‘Kinderslagter-pa’ hoor dalk vandag oor borgtog

mes-aanval

Argieffoto

Lesiba Kekana (36), die pa van Limpopo wat daarvan beskuldig word dat hy sy vier seuns se kele afgesny het, gaan na verwagting Donderdag in die hof aansoek om borgtog doen.

Kekana het met sy vorige hofverskyning op 15 Oktober in die rondgaande hof in Magatle aangedui dat hy onskuldig sal pleit. Hy het by monde van sy regsverteenwoordiger, Moraka Rameetse, gesê hy is van mening dat die staat se saak swak is en slegs staatmaak op die bekentenis wat hy gemaak het kort nadat hy in hegtenis geneem is.

Kekana het by die hof gepleit om hom op borgtog vry te laat en verskeie redes aangevoer waarom hy op borgtog vrygelaat moet word. Hy het onder meer gesê hy moet na sy huis omsien aangesien hy glo in kennis gestel is dat dit gevandaliseer is terwyl hy in aanhouding was. Die borgtogaansoek is daarna uitgestel.

Kekana staan tereg op vier aanklagte van moord op onderskeidelik Bokang Kekana (13), Keneilwe Kekana (10), Hlologelo Kekana (6) en Lekgoledi Kekana (4).

Maroela Media het vroeër berig Kekana, van Moletlane-Mmatjatji in Magatle, se vier seuns het by hul ouma, Kekana se ma, gewoon. Hy het op 4 September die kinders by haar gaan haal en na Gauteng geneem om by hul ma te gaan kuier.

Kekana en die ma is glo nie op goeie voet nie en hy het na bewering die Saterdagaand teruggekeer en al vier seuns vermoor deur hul kele af te sny. Hy het daarna selfmoord probeer pleeg.

Lees die vorige berigte oor Kekana op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hettie ·

Nee, hy moet by tronk bly, nie moet borg kry nie want hy het 4 kinders doodgemaak. Dis baie erg! Doodstraf moet terug!

elvira bothma ·

Liewe genade !!!!! is die man van sy verstand af as hy dink hy kan borgtog kry. AS hy kry, is daar sowaar iets verkeerd met hierdie land se regstelsel. Ek gee totaal op !!!

Marché ·

As hy aansoek doen om borgtog, is hy óf braaf, óf stupid, want die gemeenskap gaan hom beslis uitsorteer!

Lynette ·

Hoe redeneer die persoon? Die staat se saak is swak omdat hulle staatmaak op sy bekentenis!!!!! Wat is sterker as dit? Hy was nie forseer om te beken nie!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.