‘Kla baasbrein van Senzo Meyiwa-moord aan’

Aanhangers bring destyds hulde aan die vermoorde Bafana-kaptein, Senzo Meyiwa. (Argieffoto: Giordano Stolley/SAPA)

Die verhoor in die moordsaak van die voormalige Bafana-Bafana-kaptein Senzo Meyiwa sal in Oktober in die Palm Ridge-hooggeregshof in Johannesburg begin. Meyiwa is in 2014 vermoor.

Die vyf verdagtes wat van sy moord aangekla word, het weer Dinsdag vinnig in die Boksburg-landdroshof verskyn.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid en Meyiwa se familie het egter hul misnoeë uitgespreek oor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se versuim om te gelas dat die beweerde baasbrein in die moord op Meyiwa in hegtenis geneem en voor die hof gebring word.

Die saak sal op 19 Julie voortgaan met voorverhoorverrigtinge en op 25 Oktober begin. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die Meyiwa-familie in die saak.

Die verdagtes – Muzikawukhulelwa S’themba Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokoziseni Ziphozonke Maphisa en Sifokuhle Nkani Ntuli Sifiso – is ses jaar ná Meyiwa se moord aangekeer en staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, glo egter Meyiwa was die slagoffer van ʼn sluipmoord. Hy sê die NVG se gebrek aan optrede teen die baasbrein is kommerwekkend, veral omdat daar volgens dié eenheid genoeg bewyse is om dié persoon in hegtenis te neem. “Nou wil die aanklaer die saak na die hooggeregshof oorplaas op ’n klag wat nie die element van beplanning in ag neem nie. Ons het reeds met die vorige verskyning gesê dat die volgehoue versuim om teen die opperbrein op te tree die saak sal benadeel.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. (Foto: Verskaf)

“Dié persoon het na bewering sluipmoordenaars gekontrakteer om die moord te pleeg. Die huidige aanklag laat nie toe dat die afleiding gemaak kan word dat Meyiwa gedood is in die uitvoering van ’n sluipmoord nie. Dit is dus irrasioneel om die saak in hierdie stadium na die hooggeregshof oor te plaas.”

Nel sê vandag se toedrag van sake bevestig die gemeenskap se negatiewe ingesteldheid jeens wetstoepassers se vermoë om ’n komplekse saak soos hierdie doeltreffend en sonder enige politieke inmenging te hanteer. “AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die ondersoekspan deurgaans bygestaan en het simpatie met hul frustrasie oor die NVG se onwilligheid om die verdere verdagte aan te kla en tot die klagstaat te voeg. Die indruk is reeds geskep dat dié persoon teen vervolging beskerm word – en die huidige onwilligheid van die aanklaer om die persoon aan te kla, verskerp hierdie ingesteldheid.”

“Die samelewing het ’n reg om op bekwame, rasionele en redelike optrede van die vervolgingsgesag aan te dring, sonder dat daar enige politiekery betrokke is. Dit is een van die redes waarom AfriForum by hierdie saak betrokke is: Ons is dit aan die gemeenskap verskuldig om toe te sien dat die NVG sonder vrees, begunstiging of vooroordeel vervolg,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Volgens Zama en Nomalanga Meyiwa, Senzo se susters, wil die familie bloot hê dat geregtigheid vir hul broer moet geskied. “Die feit dat die baasbrein met hierdie verskyning steeds nie aangekla is nie, plaas die familie onder geweldige spanning. Ons wil sekerheid hê oor wat die aand van Senzo se dood plaasgevind het,” sê Nomalanga.

“Ons wil geregtigheid hê vir die dood van Senzo en verwag dat die wetstoepassingsowerhede partye teen wie daar bewyse is, aankla en voor die hof bring. Die familie is dankbaar dat AfriForum ons in hierdie saak bystaan om toe te sien dat geregtigheid – waarop ons al sewe jaar lank wag – uiteindelik geskied,” sê Nomalanga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Die NPA is bankrot. Hulle kan NIKS ondersoek want daar is nie geld nie. Hulle kon nie eers Steinhoff ondersoek want daar is nie geld nie. Toe se die NPA baie dankie vir R30 miljoen van af Steinhoff sodat die NPA Steinhoff kan ondersoek. Soe kan mens se dat Steinhoff ondersoek nou Steinhoff met Steinhoff se geld? As Zondo kommissie klaar is dan moet die NPA begin met al die getuienis wat Zondo uitgekrap het…….maar die NPA het nie geld nie. Die NPA is bankrot, en daar is nie meer geld om vir hulle te gee nie. Daar is geld vir SAL!

Androclus ·

Kla baasbrein van Senzo Meyiwa-moord aan.
ASB die baasbrein is die direkte oorsaak van die moord

Misky ·

Maar net weereens n bewys dat as jy wil geregtigheid hê, moet jy Afriforum/Gerrie Nel kry anders gebeur niks nie. Selfs Malema het al blanke prokureurs aangestel……

Chris ·

Waar is Cele om die saak op te los? Nee, Zenzo was nie ‘n polisie man nie, waarom sal hy nou sy tyd mors met dit. SA publiek maak oop jul oë en stem die ANC uit gedurende die komende verkiesing. Julle het nou die geleentheid om ‘n regering daar te stel wat ons pragtige land se belange op die hart sal dra en elkeen in die Naam van God sal beskerm.

Yvonne ·

Hoe is dit dan dat die persoon se naam nie genoem word nie….as dit anders om was was dit lankal hoofnuus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.