Zane Kilian, die enigste verdagte wat al in hegtenis geneem is in verband met die moord op lt.kol. Charl Kinnear, se saak is na die Bellville-streekhof oorgeplaas.
Daar word aangevoer dat die Bishop Lavis-landdroshof, waar Kilian (39) al ʼn paar verskynings gemaak het, ʼn veiligheidsrisiko inhou. Kilian het Woensdag vir oulaas in dié landdroshof verskyn.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê die staat het verlede week met die president van die streekhof geskakel om te hoor of Kilian sy borgtogaansoek daar kan voortsit.
Die betrokke partye het Woensdag voor die hofverrigtinge met die landdros in die streekhof vergader om die datums vir die borgaansoek te bespreek.
“Die nuwe datums waarop ooreengekom is vir die borgaansoek is 26, 27 en 30 Oktober.”
Die 52-jarige Kinnear is op 18 September koelbloedig in sy motor voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet. Hy is verskeie kere in die bolyf geskiet en deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Kilian, wat op 23 September in verband met die moord op Kinnear in hegtenis geneem is, word aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg en die onregmatige onderskep van kommunikasie.
Volgens die klagstaat gaan die staat aanvoer dat Kilian tussen Maart en 18 September vanjaar onregmatig en doelbewus inligting van Kinnear se selfone onderskep het. Hy het volgens die staat ook saam met ander, in hierdie stadium onbekende, aanvallers saamgesweer om Kinnear te vermoor.
Borg, is hulle nou simpel…..
Hou hom binne ,direkte oorsaak van daai man se dood.
Hoop hy maak die blik wurms oop …
As ek hy is bly ek maar net daar in die tjoekie… Hulle gaan hom kry en hy sal nie lewend by die volgende hofsaak opdaag nie.