‘Kitsbankrower’ doodgeskiet, makkers vas

Die verdagtes wat aangekeer is. Foto: Verskaf

ʼn Vermeende kitsbankrower is Woensdag in ʼn skietgeveg met die polisie in Limpopo doodgeskiet.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê beamptes van die provinsiale opsporingspan het in die vroeë oggendure ʼn wenk van ʼn lid van die publiek ontvang dat ʼn groep mans beplan om ʼn kitsbank by die Ga-Maja-nedersetting buite Lebowakgomo te gaan beroof.

“Die beamptes het vinnig gereageer en die verdagtes, wat deel van ʼn misdaadsindikaat is, onderskep. Hulle het in drie voertuie, ʼn Toyota Corolla, VW Polo en Toyota Legend 45, gery,” het Ngoepe gesê.

“Die konvooi is van die pad getrek terwyl hulle op pad was na Ga-Maja en het op die polisie begin skiet. Die polisie het teruggeskiet en ʼn 29-jarige verdagte noodlottig gewond.”

Vier verdagtes, tussen 32 en 51, is in hegtenis geneem en nog ses het in die VW Polo van die toneel gevlug. Geen polisielede is beseer nie.

Die polisie het beslag gelê op ʼn vuurwapen en ammunisie, ʼn koeëlvaste baadjie van die polisie, ʼn glimmerbaadjie van die polisie, klapmusse, nuwe skywe vir ʼn hoekslyper, asook twee van die verdagtes se voertuie.

Die verdagtes moet binnekort in die Lebowakgomo-landdroshof verskyn op aanklagte van sameswering om ʼn roof te pleeg, poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en die besit van ʼn polisie-uniform.

ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur na die verdagtes wat ontsnap het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wessel ·

Skiet die polisie deesdae met windbukse? Daardie koeel gatjies in die bakkie is darem bitter klein.

Piet skiet ·

Dit is heel moontlik n 5.56 (.223), n militere kaliber, bietjie groter projektiel as n .22

marius ·

Klein gaaitjie agter en so 10cm gat aan die uitgangs kant.Mooi werk

Ernst ·

Ja baie goeie werk van die polisie. Net jammer van die ses wat weg gekom het met ‘n POLO. Met wat het die polisie gery Fiat 600. Vra maar net. ??????

Besemryer ·

Goeie werk inderdaad! Hoop hulle sal dit egter kan volhou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.