KKNK 2021 vir eers uitgestel

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) sal nie einde Maart 2021 plaasvind nie.

Die bestuur en direksie van die KKNK sê daar is ná deeglike besinning en met inagneming van die onsekerheid rakende die Covid-19-pandemie besluit om die fees wat vanaf 31 Maart tot 6 April sou plaasvind, vir eers uit te stel.

Die KKNK het ook nie vanjaar voortgegaan nie. Dit sou van 23 tot 29 Maart 2020 plaasgevind het, maar daar is toe in die lig van toenemende kommer oor Covid-19 besluit om nie voort te gaan nie.

“Hoewel ons bitter graag in 2021 weer begin April wou feesvier in Oudtshoorn, is die gesondheidsgevare en die onsekerheid wat die Covid-19-pandemie bring steeds ’n kommerwekkende faktor,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees. “Hoë en steeds stygende infeksietellings landwyd het dié besluit genoodsaak.”

Dié besluit is volgens Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, die organisasie wat onder meer die KKNK aanbied, nie ligtelik of in isolasie geneem nie. “Ná samesprekings met ons vennote, borge, die Oudtshoorn-munisipaliteit en Wes-Kaapse regering, was die konsensus dat ’n fees rondom Paasnaweek ’n te groot risiko inhou vir al die betrokke partye – dorpenaars, besoekers en kunstenaars.

“Uitstel is die verantwoordelike besluit, maar dit beteken nie dat ons verbintenis tot die fees en ondersteuning van die kunstenaars en gemeenskappe in gedrang sal kom nie,” sê Sonn.

“Die direksie, bestuur en al ons vennote is reeds geruime tyd in gesprek oor alle moontlikhede en ons evalueer die situasie deurlopend. Ons moet eenvoudig die statistieke en die wêreldwye verloop van die pandemie in ag neem om deurdagte besluite te neem. Ons sal weer in Januarie die situasie bespreek en nuwe datums vir ’n fees in 2021 ondersoek.”

Absa, die hoofborg van die fees, steun dié besluit. “Covid-19 het die manier waarop ons as ’n gemeenskap en as ’n onderneming in wisselwerking tree wesenlik verander,” sê David Wingfield, bestuurshoof van bemarking en die handelsmerk.

Die KKNK bring sedert 1995 ’n beduidende ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn en die omliggende dorpe. Die Covid-19-pandemie het groot skade aan die plaaslike ekonomie berokken, en daarom sal die KKNK, met die nodige gesondheidsprotokol, en in noue samewerking met onder meer die Wes-Kaapse regering, Oudtshoorn-munisipaliteit, die Oudtshoorn Sakekamer, ander vennote in die streek, borge en donateurs alle moontlikhede ondersoek om in 2021 te kyk na projekte wat nie net die dorp en sy inwoners kan ondersteun nie, maar ook veral die kunstenaarsgemeenskap wat jaarliks van oral kom om feesgangers te vermaak.

Die KKNK sal ook nou saamwerk met ander feeste en teaters landwyd om te sien hoe hy al die rolspelers in die uitvoerende kunste, ’n sektor wat diep getref is in dié tyd, met projekte kan help wat almal se welstand in die nuwe jaar sal bevorder.

Hugo Theart. Foto: KKNK/Facebook

“Die aard van die kunstebedryf is om altyd kreatief te dink, en veral nou is progressiewe planne belangrik,” sê Theart. “Die KKNK het reeds in 2020 met ’n verskeidenheid projekte begin wat in die grendeltyd kreatiewe gemeenskappe kon ondersteun. In 2021 sal ons voortbou op die ryk aanbod van aanlyn inhoud en aktiwiteite wat reeds geskep is. Die eerste projekte word in Januarie bekendgestel. Ons is verbind om as organisasie die kunstegemeenskap, die gemeenskap van Oudtshoorn en ook ander vennote te ondersteun. Die KKNK het jare lange borge en donateurs wat ons ondersteun en glo in wat die fees doen. Ons is dus dankbaar dat hulle saam met ons werk om verskillende nuwe moontlikhede te verken.”

’n Jaar lange feesviering word vir 2021 beplan, wat verskeie aanlyn musiekkonserte en teateropvoerings, gespreksreekse, meesterklasse, dokumentêre, ontwikkelingsprojekte en meer insluit. Spesiale veilige musiekkonserte en teaterproduksies word ook in Oudtshoorn en ander dele van die land beoog, en dit sal beplan word volgens die nodige veiligheidsmaatreëls.

Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, sê die uitstel van die KKNK is onvermydelik gegewe die tweede golf van die Covid-19-pandemie.

Kunstenaars wat reeds aansoek gedoen het vir die 2021-fees se voorstelle sal weereens gedurende die komende jaar oorweeg word, en aansoekvorms vir verdere voorstelle is steeds beskikbaar op die KKNK se webwerf.

“Absoluut enige voorstel is welkom – dink uit die boks!” sê Theart. “Want dis wat 2020 ons geleer het – dink nuut en doen nuut.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.