Vier kinders tussen die ouderdomme van drie en 11 jaar is Sondag dood nadat hulle ʼn toksiese middel ingeneem het by ʼn stortingsterrein in Motherwell naby Uitenhage in die Oos-Kaap.
“ʼn Sewejarige het die beproewing oorleef,” sê kapt. Andre Beetge, polisiewoordvoerder in Motherwell.
Die Motherwell-gesondheidsentrum het die kinders behandel en die polisie net ná 18:00 Sondag in kennis gestel dat kinders besig is om dood te gaan weens vergiftiging.
Die driejarige Alunamda Mqawu is dood met sy aankoms by die sentrum . Sy suster, die 10-jarige Zintle Mqawu, en nog ʼn broer en suster, Alizwa Rhwayibana (5) en Asive Rhwayibana (11), is dood terwyl hulle behandeling by die sentrum ontvang het.
“Die sewejarige Asiphile Grootboom is later die middag met soortgelyke simptome ingebring, maar het oorleef nadat hy behandeling ontvang het,” sê Beetge.
Volgens Beetge is al die kinders vriende en was hulle glo besig om op die stortingsterrein naby hul huis te speel toe hulle van die kos op die terrein geëet het.
“Daar is gerugte dat hulle kaas en skyfies geëet het, maar die polisie sal eers ʼn beter idee hê van wat hul dood veroorsaak het wanneer forensiese en nadoodse ondersoeke afgehandel is,” sê Beetge.
Die polisie en inwoners het Maandag die gebied besoek waar rommel en afval gestrooi lê in ʼn oop gebied wat onder kragdrade verbyloop. Die gebied is ongeveer 100 meter van die huise waarin die kinders woon.
Beetge sê ʼn geregtelike doodsondersoek is aan die gang en enigiemand met inligting wat die polisie van hulp kan wees, moet die Motherwell-polisiestasie by 08600 10111 kontak.
Die gemeenskap is gewaarsku om nie enigiets te eet wat op stortingsterreine gevind word nie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
19 Kommentare
Kinders bly kinders. As hul kos sien sal hulle dit eet. Weet nog nie van bakterie ens. Stortings terreine moet beter beheer uitoefen. Moet aan wetlike vereistes voldoen! Toegangsbeheer moet uitgeoefen word. Plek moet behoorlik bestuur word. Bloemfontein se stortings terrein is n spreekwoordelike voorbeeld van uiters swak bestuur. Dis vieslik daar. Heinings is gebreek en enige iemand het toegang. Vuillis word gestort in pad langs terrein. Mense krap daar en daar sterf seker nog mense waarvan ons nie weet nie. Ja kinders hoort nie daar, maar kinders hou van speel. Maar sou die terrein korrek bestuur wees, sou hulle… Lees meer »
Hierdie kinders was honger! Die haaglike omstandighede waarin die mense leef kan ons nie eers begryp nie!! Dis hartverskeurend.
Hoe tragies is dit nie dat kinders op ‘n ashoop na kos moet soek terwyl talle in soveel super weelde leef met erge vermorsing van kos nie. Dit is verskriklik.
Hoekom is hierdie stortingsterrein so naby aan ‘n woongebied? Die Munisipaliteit moet begin verantwoordelik neem om terreine te begin opruim.
Hartseer dat die kinders in Suid Afrika moontlik so honger is dat hulle kos van stortings terreine af eet???? terwyl baie van ons daagliks so baie kos mors