‘Kinderslagter-pa’ in die hof

Lesiba Kekana (Foto verskaf deur SAPD Limpopo)

Lesiba Kekana (Foto verskaf deur SAPD Limpopo)

Lesiba Kekana (36), die pa van Limpopo wat daarvan beskuldig word dat hy sy vier seuns se kele afgesny het, het Donderdag in die hof verskyn.

Hy moet op 12 November weer in die hof verskyn sodat sy aansoek om borgtog kan hervat.

Kekana het met sy vorige hofverskyning op 15 Oktober in die rondgaande hof in Magatle aangedui dat hy skuld gaan ontken. Moraka Rameetse, sy prokureur, het gesê die staat se saak is swak en maak slegs staat op die bekentenis wat sy kliënt gemaak het kort nadat hy in hegtenis geneem is.

Kekana het by die hof gepleit om hom op borgtog vry te laat en verskeie redes aangevoer waarom hy op borgtog vrygelaat moet word. Hy het onder meer gesê hy moet na sy huis omsien aangesien hy glo in kennis gestel is dat dit gevandaliseer is terwyl hy in aanhouding was.

Kekana staan tereg op vier aanklagte van moord op onderskeidelik Bokang Kekana (13), Keneilwe Kekana (10), Hlologelo Kekana (6) en Lekgoledi Kekana (4).

Maroela Media het vroeër berig Kekana, van Moletlane-Mmatjatji in Magatle, se vier seuns het by hul ouma, Kekana se ma, gewoon. Hy het op 4 September die kinders by haar gaan haal en na Gauteng geneem om by hul ma te gaan kuier.

Kekana en die ma is glo nie op goeie voet nie en hy het na bewering die Saterdagaand teruggekeer en al vier seuns vermoor deur hul kele af te sny. Hy het daarna selfmoord probeer pleeg.

Lees alle vorige berigte oor Lesiba Kekana op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.