Kinders tydens moontlike kaping ontvoer

Die vier kinders wat ontvoer is. Hul name is nog nie bekend gemaak nie [Foto: Verskaf]

AfriForum in Polokwane het lede van die publiek gevra om op die uitkyk te wees vir ʼn silwer Toyota Fortuner wat Woensdagoggend by die beweerde ontvoering van vier kinders betrokke was. Die kinders was op pad skool toe en is tussen ses en 15 jaar oud.

Volgens Andries Opperman, provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo, is AfriForum omstreeks 08:30 van die ontvoering ingelig.

“Die kinders was volgens inligting op pad na Curro Heuwelkruin waar hulle skoolgaan. Die betrokke Fortuner het glo die silwergrys BMW – waarin die kinders gery het – van die pad af gedruk,” bevestig Opperman.

Volgens Opperman is die BMW gekaap en na bewering by die N1-afrit by Penina Park langs die pad gelos. Dié afrit is ongeveer 12 km van die skool af geleë.

“Die kinders is glo in die Fortuner gelaai en dié het verdwyn. Die bestuurder van die motor (wat nie een van die kinders se ouers is nie) is in die BMW agtergelaat, maar die kinders, onderskeidelik 15, 13, 11 en ses jaar oud, is ontvoer.”

Opperman sê die laaste keer dat die Fortuner gesien is, was op die N1 in die rigting van Louis Trichardt.

“Die kinders se ouers is van die kaping ingelig.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur. Meer inligting sal volg sodra dit ontvang word.

Enigiemand met inligting oor waar die silwer Fortuner is, kan die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 of hul naaste AfriForum-buurtwag skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Diline

Hulle soek wees losprys geld! Daar is deesdae baie ontvoerings van mense wat baie geld het. Sindikaat wat hierdie ontvoerings beplan in SA.

Patch

Begin by die bestuurder van die BMW…

Misky

Ek hoop en bid hulle word vinnig en ongedeerd gevind. Die arme ouers moet sekerlik vreeslik bekommerd wees. Ontvoerings ruk nou handuit in ons land.

Hexi

Dalk ook weer ń “custody battle”, gewone ontvoerders sal nie ń ooggetuie sommerso agterlaat nie…

Dries

Dit raak onhoudbaar in die land