Klag by MRK ingedien oor toilet-stelsel

Argieffoto Foto: milkwood.net

Argieffoto Foto: milkwood.net

Die Demokratiese Alliansie het Maandag ʼn klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien oor die toename van die emmertoiletstelsel in drie provinsies.

“Daar is ʼn toename in die gebruik van emmertoiletstelsels in die Oos-Kaap, Noordwes en KwaZulu-Natal,” het Kevin Mileham, woordvoerder van samewerkende regering en tradisionele sake vir die DA, gesê.

Die ergste oortreder is die Oos-Kaap waar die aantal huishoudings wat van die stelsel gebruik moet maak, in een jaar tussen Junie 2012 en 2013 van 38 606 na 52 732 gestyg het.

Die inligting is gebaseer op ʼn verslag wat op 28 Augustus deur Statistiek SA vrygestel is.

Die aantal huishoudings in Noordwes en KwaZulu-Natal wat van die emmertoiletstelsel gebruik moet maak het ook verhoog. In Noordwes het 1 481 huishoudings in 2012 van die stelsel gebruik gemaak. Dié getal het in 2013 gestyg na 1 750.

In KwaZulu-Natal het geen huishoudings vroeër van die stelsel gebruik gemaak nie, maar volgens Stats SA is daar in 2013 altesaam 1 585 huishoudings wat van die stelsel gebruik moet maak.

Mileham en Nosimo Balindlela, woordvoerder vir water van die DA, tesame met plaaslike DA-raadslede, het die klag by die Walmer informele nedersetting in Port Elizabeth by die MRK ingedien. “Ons het op Walmer informele nedersetting besluit, aangesien Port Elizabeth die grootste styging gehad het, naamlik 8 000 huishoudings.”

Mileham sê die probleem duur voort weens ʼn tekort aan politieke wilskrag en niks gebeur op plaaslike regeringsvlak nie. Hy sê dit is ʼn kwessie van nasionale prioriteit en moet deur die plaaslike, provinsiale en nasionale regering aangespreek word.

By die Nelson Mandela Bay-munisipaliteit is miljoene rand oor die afgelope drie jaar begroot om die probleem aan te spreek. “Dit is die armste mense wat hieronder ly,” het Mileham bygevoeg.

Die DA hoop dat die MRK in 2015 ʼn verslag kan vrystel oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan Botha ·

Ek verstaan nie regtig die bohaai oor die emmer toilette nie. Ekt in die 50s en 60s in George groot geword. Ek was al in st3 toe ons spoeltoilette gekry het. Niemand het gekla nie en ons het niks oorgekom nie. In die laat sewentigs- tagtigs het ek gebly/gewerk as gesondheidsinspekteur in Cookhouse en daar was dit dieselfde. My kinders het daar deels groot geword met die emmerstelsel sonder nadelige gevolge.
Almal wil spoeltoilette he, maar niemand bou damme nie.

Paplepel ·

Die berig is weer net uit op sensasie. Waar is die nodige inligting? Gebruik hulle die emmerstelsel teenoor geen stelsel van tevore (goed) of gebruik hulle die emmerstelsel omdat die bestaande spoelstelsel nie meer werk nie?(sleg) Die berig verwys na die Oos-Kaap as die “ergste oortreder”. Van wanneer af is dit ‘n oortreding as jy iemand basiese higiëne verskaf? Dis ook ongelukkig ‘n basiese lewensfeit dat die armes eerste die emmerstelsel sal kry.” ‘n Arm man het nie size nie.”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.