Kinnear-gesin: ‘Ons pa het ons voorberei vir dié dag’

Charl en Nicolette Kinnear was vanjaar 26 jaar lank getroud.

Lt.kol. Charl Kinnear het Vrydagoggend net na 10:00 sy laaste boodskap aan sy vrou, Nicolette, gestuur voordat hy die middag buite sy huis in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte in ʼn sluipmoordaanval doodgeskiet is.

Kinnear, ’n lid van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid en een van die land se topspeurders, moes verlede week ook die rol as provinsiale bystand-offisier vertolk, maar sou na ʼn besige week die naweek by die huis deurbring. Verder sou hy eers weer oor ʼn week vir werk na Johannesburg reis.

“Dit sou ʼn normale naweek gewees het, maar dit was uiteindelik alles behalwe ʼn normale naweek,” vertel Nicolette, waar sy en haar seuns in hulle woonkamer sit.

“Ons het ʼn familie-WhatsApp-groep waarop ons oor en weer gesels, maar snaaks genoeg, Vrydag was die groepie ook stil. Almal moes maar besig gewees het. Na tien het ek die laaste boodskap van hom gekry.”

Kinnear is voor sy huis doodgeskiet.

Nicolette was ten tyde van die skietvoorval by die werk en is deur twee werkskollegas na die toneel gehaas. Op pad soontoe het sy die nuus ontvang dat Kinnear dood is. Haar twee seuns was tuis terwyl die oudste seun nog sekondes voordat sy pa doodgeskiet is met hom oor die foon gepraat het. Kinnear is kort na die oproep verskeie kere geskiet toe hy by sy huis stilgehou het.

Weens die verskeie hoëprofielsake wat Kinnear ondersoek het, het ʼn moontlike aanslag op sy lewe soos ʼn skadu oor die hele gesin gehang.

“Ons pa het ons voorberei vir hierdie dag. Dit was altyd in jou agterkop, dit kan enige dag gebeur. Dit is hartseer dat dit buite die huis moes gebeur, maar ek sou nie wou gehad het dat my pa in ʼn vreemde straat moes doodgaan nie,” het Carlisle Kinnear, die egpaar se oudste seun, gesê.

‘n Gedenkmuur vir Kinnear.

“Dit is baie moeilik; hy laat ʼn groot nalatenskap agter. Ek sal nooit vergeet wat hy my alles geleer het nie. Ek het geweet hoe passievol my pa oor sy werk was. Dit het deel van ons leefstyl geword. Ek is trots daarop.”

Dit was ook Nicolette se vrees. “Die prentjie het al by ons almal afgespeel op een of ander manier, maar wanneer dit ʼn realiteit word, is dit anders.”

Maroela Media het vroeër berig die Kinnear-gesin leef sedert verlede jaar Desember in vrees nadat hulle 24-uur-polisiebewaking sonder waarskuwing opgeskort is. Dit in ʼn tyd kort nadat Kinnear in ʼn beweerde aanval ʼn teiken geword het toe ʼn man, Faeez Smith (27), buite sy huis met ʼn handgranaat in sy besit in hegtenis geneem is.

Familie en vriende het by die huis bymekaargekom om medelye te betoon.

ʼn Tweede verdagte, Amaal Jantjies, is ook in hegtenis geneem. ʼn Verdere ondersoek na die voorval het ʼn derde verdagte, Janick Adonis, betrek wat na bewering reeds tronkstraf uitgedien het. Dié saak duur voort en word weer op 1 Oktober in die Parow-landdroshof aangehoor.

Bheki Cele, minister van polisie, het Saterdag tydens ʼn besoek aan die Kinnear-gesin erken die polisie het nie genoeg gedoen om een van hulle lede te beskerm nie. “Almal weet hulle [die polisie] het ons gefaal,” sê Nicolette. “Ons het dit ook vir hom [Cele] gesê. Ek waardeer dat hy nie gekom en antwoorde gegee het op vrae waarop ons weet daar nog nie antwoorde is nie.”

Nicolette Kinnear.

Sy meen dat in haar man se geval moes polisiebewaking bloot protokol gewees het. Of hulle gesin, sy en haar twee seuns, nou polisiebewaking gaan ontvang, is nog nie duidelik nie, en is ʼn besluit wat op provinsiale vlak geneem moet word.

Intussen het genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, die 72-uur-aktiveringsplan in werking gestel in ʼn poging om Kinnear se moordenaar vas te trek. Maar al sou die persoon wat die sluipmoord uitgevoer het, aangekeer word, sal dit nie hulle man en pa terugbring nie, meen Nicolette.

“Niks wat ons nou doen of wat nou gebeur, gaan hom terugbring nie. My man het nie sy lewe verloor nie, dit is geneem. Want hy het geweier om ʼn korrupte polisiebeampte te word. Maak nie saak wie die hit uitgevoer het nie; hy het gestaan tot die bittereinde toe.

“My man was nie selfsugtig nie, hy het nie nét vir sy gesin gelewe nie; hy het gelewe vir die breër gemeenskap, en Suid-Afrika, en om ʼn verskil te maak. Ons kan nie nou net vir onsself lewe nie. Ek weet waarvoor hy gestaan het. Hy het sy deel gedoen. Nou is dit my tyd om my deel te doen en om voort te bou op wat hy gedoen het. Dit is wat ek en die kinders wil doen. Ons wil verhoed dat nog ʼn gesin deur dieselfde pyn gaan as waardeur ons tans gaan.”

Nicolette sê sy is oorweldig deur die ondersteuning wat hulle gesin uit die gemeenskap en die land ontvang.

Die organisasie Forensics for Justice het intussen ʼn beloning van R1 miljoen uitgeloof vir enige inligting wat kan lei tot die suksesvolle inhegtenisneming en vervolging van die persoon of persone wat by Kinnear se moord betrokke was.

Verskeie gedenkdienste word vir Kinnear beplan. Gemeenskapsleiers beplan ʼn roudiens in die komende week. Amptelike begrafnisreëlings sal nog bevestig word, maar volgens Nicolette sal ʼn SAPD-gedenkdiens op Woensdag 30 September gehou word, terwyl Kinnear se teraardebestelling op 3 Oktober sal plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mieke ·

My innigste simpatie met die familie wat hulle pa/eggenoot,/oom /broer, verloor het. Inderdaad het die polisie julle pligte versuim.. so jammer. Daar is maar eenmal geen wet of orde in hierdie land nie!

Wielspore ·

Alle eer aan ‘n persoon wat skoene volgestaan het as vader van die huis en ‘n harde werker was

Foefie ·

Wat ‘n pragtige paartjie. So jammer dat die land so formidabele man moes verloor op so ‘n laakbare manier. Innige simpatie aan die familie en naasbestaandes.

Pieter ·

Die land onder die ANC kommuniste het sy gaai gesien en klaar daar is geen maar geen hoop vir die land nie. So lank as wat die ANCsirkus aan bewind gaan bly vir so lank gaan die gemors in die land aan hou.

Magda ·

en Cele – wat is sy antwoord hoekom die 24uur Polisie bewaking opgeskort is?????? – My innige meegevoel met die Familie.

Kerneels ·

Ek is bitter. ‘n Góéie polisieman word gedood omdat sy polisiebewaking opgeskort word. Maar Juliassssss geniet polisiebeskerming omdat hy kwansuis gedreig word????

Niklaas ·

In hierdie land kan “lastige” mense soos topspeurders, misdaadondersoekers, staats advokate se dood vinnig gereel word teen slegs R10000. Elke 2 de hawelose kan inwillig om ‘n sluipskutter te word. Dis die harde feite

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.