Kitskosrestaurant-personeel vang verdagte sommer gou

Die verdagte saam met konst. Moses Hlahla van die polisie in Kimberley Foto: Lt. Sergio Kock, SAPD Noord-Kaap

Die verdagte saam met konst. Moses Hlahla van die polisie in Kimberley Foto: Lt. Sergio Kock, SAPD Noord-Kaap

ʼn 23-jarige man is Vrydag in Kimberley in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn kitskosrestaurant beroof en die personeellede hom agternagesit het.

“Die man het omstreeks 22:20 glo die kasregister deur die venster van die restaurant gegryp,” het lt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie in die Noord-Kaap, gesê. Die bekende restaurant in Chapelstraat het ʼn venster waar klante in hul motors kan sit om hul bestellings te plaas.

“Die verdagte het te voet gevlug met die kasregister, maar die personeellede het hom dadelik agternagesit en die polisie ontbied,” het hy bygevoeg. Die verdagte het die kasregister, met ʼn onbekende bedrag kontant daarin, in Lennoxweg laat val. “Met behulp van lede van die gemeenskap is die man in Quinnstraat voorgekeer waar hy die personeellede glo met ʼn mes gedreig het.”

Die polisie het by die toneel opgedaag en die verdagte in hegtenis geneem. Hulle het die mes gekonfiskeer en beslag gelê op die kasregister. Al die geld was nog in die masjien en is aan die restaurant terugbesorg.

Die polisie ondersoek ʼn saak van besigheidsroof. Die man sal binnekort in die Kimberley-landdroshof verskyn.

Genl.maj. Jean Abrahams, polisiebevelvoerder in Kimberley, het haar lede geloof vir hul optrede en haar dank betoon aan die gemeenskap vir hul hulp in die verband. “Saam kan ons misdaad beveg,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.