Kitsbank-rowers aangekeer

Argieffoto (Foto: SAPD/Facebook)

Drie mans, wat vermoedelik verbind kan word met transito- en kitsbankrooftogte in Gauteng, is Maandag in Pretoria in hegtenis geneem.

Lt.kol. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê die mans, tussen 25 en 40 jaar oud, het ook vuurwapens, waaronder ʼn AK-47, verskeie patrone, springstof en inkbevlekte kontant in hul besit gehad. “Volgens die inligting wat ontvang is, was die verdagtes op pad om nóg ʼn kitsbank in Pretoria te teiken voor hulle aangekeer is.”

Die polisie het inligting ontvang oor die groep gewapende verdagtes. Verskeie eenhede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander wetstoepassers is ontplooi om die groep in hegtenis te neem.

“Die inligting het die span na ʼn huis in Soshanguve gelei waar twee van die verdagtes (34 en 40 jaar oud) gevind is. Die polisie het op drie vuurwapens, ʼn AK-47, haelgeweer en ʼn pistool, afgekom toe die huis deursoek is. Hulle het ook op verskeie patrone, springstof en die kontant, wat met ink bevlek is, afgekom.”

Die span het daarna na Lotus Gardens in Pretoria beweeg waar die derde verdagte (25 jaar oud) met ʼn ongelisensieerde vuurwapen en inkbevlekte kontant betrap is. Hy is ook in hegtenis geneem.

Die groep sal binnekort in die Pretoriase landdroshof verskyn. Die soektog na nog verdagtes duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.