Kinders sterk aan wat snoepgoed eet

Die ingang na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto. (Foto: Thabiso Makelo/Panoramio)

Drie kinders wat siek geword het nadat hulle snoepgoed van ʼn spazawinkel geëet het, sterk aan óf by hul ouerhuis óf by die hospitaal.

Dit nadat twee kinders reeds Sondag dood is nadat hulle koekies en sap by ʼn spazawinkel in Soweto gekoop het, dit ingeneem en begin siek voel het.

Die Gautengse departement van gesondheid sê die drie ander kinders wat dieselfde snoepgoed geëet het, vaar beter sedert die voorval.

ʼn Driejarige seun is tans besig om by sy ouerhuis te herstel, terwyl nog twee kinders by die Chris Hani Baragwanath-akademiese hospitaal aansterk.

“ʼn Vierjarige seun herstel goed en sal na verwagting binnekort uit die hospitaal ontslaan word,” sê die departement.

“ʼn Sesjarige meisie is egter nog in ʼn kritieke toestand in die hospitaal se intensiewesorgeenheid, maar sy is stabiel.”

Die departement vermoed in hierdie stadium dat die kinders erge voedselvergiftiging opgedoen het.

“Die oorsprong van die voedselvergiftiging is nog nie bevestig nie, en is onderhewig aan die polisie se ondersoek.”

Die polisie het monsters geneem om verder te ontleed.

ʼn Span van die departement het Dinsdag en Woensdag die gesinne van die kinders besoek om ondersteuning en berading te bied. Hulle het ook tydens hul besoek die inhoud van die huise ondersoek.

Matome Chiloane, Gautengse LUR vir onderwys, sê die noodlottige voorval dien as ʼn herinnering dat sy eie departement meer moet doen om bewustheid oor die regte hantering van kos onder gemeenskappe te skep.

Die departement het Woensdag reeds begin met ʼn opvoedkundige veldtog oor die hantering van kos, voedselveiligheid en die belangrikheid daarvan om ag te slaan op vervaldatums op voedselitems.

Die departement beywer hom ook om die inwoners van Naledi en die omliggende gebiede bewus te maak van die simptome van voedselvergiftiging en wat hulle kan doen wanneer die simptome opgemerk word.

Die veldtog sal na verwagting vir die res van die week voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Delia ·

Mr Chiloane. Jy moet ook byvoeg dat jou departement meer inspeksies moet doen.

Casper ·

As immigrasiebeampte het ek hordes spesiale operasies saam met gesondheid,SAPS en SARS uitgevoer en vervulde produkte is van die rakke afgehaal.Die mees algemene produkte was blikkieskos,spaghetti,baba pap,purity en konfye.Ek praat van miljoene rand se goedere.Die publiek het vervulde produkte polisiestasies toe geneem en dan is die winkel gesluit vir gesondheid om op te treë.Spaza eienaars haal nie die vervulde produkte van die rakke af nie en verkoop dit ongeag die gevare wat dit inhou.

Karoo ·

Casper, wil jy nie weer kom hand by sit nie. Jy praat met trots oor jou werk, ons kort meer Manne soos jy!

Bolandse Nooi ·

Kos is dikwels nog heel eet- en bruikbaar al is dit naby of pas-verby hul vervaldatum. Ek het al kos wat verval het, geëet en hier staan ek nog steeds sterk. Dit gaan oor higiëne en veilige voedselvoorbereiding. Ek bedoel, wat VERWAG jy as jy “street meat” koop van ‘n oop, straat ‘slaghuis’? Dat dieselfde higiëne-praktyke in plek sal wees as by ‘n geregistreerde slaghuis, met verkoelingsfasiliteite? Hierdie “snoepgoed” wat die kinders geëet het – as ek nou reg onthou – het dagga bevat???

Karoo ·

Jy weet, noudie dag vat ons die lang pad see toe, daar in Mosselbaai naby die hawe is ‘n winkel op die hoek wat baie besigheid doen, ons het gaan loer wat die groot “Bohaai”nou eindlik is . Meeste van die goed is van groot bekende handelsmerke, ander in’ n ander taal, selfs bruistablette van wie weet waar, alles gaan binnekort verval maar meeste het reeds verval. Somige goed word bestandele ook nie eers gelys nie. Dis nou in Mosselbaai mense…. ons stap toe uit want so iets kan ek nie ondersteun nie.

Bolandse Nooi ·

Dom kry soos wat Dom doen. As jy lank-reeds vervalde voedselitems of goed koop wat ingevoer is uit ‘n land waarvan jy nie eens die taal kan verstaan of lees nie, moet jy maar vat wat na jou kant toe kom. Daar is die “Best Before” winkels wat naby-vervaldatum goedere verkoop wat BAIE goedkoper is as jou goedere op die gewone winkelrakke en daar is niks mee verkeerd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.