Kinders uit onwettige Islam-akademie in KZN verwyder

Argieffoto

Argieffoto

Maatskaplike werkers het 12 kinders uit ʼn onwettige Islam-akademie in Wasbank, KwaZulu-Natal, verwyder nadat twee kinders uit die instelling ontsnap het.

“Altesaam 18 mense, waaronder die 12 kinders, is in ʼn saal aangehou met 10 stapelbeddens,” het Weziwe Thusi, provinsiale  LUR  van maatskaplike ontwikkeling, in ʼn verklaring gesê. “Die kinders en jeugdiges het nie enige formele opleiding ontvang nie, en het slegs die Koran studeer.”

Alhoewel die Sabalalisa Iqiniso Dawah-akademie ʼn geregistreerde nie-winsgewende organisasie is, het die instelling nie toestemming om kinders daar te huisves nie. Die toelatingsvorms waaroor die akademie glo beskik is glo deur die kinders self onderteken.

ʼn Instrukteur en vyf jeugdiges wat glo onwettig in die land is, is in hegtenis geneem.

Die LUR het die polisie en maatskaplike werkers geloof vir hul vinnige optrede. “Die saak is verlede week onder ons aandag gebring,” het Thusi bygevoeg. “Maatskaplike werkers het hard gewerk om te bepaal onder watter omstandighede die kinders gehou word. Hulle het die akademie besoek en bepaal dat die instelling die Kinderwet oortree. Die nodige stappe is gedoen.”

Volgens Thusi het die departement van die bestaan van soortgelyke instellings bewus geword. Maatskaplike werkers van die departement sal saam met die polisie werk om die saak verder te ondersoek.

Die kinders wat uit die instelling verwyder is, word tans in twee van die departement se kinderhuise gehuisves totdat daar met hul ouers kontak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Benita ·

Dis goed so. Van wanneer af kan kinders self dokumentasie onderteken?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.