom gevryf. Die hanteerder het foto’s van ons geneem. Toe ons opstaan om te loop toe dink hy seker ek lyk lekker en gryp my.”

Die jagluiperd het sy kloue in Swanepoel se linkerbors en regterboud ingeslaan waarna hy haar aan haar linkerkuit gebyt en sy kake gesluit het.

“Die hanteerder kon hom nie los kry nie. Sy het hulp ontbied en daar was later vier werkers. Hulle het die jagluiperd met water gegooi en sy snoet toegedruk, maar niks wou werk nie. Iemand het toe uiteindelik ʼn brandblusser gebring en die kat daarmee verjaag.” Dít het alles gebeur terwyl Swanepoel se drie kinders, onderskeidelik drie, ses en agt jaar oud, moes toekyk.

“Dit is moeilik om te sê, maar ek dink die aanval het sewe minute geduur. Dit was verskriklik seer. Ek het net gehoop dat ek nie my been gaan verloor nie. Ná die aanval het die personeel dadelik noodhulp toegepas en ʼn ambulans ontbied. My kinders is na die restaurant geneem om hulle nie verder te ontstel nie. ʼn Halfuur later was ek in die Life Midmed-hospitaal.”

Swanepoel is Dinsdag geopereer om die wond skoon te maak en te heg. Sy is Woensdag ontslaan. “Dit is nog te vroeg om te sê of daar permanente skade gaan wees. Daar gaan beslis letsels wees, maar ek is gelukkig in die opsig dat my bene en ligamente nie beskadig is nie.”

Sy het gesê sy moet Vrydag vir ʼn opvolgondersoek gaan en gaan na verwagting Maandag ʼn veloorplanting moet kry.

Swanepoel is vir niemand kwaad nie en het gesê sy hoop nie die jagluiperd word enige leed aangedoen nie. “Dit is wilde diere, nie huiskatte nie. ʼn Mens moet dit altyd in gedagte hou en besef daar is ʼn risiko. Ek sal weer die lodge gaan besoek, maar sal nie weer my voete in ʼn wilde dier se hok sit nie,” het sy bygevoeg.

WAARSKUWING: Die foto is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Sune ·

Ek admireer haar optrede na die tyd. Mooi so – dit bly ‘n wilde dier. Sterkte met die herstel en drukkies vir die kinders

Trudie Erasmus ·

Wel, jammer om te sê, maar sy het vir moeilikheid gesoek. Hulle bly ‘n wilde dier, gee nie om hoe mak hulle is nie. Hoop van harte sy het nie permanente skade nie.

Elbie ·

Ai tog! So bly jy is nie ernstig beseer nie. Ek is self n groot diereliefhebber, maar voel mens moet tog versigtig wees met wilde diere, hulle is wild en reageer op instink soos enige dier.

M A ·

Ek is net so mal oor diere en het die groot fout gemaak om Capuchin apies te koop. Hulle is ontsagtlik oulik en dierbaar maar byt as hulle geslagsryp is – nie net ‘n happie nie, maar ernstige byte. Hulle is nou permanent in ‘n hok, kry baie liefde en aandag maar sal nooit weer troeteldiere kan wees nie. Dit bly wilde diere en mense besef nie altyd hoe gevaarlik hulle is nie. Nog gevaarliker omdat hulle nie mense vrees nie. Ek is so bly hierdie voorval het nie in ‘n tragedie geëindig nie. Mense sal altyd wilde diere wil troetel en sal nooit dink dat hulle aangeval sal word nie. Ek dink hierdie soort voorvalle moet orals gepubliseer word.

HEVW ·

Hulle kan hom maar vankant maak of om hom weer aan die natuur teruggee en daar probeer laat aanpas. As dit eers eenmaal gebeur het, is die risiko baie groot dat dit weer sal herhaal.

Jakoba ·

Ai HEVW waarvoor moet alles boet met hulle lewens oor mense se onkunde. Jy draai nooit jou rug op ‘n jagluiperd as jy weg beweeg nie. Jy kan nooit ‘n jagluiperd of enige wilde kat vertrou nie al se die hanteerder wat. Die dier se natuurlike instink het oorgeneem. Waarvoor moet hy/sy vankant gemaak word.

Ansie Geldenhuys ·

Jammer oor die skade. Jou houding en uitlating dat dit ‘n wilde dier bly en dit is ‘n feit – het ek groot begrip voor. Self voel ek so oor dolfyne en moet myself ook gereeld aan die natuur herinner.

Patrys ·

Tanya, bly jy is darem ok. Ek wil jou net mooi vra om asb op te lees oor op olifante ry. Dis baie wreed wat daardie olifante moet deurmaak sodat jy dit kan doen. Moet dit nie ondersteun nie. Bly jy gaan ook nie weer in ‘n hok met ‘n wilde dier nie, hulle verdien om in die wild te leef, nie om op gesluit in ‘n hok te sit sodat mense aan hulle kan vat nie. Ongelukke gaan aanhou gebeur as mense teen die natuur werk.

Jakoba ·

Patrys ongelukkig kan jy nie ‘n jagluiperd wat aan mense gewoond is vrylaat nie. Of jy nou daarvan hou of nie. Daar is baie faktore wat ‘n rol speel hoekom daardie dier in die eerste plek in ‘n hok is. Dit kan wees dat daardie luiperd se mamma doodgemaak was en die welpie deur mense grootgemaak is. Die dier was dalk beseer ens. Ek voel ook baie sterk dat diere in die wild hoort maar ongelukkig moet daardie dier nou in aanhouding wees agv mense se optrede.

Jannes ·

Wilde diere kan nooit mak gemaak word nie, so ook nie wilde mense nie.

tanya ·

Wilde mense word nie maklik mak gemaak nie…

Maar hierdie ondervinding het my nou so mak soos n lammetjie. Ek wil nie eers dink aan enige adrenalien aktiwiteite nie.

Liesl ·

So baie mense kan ‘n les by jou leer. Ek bewonder jou uitkyk op die hele situasie. Jy besef daar was ‘n risiko en blameer niemand. Terwyl jy in pyn is, wens jy die kat geen kwaad toe nie. Pragtige mens, word gou gesond en ek hoop jou kinders verwerk ook die hele aaklige gebeurtenis goed. Ek glo met so wonderbaarlike ma sal hul dit kan verwerk. Sterkte vir julle.

Jaco Grobler ·

Nou dink ek biedjie verder aan die gewilde ‘persepsie’ en sêding van ”wilde dier bly altyd wild’. Is dit regtig so? Wat van honde wat mense byt, daar is baie meer sulke gevalle as ‘wilde diere’ wat mense byt? Daar is ook baie ‘wilde diere’ wat nooit iemand takel nie. Die selfde geld vir mense wat in ‘n oomblik van blinde woede jou kop kan afblaas omdat jy per ongeluk oor ‘n stopstraat ry….

emma ·

Waar woorde! Mense word gedurig teen wilde diere gewaarsku maar ek dink by ons mense is die skeidslyn tussen opgevoed en barbaars baie baie dun.

tanya ·

Gelukkig soek ek nie simpatie nie. Ek wil net hê mense moet verstaan dat die risikos nie uitgedink word nie… maar n werklikheid is. Al is die kans minimaal… die kans is nog daar

joe ·

Baie sterkte, hoop jy voel gou beter. Ek hoop dis n les vir die mense wat haar en ander mense in die hok laat ingaan. Wat as dit een van die kinders was? Die publiek is nie altyd kundig oor die tipe goed nie. Is die eerder die plig van die personnel/eienaars on seker te maak die besoekers is veilig. Anyway baie bly dit kon erger gewees het.

Linda ·

God sê en baie duidelik daars mak diere en wilde diere,respekteer God se skepping! Ek bewonder hul van afstand,my hond sal ek n drukkie kom gee,sterkte hoop jy gou beter!

Karin ·

Ek stem saam dat die personeel van die Lodge nie onskuldig in die saak staan nie. Ek kan net dankie sê dat God my kind se lewe gespaar het en bid vir ‘n spoedige herstel.

Yvette Mitchell ·

Hi Tanya,
Ek hoop jy sterk gou aan, en sterkte vir die pad wat voorlê. Dink aan jou.

marianne ·

Tanya ek is dankbaar dat jy nie etenstig bearer is nie. Ek voel aardig dat jou kinders die trauma moes aanskou. Die luiperd glo ek wou net speel en het soos my tierboskatjies gas gehou sodat jy langer moet bly. Ek glo werklikwaar nie dat dit sy doel was om jou te beseer nie. Ek hoop van harte dat jy sal genees maar ook dat die lodge hom sal red en verskuif. Dit wat gen

Se Maar Net ·

Ai Tanya, jong daardie been lyk erg seer. Hoop jy word gou gesond. Ons mense doen soms snaakse dinge, en as dit kom by diere tree hulle maar net op soos hulle dink is reg.

Hoop jou been herstel mooi, en dat jy heeltemal okey sal wees. Ek is baie bly jy is lewend uit die hok. Sterkte vir jou en jou gesin.

Kyra ·

Ek was al by ‘n soortgelyke lodge gewees. Sal nie weer so lodge ondersteun nie. Die leeuwelpies word aan hoeveel mense en ongemanierde kinders blootgestel, terwyl hulle net wil slaap, omdat hulle nog so klein is. Die jagluiperds moet maar rustig sit, terwyl die hoeveelste mens aan hulle vat en die tiertjie moet weer saam met gaste gaan swem, al is hy hoe moeg, want die mense soek waarde vir hulle geld.

elizabeth ·

simpatie met haar herstel, hoop nie die luiperd sal uitgesit word nie.

tanya ·

Hi, terwyl ek vir die ambulans gewag het, het ek die mense gevra om dit asb nie te doen nie. ‘n wilde dier bly wild, al is hy hoe mak. Hulle sal dalk maar net moet let op volgende besoeke.

Schalk ·

Tanya. Ek is bly jy het gevra dat hy nie uitgesit moet word nie. Hopelik leer n paar mense iets uit hierdie gebeure. Dat hulle hom sal moet skuif is n feit, hy sal nie weer vertrou kan word tussen mense nie.

Liza ·

Hi Tanya.
Ek bewonder jou goeie houding oor alles wat gebeur het, dis wonderlik! Ek bid dat daar geen permanente skade is nie en dat die seuns geen emotionele letsels sal oorhou nie!
Word gou beter xxx

Hettie ·

Sterkte Tanya! Ek is mal oor tier maar sal nooit tier vryf of nader nie want weet hulle is wilde diere!

Natalie ·

Tanya Alle sterke toe aan jou. Mag jou ondervinding jou net sterker maak. Wilde diere sal altyd wilde diere bly en as iets hulle die dag krap gaan iets of iemand twede kom. Een ding wat ek geleer het is om soveel kennis en navorsing te doen oor diere voor jy met hulle gaan “interact” . Sterkte vir julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.