KKNK kry nuwe tuiste

KKNK (Foto: www.kknk.co.za)

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gaan ná agt jaar ʼn nuwe tuiste in Oudtshoorn kry.

Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, het dié nuus Maandag bekend gemaak.

Snyman het gesê die feesterrein sal in 2018 skuif na die meer sentraal geleë Oudtshoorn en Vredestraat Sportterreine.

Dié skuif word volgens haar gemaak ná terugvoer van borge, feesgangers en inwoners.

“Borge en feesgangers verkies ’n feesterrein wat sentraal tot die hartklop van die KKNK is en die nuwe feesterrein by die kruising van Voortrekkerweg met Baron van Reedestraat en Langenhovenweg is dus ideaal,” sê sy.

Volgens haar sal die feesterrein in die toekoms ook nie ongerief vir inwoners veroorsaak nie, aangesien daar nié inwoners in dié gedeelte van Vredestraat wat gesluit gaan word woon nie.

Snyman sê feesgangers sal egter steeds alles waaraan hulle die afgelope agt jaar in die Rivierbuurt gewoond was, én meer, op die nuwe terrein ervaar. Benewens die aand- en dagverhoog, Liplekker met sy deli en wynproeë, verskeie stalletjies, kroeë en kuier- en rusareas, verskuif die ATKV-Speelbos ook na die feesterrein.

“Die Speelbos bied ure se pret en plesier aan die jongspan, waaronder Uitkampteater-aanbiedings, interaktiewe speletjies én ’n musiekprogram,” sê sy.

Die gewilde Kunsmark word ook op die Vredestraat Sportterrein ingerig. Dié area huisves die pretpark en mallemeule.

Toegangshekke tot die terrein word in Voortrekkerweg en Vredestraat ingerig.

Die volgende KKNK word van 29 Maart tot 4 April 2018 op Oudtshoorn gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

bgj van der westhuizen ·

no n fees wat begin is vir Afrikaans en nou moet dit vir almal wes wand die ander is te sleg om goed vir hulle taal te doen daar om stel ek nie belang om hulle te onder steen nie

Loeis ·

Ja, ek wonder nou juis: is Steve steeds daar verban omdat hy Die Stem sing?

Met hulle houding moet ons dalk met KKNK maak soos wat on smet Spur doen!

Gawie ·

As dit vir dieselfde redes is as waarom Aardklop na die sportstadion verskuif is – groter winste, gaan dit flop. Aardklop het destyds die plaaslike besigheidsmense baie te ná gekom.

Anton ·

Baie goeie nuus en die korrekte nesluit ba die organiseerders. Nou sal ons dit weer bywoon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.