‘Kinders verdien meer as leë woorde,’ sê Kinderhuis

Argieffoto

Terwyl pres. Cyril Ramaphosa die afgelope Sondag geslagsgebaseerde geweld veroordeel het, is sy woorde slegs lippediens vir Suid-Afrika se mishandelde en verwaarloosde kinders. Die presidensie toon nie ʼn verbintenis tot aksie nie.

Só sê die Abraham Kriel Kinderhuis (AKK) in Nylstroom wat reeds Desember verlede jaar ʼn memorandum aan die presidensie oorhandig het oor die mishandeling van kinders en die stappe wat daarteen gedoen moet word. Volgens die kinderhuis het die presidensie tot vandag toe nog nie op die memorandum gereageer nie.

Volgens Marlene de Villiers, bemarker van die kinderhuis, is 41% van die slagoffers van verkragting in Suid-Afrika kinders en is dringende optrede nodig.

“In ons memorandum het ons genoem dat slegs een uit elke nege kinders voldoende vertroue in kinderbeskermingsdienste het om mishandeling aan te meld. Aangesien slegs 6 tot 7% van die aangemelde gevalle skuldigbevinding tot gevolg het, is dit nie verbasend nie,” sê De Villiers.

“Pres. Ramaphosa beweer dat die howe al hoe meer vonnisse vir lewenslange tronkstraf oplê vir statutêre verkragting, roof en verswarende vonnisse wat verkragting behels. Sulke stellings moet met konkrete statistieke en duidelike aksieplanne gekwalifiseer word om ernstig opgeneem te word.”

Die kinderhuis het onder meer in sy memorandum voorstelle vir ʼn aksieplan gemaak, maar dit is nie duidelik of die presidensie kennis van hierdie voorstelle geneem het nie.

“Ons het genoem dat daar ʼn behoefte aan spesiale opleiding vir die polisie, mediese beamptes, distriksgeneeshere, howe en staatsaanklaers bestaan. Ons het verder opgemerk dat die integrasie van verskillende departementele pogings in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld nodig is. Die behoefte aan beskerming van die waardigheid van die slagoffer in die hof, vinnige reaksie en vroeë ingryping is ook genoem.”

De Villiers sê die kinderhuis wil die presidensie uitdaag om ʼn opregte verbintenis tot die nuwe geslagsgebaseerde geweldswetgewing aan te gaan en op hul memorandum te reageer en daarby betrokke te raak.

“Sonder sulke optrede bly Ramaphosa se woorde blote woorde. Ons kinders verdien meer as lippediens.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Soos alles in die ANC sal dit net lippediens wees.

Wielspore

Die ANC regering onderhou geen stelsel, van onderwys tot medies en vele ander, die enigste stelsel wat die ANC goed kan onderhou is hulle eie finansies.

skurweberg

As dit so is dat die grootste groep belastingbetalers uit een rasgroep afkomstig is, moet hulle almal deelneem aan die belasting-verset wat tans aan die orde is. Belastingbetalers moet vir hulle eie mense begin sorg en VAN hulle belasting wat aan die regering betaal word in ‘n trust inbetaal. Voorwaarde die trust moet deur betroubare en bekwame mense bestuur word, sodat die instansies soos die’ en ander gehelp kan word om te oorleef. Dit sal die toets van ‘n wettige belastingprotes slaag. Die dae om politieskorrek te wees in hierdie opsig is verby!! As dit die toets van regverdigheid deurstaan… Lees meer »