Kinderverkragter het voorheen uit jeugsentrum ontsnap

Kapt. Matthew Gallant (links) van die polisie se eenheid vir huishoudelike geweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings in George, ao. Martin Borg, leier van die polisie se ondersoekspan, en genl.maj. Oswald Reddy, bevelvoerder van die polisie in die Eden-gebied, tydens die mediakonferensie. Foto: Eugene Gunning

ʼn Kinderverkragter wat Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof tot 210 jaar tronkstraf gevonnis is, het ʼn paar jaar gelede uit ʼn jeugaanhoudingsentrum in Kaapstad ontsnap waar hy destyds ʼn vyfjaarvonnis vir twee verkragtingsake uitgedien het.

Dít het Donderdag aan die lig gekom tydens ʼn mediakonferensie van die polisie in die Eden-gebied.

Ivan Atthenkosi Johannes (21) het vandeesweek ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan oor die jongste 17 aanklagte teen hom. Die aanklagte teen hom het ingesluit agt aanklagte van verkragting, vyf aanklagte van ontvoering en drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Johannes is reeds op 16 Januarie 2017 aangekeer ná deeglike ondersoekwerk van die polisie en was sedertdien in aanhouding. Altesaam vyf ondersoekbeamptes van die polisie het aan die saak gewerk.

Johannes se slagoffers was minderjarige kinders tussen sewe en 13 jaar oud, meestal seuns en een meisie. Die misdade het plaasgevind tussen Januarie 2015 en Augustus 2016 in Thembalethu by George.

Johannes het die kinders genader en fietse aan hulle belowe as hulle saam met hom sou gaan. Hy het van sy ander slagoffers gegryp terwyl hulle op die swaai gespeel het. Hy het die kinders met ʼn mes gedreig, hulle die bosse in gesleep en daar verkrag. Hy het sommige kinders ook gedwing om mekaar seksueel aan te rand.

Johannes het ook van die kinders se skoene, geld en skooltasse gesteel. Die slagoffers het Johannes nie geken nie.

Benewens die 210 jaar tronkstraf is Johannes ook drie lewenslange vonnisse opgelê. Voorts sal sy naam in die nasionale register van seksoortreders opgeteken word.

Kapt. Matthew Gallant van die polisie se eenheid vir huishoudelike geweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, het gesê DNS het Johannes aanvanklik met twee van die verkragtings verbind.

In daardie stadium was daar ook drie ander soortgelyke voorvalle, maar hy kon nie daarmee verbind word nie. Hy is egter later tydens ʼn uitkenningsparade positief uitgewys.

Volgens Gallant is ʼn formele agtergrondsnavraag in die loop van die ondersoek ook oor Johannes gedoen. Daar is toe vasgestel dat hy as 16-jarige reeds tot vyf jaar in aanhouding in ʼn jeugsentrum gevonnis is vir die verkragting van twee kinders, onderskeidelik ses en sewe jaar oud.

AO Martin Borg, leier van die polisie se ondersoekspan, het gesê die polisie was nie in beheer van die sentrum nie. Toe Johannes ontsnap het, het hy reeds drie jaar van sy vonnis uitgedien en moes hy nog twee jaar in aanhouding deurbring.

Volgens Borg het Johannes toe hy aangekeer is dadelik erken dat hy betrokke was by die misdade in Thembalethu.

Tydens onderhoude in aanhouding het Johannes gesê hy het dwelms soos tik gebruik. Hy het nie op dieselfde perseel as sy ouers gewoon nie, maar naby hulle.

Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die polisie was nooit bewus van Johannes se ontsnapping uit die sentrum nie, anders sou hulle dit ondersoek het.

Genl.maj. Oswald Reddy, bevelvoerder van die polisie in die Eden-gebied, het gesê dis hartseer dat iemand reeds op so ʼn jong ouderdom by misdaad betrokke geraak het.

Hy het die vonnisse verwelkom. Volgens hom is daar groot uitdagings in die Suid-Kaap rakende misdade teen vroue en kinders. Dit is veral verkragtings en seksuele oortredings. Hy meen die swaar vonnisse stuur ʼn boodskap aan oortreders dat hulle moet ophou en dien as afskrikmiddel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

leser ·

los nou maar die sentiment van robben eiland
gebruik dit vir mense soos johannes wat lank moet sit of beter nog
bou ‘n tronk op “bird” eiland, laat hulle daarheen gaan, ons het nie ‘n “alcatraz” nie

Sarel ·

210 jr? Hoelank sal hy effektief sit? Kwalifiseer na 25 jr vir Parool?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.