KKNK-stigterslid sterf

Pieter Fourie is op 12 September in die ouderdom van 81 dood. (Foto: Protea Boekhuis/Facebook)

Verskeie mense het hulde gebring aan die skrywer en digter Pieter Fourie wat Sondag dood is. Fourie het op 3 April 81 geword.

Protea Boekhuis het op sy amptelike Facebook-blad Fourie se dood bevestig. Tussen 2002 en 2019 het agt van Fourie se dramas by dié uitgewer verskyn.

Volgens Protea was Fourie in vele opsigte ʼn baanbreker en het hom dikwels die gramskap van die apartheid-establishment op die hals gehaal, onder meer met ʼn voorgestelde drama oor die dood in aanhouding van die vryheidsvegter Steve Biko, wat hy ná ʼn wroeging vernietig het.

Die sangeres Amanda Strydom het ʼn foto van haar, Melanie-Ann Sher en Neels Coetzee op haar Facebook-blad gedeel. Dit is in 1979 tydens die verwelkomingsaand by Kruik, destyds die Nico Malan-teater en vandag die bekende Kunstekaap, geneem.

“Rus in vrede, liewe Pieter Fourie. Ou grote. Piet pyp. My eerste baas in die teater. Dankie vir al die dramas en gedigte uit jou pen, vir die onvergeetlike Faan se trein, vir die begin van die KKNK, vir my heel eerste kontrak by KRUIK in 1979.

“My hart gaan uit na Maletta, sy dogters, geliefdes en al die kollegas wat lang paaie met hom geloop het. Jy het diep spore getrap in ons wêreld, Pieter. Die spore bly.” [sic]

Fourie was van 1967 tot 1987 die artistieke direkteur by Kruik, daarna was hy betrokke by Truk, asook die stigterslid van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Fourie het van 1994 tot 1998 as uitvoerende hoof van die fees opgetree. Die Sakekamer van Oudtshoorn het Fourie in 2003 vereer vir sy bydrae tot die ontwikkeling van die streek.

Fourie sal onder meer onthou word vir die dramas Faan se trein (1975), Ek, Anna van Wyk (1986) en Die koggelaar (1988).

Die rolprentweergawe van Faan se trein is in Januarie 2014 kommersieel vrygestel, nadat dit by die kykNet Silwerskermfees van 2013 met nege toekennings bekroon is. Dit sluit in beste fliek, beste draaiboek, beste akteur vir Willie Esterhuizen in die rol van Faan en beste regisseur vir Koos Roets. Die rolprent is in 2015 ook met twee Safta-pryse bekroon.

Fourie het verskeie eerbewyse ontvang.

In 1996 ontvang hy die Erepenning vir Toneelkuns en die Gerhard Beukes-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het in 2003 ook die Hertzogprys vir sy drama-oeuvre ontvang. In 2010 word hy by die KKNK vereer met die Afrikaans Onbeperk-prys vir sy lewensbydrae, die Universiteit van die Vrystaat ken in 2011 ʼn eredoktorsgraad in drama aan hom toe, en in 2012 word hy by die Innibos-Kunstefees vereer vir sy uitnemende skrywersbydrae tot die Afrikaanse kultuurskat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacques ·

Rus in vrede, Pieter Fourie. “Ek, Anna van Wyk” was een van die beste werke wat ek nog ooit gelees het. Pieter is ‘n legende.

Skappie ·

Jammer om te hoor van Pieter. Sterkte aan sy gesin in hierdie moeilike tyd wat vir hulle voorle. Mag onse Liewe Heer julle styf vas hou .

Henning ·

Wat presies is die “apartheid-establishment” in jou berig, Christa? Wie is of was dit, kan jy die name noem, of sê jy dit sommer lukraak? Waarom gebruik jy die woord “establishment” – is daar nie miskien ‘n beter woord in Afrikaans nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.