Kinnear-moord: Kilian gaan borgtog vra

Zane Kilian staan tereg op drie aanklagte, onder meer ook moord. (Foto: Twitter)

Zane Kilian, die enigste verdagte wat tot dusver in hegtenis geneem is in verband met die opspraakwekkende moord op lt.kol. Charl Kinnear, verskyn Maandag weer in die hof waar hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Kilian (39), ʼn voormalige beroepsrugbyspeler wat deesdae in die private veiligheidsbedryf werk, het vroeër in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn, maar weens veiligheidsvrese is die saak na die streekhof in Bellville oorgeplaas.

Die 52-jarige Kinnear is op 18 September koelbloedig in sy motor voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet. Hy is verskeie kere in die bolyf geskiet en is op die toneel dood verklaar. Hy was verbonde aan die polisie se teenbende-eenheid.

Kilian is minder as ʼn week later in verband met die moord op Kinnear in hegtenis geneem en word aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg asook die onregmatige onderskep van kommunikasie.

Die staat voer aan dat Kilian tussen Maart en 18 September vanjaar onregmatig en doelbewus inligting van Kinnear se selfone onderskep het. Hy het volgens die staat ook saam met ander, in hierdie stadium onbekende, aanvallers saamgesweer om Kinnear te vermoor.

Kilian is sedert sy inhegtenisneming meer as ʼn maand gelede in aanhouding.

Beeldmateriaal van die skietery wat vroeër aan die lig gekom het, wys hoe ʼn man in ʼn rooi kappietop en masker Kinnear in sy motor nader en dan op hom losbrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Hoe veilig sal hy wees as hy borg kry.Was hy die enigste een betrokke.Aikona ek dink hy is gehuur.Hy was besig met hoë profiel sake.Ek kan nie ophou dink dat SAPS lede betrokke was nie.In die onderwêreld is ‘n lewe niks werd nie.Hoekom praat Killian nie.

Aai ·

Natuurlik het hy gepraat die staat sal dit stil hou nie vir almal se oe en ore.

Androclus ·

Dis nie hy alleen nie,hy is definitief gehuur en hy moes gedink het aan die gevolge om so ‘n persoon se foon te monitor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.