Kinders onder 12 mag nie in hegtenis geneem, aangekla word

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Kinders jonger as 12 jaar oud mag nie meer deur die Suid-Afrikaanse Polisie in hegtenis geneem of aangekla word nie en mag ook nie vir die pleging van ’n kriminele oortreding vervolg word nie.

Dit kom nadat wysigings aan regulasies van die Wet op Kindergeregtigheid goedgekeur is en nou ’n aanvang geneem het.

Gevolglik is die minimum ouderdom vir kriminele toerekeningsvatbaarheid nie meer 10 jaar oud nie, maar nou 12 jaar oud. Indien ’n kind jonger as 12 jaar oud ’n misdaad pleeg, moet dit buite die strafregstelsel deur maatskaplike werkers hanteer word wat die kind na ’n kinderhof kan verwys vir aanwysing.

Kinders 12 jaar of ouer maar jonger as 14 jaar word steeds veronderstel om nie kriminele vermoë te hê nie en die staat moet hul kriminele toerekeningsvatbaarheid bo redelike twyfel in ’n kinderhof bewys.

Dit beteken dat kinders in dié ouderdomsgroep wel deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens in hegtenis geneem en aangekla kan word indien hulle ’n kriminele oortreding pleeg, maar dat die staat moet bewys dat hulle die vermoë gehad het om die verskil tussen reg en verkeerd en die vermoë om op te tree te besef het.

Suid-Afrika het die Verenigde Nasies se Konvensie op Kinderregte reeds in 1995 onderteken en bekragtig, waarna die Kindergeregtigheidswet op 1 April 2010 in werking getree het ten einde te voldoen aan die verpligtinge van die konvensie.

Volgens Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van justisie en korrektiewe dienste, het die Wet op Kindergeregtigheid die minimum ouderdom van kriminele toerekeningsvatbaarheid van kinders van 7 jaar tot 10 jaar verhoog.

Die Verenigde Nasies se Komitee oor Kinderregte het volgens Phiri voortdurend sy kommer uitgespreek rakende die groot verskille internasionaal in die vasstelling van ’n minimum ouderdom vir kriminele toerekeningsvatbaarheid.

Die komitee het aanbeveel dat lande wat die konvensie onderteken het, die minimum ouderdom van kriminele toerekeningsvatbaarheid progressief moet verhoog waar moontlik. In Oktober 2019 het die komitee ondertekenaars van die konvensie aangemoedig om die minimum ouderdom vir kriminele toerekeningsvatbaarheid dienooreenkomstig te verhoog tot minstens 14 jaar oud.

“Na die verskillende wetgewende prosesse is die Wet op Kindergeregtigheid behoorlik gewysig om te verseker dat Suid-Afrika aan die aanbeveling van die komitee voldoen.”

Pres. Cyril Ramaphosa het die wysiging verlede week goedgekeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

KatjieDeKat ·

Kinders moet van kleins af geleer word dat kriminele aktiwiteite hulle dood kan veroorsaak wanneer hulle ouer is! Dit geld nie net vir SA nie. Kinders van van 12 weet al baie meer vd lewe as toe ons kinders was, dmv die internet en sosiale interaksie met vriende, flieks en TV. So hul ouers behoort hul gereeld te herinner dat meeste kriminele in die tronk beland Of eenvoudig n korter lewensverwagting het, agv die mense met wie hulle assosieer. Ek is seker hulle kan dit goed verstaan op 12 jarige ouderdom. Hier is die ding: Jy bly nie altyd n kind nie. As jy ouer is gaan jy jou moses teekom met Of die gereg, Of ander kriminele. Of met eerlike ordentlike mense wat nou maar net Genoeg gehad het van die kriminele se prooi te wees.

Trotse Boervrou ·

Nou gaan ons sien hoe skerp die inbraaksyfer, ens styg. Dit raak al hoe lekkerder vir kriminele in die land. Die kinders word gebruik om in te breek by huise want hul pas baie gemaklik deur vensters en diefwering. Ons moet nou maar ons diefwering begin aanpas om by die kriminele se regte te pas. ‘n Kind van 11 is, volgens my, beslis toerekeningsvatbaar. Kyk wat doen hul al alles op hierdie ouderdom. Dink net hoe lekker dit nou in laerskole sal gaan met onderwysers wat reeds so swaar kry. Ek kan net my hande saamslaan. Uiters verstommend.

Elize ·

Daar is kinders onder 12 wat reeds geharde kriminele is. Waar gaan dit stop? So die bloedjies kan doen wat hulle wil want hierdie siek wet beskerm hulle

Di ·

Ek sien baie probleme aan die kom! Hoekom nou skielik hierdie verandering, vra maar net.

Nici ·

Lees die VN se Agenda 2021 en daarna. Ouers het nie meer regte nie en dit gaan baie erger raak.

Eugene ·

Verstaan nie mooi waar dissipline vandaan gaan kom nie want jy mag hulle nie tug nie en nou is dit erger hulle kan doen wat hulle wil

Nici ·

Mens moet besluit aan wie jy gehoorsaam is, die regering of God. Tug is Sy opdrag.

AmY ·

So, ‘n kind van twaalf mag nou sy onderwyser met ‘n mes aanval of selfs vermoor, en hy ‘gaan wegkom daarmee…’

marius ·

Tien jaar oud en kan nie onderskei tussen reg en verkeerd nie ? Dis omdat gatslae ‘n vloekwoord geraak het . Pateties !

Laksman ·

So die boompie MAG nie meer gebuig word terwyl dit jonk is nie

Cecilia ·

Dit is ‘n massiewe fout.

Ek het al kinders gekry so jonk as 8 en 9 wat terreg gestaan het vir verkragting en heeltemal bewus was van reg en verkeerd.

Om die ouderdom te lig gaan die statistiek minder maak maar nie die vrot appels uitwis nie.

Anel ·

Babas weet al op ‘n jong ouderdom wat reg en verkeerd is, al kan hulle nog nie eens praat nie. Nou wil jy vir my kom vertel ‘n laerskool kind van, 10/11/12 weet nie wat reg of verkeerd is nie? Kweek die kriminele jonk. As ek so een vang inbreek by my, sal dit sy laaste keer wees. Hierdie regering het heeltemal mal geword. Verder kan mens maar net jou kop in ongeloof skud!

piet ·

Dis ‘n fout. ‘n Kind van 12 is al amper uit die laerskool uit. Ek sien ‘n paar 12-jarige moordenaars wat gaan vrye teuels he (en waarskynlik deur sindikate ingespan gaan word). Ek bedoel, ‘n 12- jarige kan maklik ‘n vuurwapen bemeester byvoorbeeld.

piet ·

In my tyd was die ouderdom van kriminele ontoerekeningsvatbaar minder as 7-jaar. Deesdae se kinders is meer wereldwys, so hoe nou. Maak nie vir my sin nie.

Net_My_Opinie ·

Dit voorspel net probleme vir die toekoms en gee kriminele net nog ‘n “loophole” om weg te kom. Op daardie ouderdom weet hulle presies wat hulle doen and moet dan maar die gevolge daarvan dra. Ons is spoedig op pad na lande soos VSA en Britanje waar jong mense absoluut geen respek het nie en ook geen verantwoording vat vir hul aksies nie. Maar asb ja, “los hulle, hulle is mos kinders”.

Nici ·

Als wat die VN kwytraak neem ek met ‘n knippie sout. Dekade of wat gelede in Engeland het twee sewejariger ‘n jonger kind verkrag en doodgemaak. Ek skat dis ok?

Suzette ·

Genade, hierdie is groot probleme vir ons land in die toekoms. Vandag se kinders is baie slim en weet definitief lank voor 12 wat is reg en wat is verkeerd. Ek was nou die dag geskok om te sien hoe 4, 6 jariges sit en gom snuif en net daarna gemaklik ‘n sigaret aansteek en rook. Dit op die platteland. Ons regering loop met toe oë of is eenvoudig net te “dom”, om dit raak te sien. Wat hul kweek is super respeklose krimenele.

Dawid ·

So jy is oud genoeg om te besluit watse geslag jy wil wees en of jy entstof wil kry maar nie oud genoeg om verantwoordelikheid te vat vir jou kriminele gedrag. Waar gaan dit stop?

miche ·

Het die derduisende swanger skoolmeisies van net 9 jaar dalk iets met hierdie besluit te doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.