Kinders ontvoer: Polisie soek dié man

‘n Identikit van die man wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan.

Die polisie het ʼn identikit saamgestel van een van die drie onbekende mans wat na bewering by ʼn huis naby Witbank ingebreek en twee kinders ontvoer het.

Kol. Mtsholi Bhembe, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het gesê die polisie hoop die identikit sal hulle met hul soektog na die verdagtes en kinders help.

Die voorval het Sondag in die vroeë oggendure by ʼn huis in Vosman plaasgevind waar ʼn 50-jarige vrou saam met haar kinders en kleinkinders woon.

“Volgens inligting wat aan die polisie beskikbaar is, het die drie toegang tot die huis verkry deur die sit-en-eetkamer se venster te breek. Die vrou en haar 18-jarige dogter het die geraas gehoor en gaan ondersoek instel, waarna ʼn vuurwapen op hulle gerig is. Hulle is dadelik beveel om stil te bly,” het Bhembe gesê.

Die verdagtes het toe twee kinders, ʼn 15 maande oue baba en ʼn 13 jarige albino-meisie, uit verskillende kamers gegryp en in die donker op die vlug geslaan en verdwyn.

“Die twee vroue het hulp ontbied en lede van die gemeenskap het dadelik na die skurke begin soek terwyl die polisie ook ʼn volskaalse soektog na die kinders en verdagtes van stapel gestuur het.”

Niks is tydens die voorval geroof nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisbraak en ontvoering.

Enigiemand met inligting oor waar die verdagtes en kinders hulle mag bevind, word versoek om kol. One Thobejane by 082 372 2195 of Stop Misdaad by 08600 10111 te skakel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dikkes ·

Genade as ek hom in die nag moet sien, wys ek hakskene, ek hardloop maan toe en terug in ‘n rekord tyd.

Cherokee ·

Hardloop maan toe en terug? Met die terugkeer sal jy die k’s in jou naam met n’e verander.

Beanie ·

Ek kan eerstens nie glo dat hierdie man nog nie iewers erken is nie…tweedens watter mens ontvoer 2 kinders…wat is die doel daarvan, ons weet almal wat hulle planne is met die albino meisie en dis aaklig om te dink hulle gaan daardie babatjie heelwaarskynlik leed aandoen…ek kan nie verstaan hoekom ons land se kinders deur sulke trauma moet gaan nie…

wilma ·

Bid dat die kinders ongeskonde gevind word. Wat ‘n pragtige babatjie!

Ja ne ·

Ek bid ek is verkeerd. Maar dit klink vir my na n muti affere die. Mag daardie kinders ongeskonde gevind word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.