Kinders se noodkrete deur hulplyne aangehoor

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Laer- en hoërskoolleerders landwyd gaan daagliks onder maatskaplike kwessies gebuk wat hulle nie maklik met ʼn volwassene wil deel nie. Selfs volwassenes staan soms by ʼn kruispad oor ʼn maatskaplike kwessie met geen idee na wie hulle kan draai vir hulp of raad nie.

Daarom het Danie van Loggerenberg van die Child Protection Hotline-organisasie besluit om ʼn platform te skep wat ondersteuning en raad op ʼn veilige, anonieme wyse aan kinders en volwassenes kan bied. Die hulplyne dien hoofsaaklik as ʼn kommunikasielyn om dié sake by die owerhede aan te meld.

Daar is tans 40 hulpnommers landwyd asook ʼn nasionale nommer beskikbaar wat 24 uur per dag deur welsynswerkers en beradingstudente beman word. Van Loggerenberg en sy span vat ook hande met die polisie om onder meer sake van huishoudelike geweld, aanranding en verkragting op te volg.

“Op ons besigste dag het ons al 148 oproepe ontvang,” vertel Van Loggerenberg, ook hoof van die Toys for Africa-organisasie, aan Maroela Media.

Dié organisasie het reeds in 2010 ontstaan en verskaf onder meer opvoedkundige speelgoed, skryfbehoeftes en tandeborsels aan kinders by skole oor die land. Van Loggerenberg en sy span bied ook praatjies aan waar hulle met die kinders oor Christenskap en die liefde van die Here gesels.

“Die Child Protection Hotline-inisiatief het juis ontstaan uit die werk wat ek en die Toys for Africa-organisasie by skole doen. Ek het daar die behoefte van ondersteuning aan kinders met huislike probleme raakgesien,” sê hy.

“Hoofde en onderwysers by die skole het ons vertel van boelies en kinders wat by die huis seergemaak word en hoe hulle sukkel om die gevalle aan te meld weens rompslomp wat deur wetgewing veroorsaak word.”

Daarom het Van Loggerenberg homself die reusetaak opgelê om hulplyne te skep waar kinders en volwassenes sulke gevalle kan aanmeld en leiding deur maatskaplike werkers kan kry.

“Ek het besef dat dit regtig swaar gaan in sommige huise en dat kinders meer nodig het as net skryfbehoeftes. Ek het ná talle gesprekke met die Here die antwoord gekry oor wat ek nog kan doen om dié behoeftige kinders by te staan.

“Die Child Protection Hotline het toe in September 2019 gestalte gekry,” sê hy.

Wat eers ʼn klein begin was vir een of twee gebiede in Gauteng, is nou ʼn groot organisasie wat mense in nood landwyd bystaan.

“ʼn Kind wat by die huis seergemaak word deur iemand wat hulle vertrou, sal sukkel om te glo dat ʼn vreemdeling oor hulle probleme omgee. Daarom maak ek seker dat ek by soveel skole moontlik uitkom om ʼn bekende gesig daar te raak, sodat hulle kan sien wie dit is wat omgee vir hulle.

“Die grootste doel met die hulplyne is om ʼn aanmeldingsfasiliteit te wees, want ek kan ongelukkig nie self elke kind se probleme hanteer nie.”

Die hulplyne is ook van sodanige aard dat kinders wat nie kan bel nie, ʼn SMS of WhatsApp-boodskap kan stuur waarop Van Loggerenberg se span dan reageer.

“Ek werk regtig saam met ʼn ongelooflike span wat elke noodkreet op die hart dra,” sê hy.

Weens die pandemie het sy wisselwerking met die kinders by skole verlore gegaan, maar die hulplyne het van krag tot krag gegroei. Dié nommers is op die organisasie se webwerf beskikbaar.

Tot op hede het meer as 500 000 kinders al gebaat by die Toys for Africa- en Child Protection Hotline-organisasie.

“Ons kinders het hulp nodig. Hulle is in dieper moeilikheid as wat ons ooit sou kon dink. Ons werk is nog lank nie klaar nie,” sê Van Loggerenberg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Surfer ·

Nou wonder ek waar moet die kinders die hulp lyn nommers kry?

Shakespeare ·

Kinders wat nie “child abuse” probleme het nie. Waar bel mens as dit ‘n reeks ander probleme is en……… gaan die telefoon geantwoord word deur iemand wat opgelei en ervare is want deesdae is verreweg nie opgelei of kultuur vaardig om probleem situasies op te los nie.

Zombie ·

In die berig word genoem dat die telefone deur welsynswerkers en beradingstudente beman word.

Misky ·

Daar is nog engele en opregte mense op aarde wat net goeie bedoelings het. Dankie en geseend is julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.