Kirstenbosch oop, bergroetes bly gesluit  

(Foto: Verskaf)

Roetes van die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin na Tafelberg sal voorlopig gesluit bly nadat ʼn brand groot skade in dié gebied aangerig het.

Weerlig het op 28 April tot ʼn brand by die Skeleton-ravyn op Tafelberg gelei en die sluiting van talle gewilde staproetes sowel as die botaniese tuin genoodsaak. Maroela Media het vroeër berig dat sowat 220 ha veld van die Tafelberg Nasionale Park afgebrand het.

Alle staproetes tussen Constantia-nek en Nuweland, die Maclear-baken, die Agtertafel en die Platteklip-ravyn, asook die roetes wat na die Agtertafel tussen Kampsbaai, Houtbaai en Oranjekloof lei is weens die brand gesluit.

Skeleton-ravyn, Tafelberg, SANParke, brand

Die brand by Skeleton-ravyn. (Foto: Brandon Louw / Volunteer Wildfire Services / Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) het Vrydag gesê die botaniese tuin sal die naweek weer oop wees vir besoekers. Alle staproetes wat van die tuin na Tafelberg lei bly egter nog gesluit.

“Daar is steeds smeulende gedeeltes op die berg en sommige dele van die roetes is beskadig,” het Nontsikelelo Mpulo, direkteur van bemarkingskommunikasie by Sanbi, Vrydag gesê.

Stappers sal dus nie van die Kontoerpad-, Skeleton-ravyn- of Nursery-ravynroetes gebruik kan maak om op die berg te kom nie.

Sanbi sê hy is tans in gesprek met SANParke en dat verdere inligting deurgegee sal word sodra die toestand van die roetes in die loop van volgende week vasgestel word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.