Kitsvloede ontwrig onderwys in Noordwes

Die N18-pad tussen Vryburg en Taung is onder water (Foto: Rob Beezy, Twitter)

Kitsvloede wat die afgelope week weens swaar reën in Noordwes voorgekom het, het van die verrigtinge by skole in dié provinsie tot ’n halt gebring omdat onderwysers nie vir diens kan aanmeld nie.

Onderwysers het reeds aan die begin van die week teruggekeer skool toe om voor te berei vir wanneer skole amptelik op 15 Februarie heropen.

Vanaf Woensdag is sommige skole in die provinsie – veral in die gebied van die Groter Taung – ontoeganklik weens swaar reën wat kitsvloede veroorsaak het. Onderwysers kan nie by skole uitkom nie wat beteken dat onderwyslewering ontwrig word.

Mmaphefo Matsemela, LUR van onderwys in Noordwes, waarsku onderwysers en ouers om versigtig te wees.

“Ons doen ’n beroep op onderwysers in die betrokke gebiede om nie hul lewe in gevaar te stel nie. Dit is in die beste belang van die onderwyser,” sê Matsemela.

Volgens Matsemela is geen skade sover by skole aangemeld nie.

“Ons hoop dat die vloede nie die skoolgeboue sal beskadig nie.”

Matsemela versoek ook ouers om te verseker dat hul kinders veilig tuis is en altyd onder toesig is ten tyde van hierdie vloede.

Verder word motoriste ook gewaarsku om die N18-pad tussen Vryburg en Taung te vermy weens vloede.

Ná die onlangse stortreën in die gebied is die meeste dele van dié pad tans onder water en onbegaanbaar vir motoriste. Die Tygerkloof- en die Brussel-gebied op die N18 het heeltemal oorstroom.

Volgens die kantoor van die premier in Noordwes is lede van die rampbestuurspan in dr. Ruth Segomotsi Mompati-distrik na alle betrokke gebiede gestuur om die nodige hulp te verleen.

Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik.

Nog reën word vir vandag (Vrydag) én die naweek vir Noordwes voorspel.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het vir Vrydag ʼn geel vlak 2-waarskuwing vir ontwrigtende reënval vir Gauteng, die oostelike dele van Noordwes, Mpumalanga en die sentrale en suidelike gedeeltes van Limpopo uitgereik.

Die weerdiens waarsku teen verdere plaaslike oorstromings van paaie en laagwaterbrûe in hierdie provinsies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Piet

Kyk, ek wil nou nie die “obvious state” nie, maar as Covid die onderwys ontwrig, vertel bietjie hoe enigeiets anders dit nie gaan ontwrig nie………