KKNK vanjaar weer terug

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) sal ná ’n afwesigheid van twee jaar vanjaar weer plaasvind.

Feesgangers sal wel ten volle ingeënt moet wees indien hulle die 26ste KKNK vanaf 29 Maart tot 3 April in Oudtshoorn wil bywoon.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê die meeste van die gewilde elemente van die fees sal vanjaar weer aangebied word, hoewel dit op ’n nuwe manier verpak sal word om aan Covid-19-regulasies te voldoen.

“Ons sien daarna uit om weer kuns in die hartjie van die Klein‑Karoo te vier. Dit is vir ons heerlik om met nuwe oë na die fees te kyk. Ons nooi jou uit om aan die einde van Maart in die Klein‑Karoo te kom asem skep.”

Crispin Sonn, voorsitter van die KKNK-direksie, sê die organiseerders is verheug oor die moontlikheid om ná twee jaar weer op Oudtshoorn te kan feesvier.

“Alhoewel ons oor die afgelope tyd, terwyl die fees nie kon plaasvind nie, hope digitale vermaak aan feesgangers gebied het, is daar niks beter as om die KKNK in Oudtshoorn se natuurskoon en met Klein‑Karoo-gasvryheid in lewende lywe te ervaar nie.”

Vanjaar se feesprogram sal teen einde Februarie bekendgestel word met kaartjieverkope wat direk daarna sal open. Kaartjies na vertonings word egter weens die veiligheidsmaatreëls beperk.

“Indien jy eerste die geleentheid wil hê om te bespreek, sluit aan by ons Vriende van die KKNK-klub. Kontak gerus vir Daleen Witbooi by [email protected] vir meer inligting.”

  • Die KKNK bring sedert 1995 ’n beduidende ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn en die omliggende dorpe. Die fees kon egter weens die Covid-19-pandemie nie in 2020 of 2021 aangebied word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Ek dink nie die KKNK is ‘n inenting werd nie. Hou verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.