Kitsnoedel-verskaffer bekyk ná kindersterftes  

Howe-kitsnoedels

Die nasionale verbruikerskommissie het met ʼn ondersoek na Grandisync CC, die verskaffer van Howe-kitsnoedels, se optrede begin ná die dood van drie kinders nadat hulle van dié noedels geëet het.

Grandisync CC is in Uitenhage in die Oos-Kaap gesetel. Sinothando Ngwendu (11), Olwam Ngwendu (7) en die vier maande oue Athenkosi Ngwendu is verlede maand dood kort nadat hulle gekookte noedels geëet het by hul grootouers se huis in New Brighton.

Thezi Mabuza, waarnemende kommissaris van die kommissie, het gesê volgens inligting wat aan die kommissie gegee is deur ander reguleerders en die verskaffer, is daar rede om te glo dat Grandisync CC onveilige goedere of goedere wat ʼn potensiële veiligheidsrisiko vir die publiek inhou, verskaf het.

Daar word steeds op die uitslag van laboratoriumtoetse gewag en volgens Mabuza sal die ondersoek die kommissie help om die aard, oorsaak en omvang van die risiko aan die publiek te begryp.

“Indien ons ondersoek aan die lig bring dat Grandisync CC die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming oortree het, sal ons die saak na die nasionale verbruikerstribunaal verwys vir die oplegging van ʼn administratiewe fooi van 10% van hul totale jaarlikse wins of R1 miljoen, watter een ook al groter is.

“As reguleerder in die voedselveiligheid-omgewing sal ons uitvind wat gebeur het om te verseker dat diegene wat daarvoor verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.”

Maroela Media het vroeër berig die departement van gesondheid het ʼn dringende ondersoek van stapel gestuur ná die dood van minstens vyf kinders nadat hulle noedels geëet het om vas te stel of enige produkte onmiddellik onttrek moet word.

Thato Makofane (9) en haar ouer broer Keamoketswe Makofane (13) van Mpumalanga is ook in November dood nadat hulle kitsnoedels vir ontbyt geëet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

LD ·

Genade! Ek ken nie eers die brand noodles nie! Nog nooit gesien nie. Bly steeds hartseer dat die kinders moes sterf.

Nie Verbaas ·

Dit is hartseer dat kinders gesterf het maar dit maak nie baie sin as net vyf uit wat ek glo derduisende pakkies wat vervaardig is dodelik vir verbruik was nie.

Alfred E Neuman ·

Waarom n paar weke wag voor die handelsnaam van die noedels bekend gemaak is. Dit grens aan growwe nalatigheid en poging tot moord. Skande anc regering!

Pierre ·

Sekerlik moet daar eers ondersoek word en bewyse ingesamel word voor dat daar gelaster word.

Jakez ·

1 Miljoen Rand boete gaan nie die kinders terug bring nie…

Laurika ·

Sjoe dit breek my hart…. om te dink, die onbekende maak is seker al wat hulle kon bekostig. En ek dink dit is ‘n pynlike dood om te sterf.

Grens ·

Die reguleerder is veronderstel om die goed voor die tyd goed te keur en inspeksie te hou. Wat help na die tyd nou, ons kan in SA maak soos ons wil, en dan na die tyd die handjies in onskuld was en iemand anders die skuld gee.

Belinda ·

Nou hoeveel het nog gesterf voor hierdie “brand”bekend gemaak is. Ook maar lekker nalatig..

Swerwer ·

Genade, na wie toe gaan “die administratiewe fooi van 10% van hul totale jaarlikse wins of R1 miljoen, watter een ook al groter is”. Na die Regering of na die ouers wat hul kinders aan die dood moes afstaan.
Gelukkig is ek baie versigtig vir al hierdie volksvreemde name wat deesdae op die rakke verskyn en hou ek maar by die ou welbekende “brands”

Elinette ·

Genugtig, ‘n paar kinders sterf nadat hulle – na bewering – ‘n sekere handelsmerk se kitsnoedels geëet het en nou word die vervaardiger ondersoek. Is dit dan totaal ONMOONTLIK dat die kinders op ‘n ander manier vergiftig kon word??? Kinders is kinders, hulle doen soms goed wat volwasse mense na vlugsout wil laat gryp. Ons praat hier van 5 kinders uit hoeveel miljoene wat kitsnoedels van dié spesifieke vervaardiger geëet het (ek is seker hulle is nie die ENIGSTE kinders wat in onlangse tye van die kitsnoedels geëethet nie). Praat nou van ‘n storm in ‘n teekoppie veroorsaak. Terloops, wat het die nadoodse ondersoeke bevind? Daar moet tog seker ‘n tipe gif of patogeen waaraan die kinders oorlede is, geïdentifiseer gewees het?

JohanR ·

Ek bly weg van noodles af…daar is net te veel sout in! Wie is die brand HOWE?

isabelle ·

die verpakking lyk vir my soos iets uit n ”horror” film

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.