Kinders wil eerder Spider-Man as president hê

Spider-Man Foto: moviepilot.com

Spider-Man Foto: moviepilot.com

Suid-Afrikaanse kinders sou verkies om ʼn fiktiewe karakter soos Spider-Man te hê as president, eerder as president Jacob Zuma, volgens ʼn opname wat Dinsdag vrygestel is.

Volgens die webwerf Parent24 se kinderopname het 38% van kinders aangedui dat hulle graag eerder dié superheld verkies. Tinkerbell van Peter Pan was tweede met 31% en Spongebob Squarepants het 17% van die stemme gekry.

Werklike persone het maar swak gevaar en oudpresident Nelson Mandela het 8% ontvang en die Kanadese popster Justin Bieber het 5% van die stemme gekry. Niemand het vir Zuma of Lady Gaga gestem nie.

Parent24 het in ʼn verklaring gesê 2 700 kinders en hul ouers uit nege provinsies het aan die opname deelgeneem. Die kinders is tussen een en nege jaar oud. Die ouers het die opnames namens hul kinders aanlyn ingevul.

“Die uitslag is interessant,” het Scott Dunlop, redakteur van Parent24, gesê. “Die diverse reaksies het ons ʼn kykie gegee in die huise van Suid-Afrikaanse ouers en interessante, snaakse en eienaardige inligting aan die lig gebring.”

Altesaam 16% van kinders vloek, en 32% gebruik die f-woord. Altesaam 41% van ouers reken dit is die beste vorm van straf om met ʼn kind te redeneer en 30% verkies “ʼn hou op die boud”.

Catherine Radloff, opvoedkundige sielkundige, het in ʼn verklaring gesê die 30%-syfer vir lyfstraf is kommerwekkend. “Verskeie studies het bevind dat lyfstraf die risiko van langdurige negatiewe ontwikkelingsuitkomste verhoog,” het sy gesê. “Dit stel ʼn slegte voorbeeld van hoe om sterk emosies te hanteer. Dit kan kinders ook aanmoedig om te jok oor hul gevoelens of om dit weg te steek om te verhoed dat hulle pak kry. Dit kan aanleiding gee tot ʼn kwaai kind wat ʼn wrok koester.”

Broccoli is die mees gehate groente en het 35% van die stemme hiervoor gekry. Altesaam 62% van kinders eet tot drie keer per week kitskos. “Groente, aanbieding en verskeidenheid is die sleutel wanneer mens vir jou kinders kosgee,” het Cara Van Heyningen, voedingsterapeut en gesondheidscoach, gesê. “Hoe groter verskeidenheid van gesonde kos beskikbaar is, hoe groter is die kans dat die kind die regte keuse sal uitoefen.”

Volgens die opname het 23% van kinders hul eie selfone of tabletrekenaars en 75% help met huishoudelike takies. 43% van ouers wil graag hê hul kinders moet dokters word en 29% voel hul kinders moet ingenieurs word. Slegs 1% van ouers reken hul kinders moet die politieke arena betree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dave ·

quote
“Die uitslag is interessant,” het Scott Dunlop, redakteur van Parent24, gesê. “Die diverse reaksies het ons ʼn kykie gegee in die huise van Suid-Afrikaanse ouers en interessante, snaakse en eienaardige inligting aan die lig gebring.”
en
Altesaam 16% van kinders vloek, en 32% gebruik die f-woord.
Stop Quote

Wel, hierdie gee ons ‘n kykie in die koerantwese en eienaardige inligting word aan die lig gebring… soos byvoorbeeld dat die berigskrywer en wiè ookal ‘n proeflees gedoen het plus waarskynlik ook die webredakteur, reken dat die (oftewel ‘n) f-woord is nie vloek nie. Interessante onderskeiding wat getref word.

Rudi ·

Nee, dit beteken dat 32% van die wat vloek, die f-woord gebruik. Maar ja dis bietjie snaaks gestel.

PR Mackay ·

Viva Justin Bieber , Viva . Het hom al dop gehou , hy is nie net musikaal nie , hy kan tel ook . Snaaks tot daar . My pa het superheldstatus gekry deur wat hy gedoen het . Waar is sulke pa,s ? Die ‘ wat van gese was “my pa het altyd gese “? My kinders het nie selfone nie .jakoos , maar niemand’ hou van wonderwoman se “evil nemesis”nie ,hulle dink wel sy kan iers doen aan Lex Luthor en “the evil horde”

zahn ·

Vir ‘n opvoedkundige sielkundige is dit nogal ‘n insiggewende bol tjol, goeie verskoning vir ouers wat bang is vir hul kinders. Daar is nie na die meriete gekyk deur die sielkundige nie, net ‘n uitspraak gelewer. Sjym.

EMK ·

Amper enigiemand ja, eerder as Zuma! Spiderman jip – hy kan dalk die ding doen haha! Die wat kinders gemorskos verkies – wel as ouers so lui is en sulke gemors koop SAL hulle dit eet eerder as groente ens. My kinders het nog altyd (en hulle is grootmense) gehou van groente en gemorskos is net eenvoudig nie gekoop nie en klaar!. Lekkers NET oor ‘n naweek na sport en selfde met Coke. Albei het gehou van sport al was hul nie top presteerders,dit was die deelneem en albei was gesond en nie ‘n gram oorgewig.Dis ouers se skuld as kinders verkeerd geleer eet word en klaar en ‘n raps op die boud is beslis niks ernstig. As ek ‘n tweede keer oor dieselfde ding moes praat, wel die derde keer kry hul ‘n hou, hul is nie doodgeslaan maar hul het beslis dan geLUISTER. Meestal het dit nie by die tweede keer eers gekom, want hulle het geweet ek is ernstig, my nee was nee en my ja was ja en dieselfde met my man – ons het as ‘n span gewerk.Ek het so grootgeword en my kinders ook en ons is wel aangepas en het dissipline gehad op skool en in die werksplek. Sela

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.