Klaar oorsaak van Knysna-brande uit, sê AfriForum 2 jaar later

knysna brande

Die verwoestende brand wat in die Knysna-omgewing gewoed het. Foto: Verskaf

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Donderdag kort voor die twee jaar merk van die verwoestende Knysna-brande gesê die werklike oorsaak van dié brande behoort uitgeklaar en bekend gemaak te word.

Reint Dykema, kennisbestuurder van AfriForum, het in ’n verklaring gesê die burgerregte-organisasie het destyds kort ná die brande wat op 7 Junie 2017 begin woed het, vir Helen Zille, voormalige Wes-Kaapse premier, toestemming gevra om dié brande onafhanklik te ondersoek. Die versoek is toegestaan en AfriForum het die forensiese wetenskaplike dr. David Klatzow genader om al die brande, spesifiek die brand in Elandskraal, te ondersoek.

Dykema het namens AfriForum die brande in samewerking met Klatzow ondersoek.

Klatzow se verslag oor die Elandskraal-brand en ’n verslag wat Clinton Manuel, ’n voormalige brandweerhoof van die Knysna-munisipaliteit, saamgestel het, is egter teenstrydig. Dít het daartoe gelei dat die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), wie se data “verkeerdelik en sonder die nodige toestemming deur Manuel gebruik is”, ook die oorsaak van die brande ondersoek het, verduidelik Dykema.

“Die WNNR het uiteindelik sy eie verslag oor die oorsprong en oorsaak van die brand saamgestel, wat bevestig dat die Klatzow-verslag korrek en die Manuel-verslag foutief is,” lui die verklaring.

Dykema verduidelik dat Klatzow se verslag daarop wys dat weerlig die brand op 12 April 2017 veroorsaak het, terwyl die Manuel-verslag op sy beurt die vinger na brandstigting wys.

ʼn Google Earth-foto wat op 20 April 2017 geneem is en by die Klatzow-verslag ingesluit is, bevestig dat die westelike Knysna-brand op die plaas Elandskraal naby die Karatara-rivier ontstaan het. Luidens die Klatzow-verslag het dié vuur weke lank gesmeul, waarna dit versprei het tot die brande wat op 7 Junie 2017 in en om Knysna begin woed het.

“AfriForum sal dit verwelkom as die Knysna-munisipaliteit homself amptelik van die Clinton Manuel-verslag distansieer, met spesifieke verwysing na die foutiewe aanduiding oor die oorsprong en die oorsaak van die Elandskraal-brand. Ons vertrou ook dat die munisipaliteit ’n interne ondersoek sal loods oor waarom die Knysna- en Sedgefield-brandweer besluit het om die smeulende Elandskraal-brand te ignoreer,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Brandstigting. Ons weet dit reg van die begin af. Huise is fluks geplunder in die proses. Ek vermoed dis egter nie polities korrek om n ding op die naam te noem nie.

Stephan de S ·

Hierdie is n belangrike saak om op te volg……mense wat groot salarisse ontvang om n professionele diens te lewer, kan nie net wegkom met leuens en sonder enige aanspreeklikheid. Hd gebrek aan aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid is een vd redes vir die agteruitgang v ons land. Net verlede week deur Knysna gery en gedink aan die onmeetbare skades wat baie mense gely het( veral die mense met n gemiddelde inkomste) terwyl niemand aanspreeklik gehou word nie…..ook skynbaar die stadsraad wat professionele mense —- waarvoor belastingbetalers ten duurste betaal en ook die meeste skade gely het —-
het om voorkomende maatreels te tref. Ek hoop dat Afriforum die saak sal deurdruk totdat die waarheid en aanspreeklikheid seëvier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.