Kinderverkragter-burgemeester uit party geskors

(Foto: Facebook/ICOSA)

Die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) het bevestig dat hy sy president, Jeffrey Donson, geskors het.

Volgens Icosa is Donson geskors aangesien “growwe wangedrag binne die party gesaai word en omdat sy reputasie in ooreenstemming met sy oortuiging die party in oneer bring”.

Donson is in 2004 aan die verkragting van ’n 15-jarige meisie skuldig bevind. Hy is in Januarie verlede jaar uit sy amp as burgemeester van Kannaland verwyder, maar het ʼn kort rukkie daarna weer die pos beklee.

“Die rede vir die sodanige skorsing is dat hy die reputasie van so ʼn mooi party skade berokken. Hy het ook sedert sy verkiesing as president geen waarde tot die party gevoeg nie, behalwe in Kannaland, wat onaanvaarbaar is, aangesien die party nie ʼn  Kannaland-party is nie,” lui ʼn verklaring van Icosa.

Donson het geen belangstelling getoon om die party buite die grense van Kannaland te bevorder en te laat groei nie of die party op nasionale standaard te bring nie, word daar aangevoer.

“In plaas van positiewe nuus in die media, het Donson se reputasie steeds ʼn negatiewe impak op die groei van ons party.

“Dit was nie ʼn maklike besluit nie, maar ons doen ’n beroep op lede om verenig te bly, aangesien die party nie oor ’n enkele individu gaan nie, maar oor die mense wat ons toevertrou het om namens hulle te veg.”

Vlancio Donson, Jeffrey se seun, is ook geskors omdat hy ook glo die party in oneer gebring het.

“Donson en sy seun is 48 uur gegun om op hul skorsing te reageer, daarna sal die dissiplinêre komitee ʼn datum vir ’n verhoor gee en oor die uitkoms besluit.”

Action Society het die besluit om Donson te skors verwelkom.

“Alhoewel ons baie druk op Icosa en die plaaslike munisipaliteit geplaas het, is dit ʼn besluit wat deur sy eie party – waarvan hy die president is – geneem is,” sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

“Ons staan by ons mantra van geen oortreders moet aan bewind wees nie. Die verwydering van Donson behoort ’n sterk boodskap aan alle regeringsamptenare met ’n kriminele geskiedenis te stuur.”

Cameron meen dat ʼn voorbeeld van enige seksuele oortreders in openbare ampte gemaak moet word.

“Eerstens moet hulle nooit in enige magsposisie geplaas word nie, en diegene wat aangekla is, moet almal verwyder en ontmasker word. Ons volgende stap is om Donson se naam tot die Nasionale Register vir Seksoortreders te voeg om te verseker dat hy nooit enige politieke mag gegee word nie,” sê Cameron.

“Geen staatsamptenaar met ’n skuldigbevinding aan kinderverkragting, of enige kriminele rekord, moet in ’n openbare amp dien nie. Die regering kan nie sê dat hulle geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord in Suid-Afrika beveg terwyl verkragters in diens geneem word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Elma ·

Die besluit is heel maklik, waarom sal julle sê dit was nie. Van 2004 af tot nou? 19 jaar n salaris betaal aan n verkragter. Sies! Hys seker nog met volle voordele afgedank ook.

Aai ·

Hy is een van die honderde wat rekords teen hulle het wat die land beheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.