Kinders sterf in stormwatersloot: Ambulanstoerusting was glo foutief

Oorstromings in Pretoria (Foto: Stad Tshwane/Twitter)

Die Stad Tshwane soek antwoorde by die waarnemende Gautengse LUR van gesondheid, Jacob Mamabolo, oor die beweerde foutiewe toerusting van die Gautengse provinsiale ambulansdiens wat Saterdag op die toneel van die tragiese verdrinkingsvoorval in Hammanskraal, noord van Pretoria, gebruik is.

Drie seuns het vermoedelik verdrink in die stormweer en hul liggame is die Saterdagmiddag net voor 17:00 in ʼn stormwatersloot in Hammanskraal gevind. Die sloot was glo nog in aanbou.

Lede van die publiek het na bewering op die liggame van die seuns, tien en nege jaar oud, in die stormwatersloot in Tambo-uitbreiding 1 naby die verkeerskantoor afgekom. Water het in die  sloot opgedam weens die naweek se swaar reën in die omgewing.

“Volgens die gemeenskap was die provinsiale ambulansdiens heel eerste op die toneel. Dit word beweer dat die toerusting wat hulle gebruik het foutief en wanfunksioneel was,” sê Karen Meyer, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en nooddienste.

“Dit is ’n groot bron van kommer, want die kinders se dood kon potensieel voorkom word. Dit laat ernstige vrae ontstaan oor die kapasiteit en bedryfsgereedheid van die Gautengse provinsiale ambulansdiens wat in Tshwane ontplooi is.”

Meyer het Dinsdag ʼn brief aan Mamabolo gerig om antwoorde oor die beweerde foutiewe toerusting  te eis.

“Ek het gevolglik ook versoek dat die waarnemende LUR gedetailleerde inligting oor die kapasiteit en operasionele gereedheid van die provinsiale ambulanse wat Tshwane bedien aan die stad verskaf.”

Verder het die ANC se Tshwane-streek hul teleurstelling uitgespreek omdat die nodige veiligheidsmaatreëls op die bouterrein waar die sloot in aanbou was, nie getref was nie.

“Dit is teleurstellend dat arbeidsveiligheidsmaatreëls nie voldoende onderhou is deur kontrakteurs en diegene wat verantwoordelik is vir die bestuur daarvan nie. Ons gee erkenning aan die vinnige optrede deur die wyksraadslid en die leierskap van die stad  om die saak so gou as moontlik te hanteer,” het die ANC in ʼn verklaring gesê.

“Diegene wat nalatig was om die veiligheid van die terrein te verseker, moet verantwoordelik gehou word vir hierdie voorval.”

Die ANC het sy medelye aan die seuns se families betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Smurf

Soos gewoonlik..geen onderhoud en instandhouding…..geen beplanning….. geen matrieels word nagekom…geen verandwoordelikheid.