Klag ingedien oor riool in Wilgerivier

(Foto verskaf)

Die VF Plus het Vrydag ‘n strafregtelike klag ingedien teen die munisipale bestuurder van die Mafube- plaaslike munisipaliteit en die res van sy munisipale bestuurspan oor die storting van rou riool in die Wilgerivier by Frankfort in die Vrystaat.

Die munisipaliteit, wat Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling bedien, se rioolwerke is buite werking weens grond en klippe in die riooldam en wanneer die aanleg wel funksioneer, is dit net vir ʼn kort rukkie, sê Jan van Niekerk, provinsiale leier van die party en premierskandidaat.

“Riool loop ook op verskeie ander plekke in die Wilgerivier. ʼn Kontrakteur is glo aangestel om die dam skoon te maak, maar in al hierdie tyd het hulle slegs ʼn hopie grond van sowat ʼn halwe meter hoog uitgehaal,” het hy verduidelik.

Die Wilgerivier, wat duisende mense en diere van water voorsien, loop na die Vaaldam, wat op sy beurt weer bykans die hele Gauteng van water voorsien.

Die Mafube-munisipaliteit is reeds sedert 2017 onder provinsiale administrasie, maar dit het onder provinsiale ingryping net verder agteruit gegaan.

Een van die ANC se groot dryfvere in elke begroting en verkiesingsveldtog is om die emmerstelsel uit te wis en toe te sien dat inwoners van veral informele nedersettings toegang het tot werkende rioolinfrastruktuur, soos spoeltoilette.

“Die ANC het ook in hierdie doel jammerlik misluk. In Mafube het die inwoners nie toegang tot spoeltoilette nie en word selfs die emmerstelsel-diens nie meer gelewer nie,” het Van Niekerk gesê.

“Die Grondwet bepaal dat elke burger die reg het tot ʼn omgewing wat nie skadelik is vir sy of haar gesondheid of welstand nie. Hierdie blatante besoedeling is lynreg teen die bepalings van nie net die Grondwet nie, maar ook die wetgewing wat uiting gee aan die Grondwet, soos die Afvalbestuurswet en die Nasionale Waterwet.

Hy het gesê dit is tyd dat munisipale bestuursamptenare die gevolge van die swak prestasie van munisipaliteite begin dra. “Dit is onaanvaarbaar dat munisipaliteite, veral op die platteland, toegelaat word om tot so ʼn mate te verval dat dit gesondheidsrisiko’s vir inwoners begin inhou.”

Die VF Plus sal deurentyd in die belang van die publiek terugslaan teen swak dienslewering en die menseregtevergrype van die ANC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hanna Hoekom ·

En op 8 Mei stem “our people” maar weer vir die cANCer. Fighting a losing battle.

Basjan ·

“Our people” is duidelik tevrede met die toedrag van sake. Hulle het nie meer my simpatie nie.

Bolly ·

Diere drink die besoedelde water en groente en vrugte word daarmee besproei. Skokkend dat n land so agteruitgaan, bo blink en onder stink! Nou verval als al vinniger, maar die regering kan dit nie sien nie.

humor ·

Dan het die anc nog die vrymoedigheid, verwaandheid om n verkiesing in te gaan met die doel om verder te regeer. In hul stiksienigheid, magsgedrewendheid besef hul nie dat hul nie die vermoe het om die land te regeer nie.

Henk ·

Mense moet ‘n slag bykom. Die rioolstorting is nie net tot Frankfort beperk nie, maar begin ver stroom=op, in hierdie geval by Bethlehem waar riool in die Jordaan rivier gestort word. Die Jordaan loop in Loch Lomond in , Loch Lomond loop op sy beurt weer uit in die Liebenbergsvlei wat water vanaf die Katse dam via die Wilge rivier na die Vaaldam vervoer.Al die dorpe langs die riviere gebruik die riviere as gerieflike stortings terrein vir riool en daar word niks aan dit gedoen nie. Naar maar waar

Johnna ·

Wanneer gaan hierdie mense besef hulle kan nie n land regeer nie.Ons land word in die grond in gery wat nog moet gebeur.

Pierre ·

Julle verstaan verkeerd dis nie ons land nie dis hulle sin. Hulle is heeltemal tevrede met hoe dinge in die land gaan daarom stem hulle elke keer vir die cANCer. Dis hoe hulle is en dis hoe hulle wil lewe PUNT. Stel gladnie belang om in beter omstandighede te lewe nie.

Johanna Botha ·

In die land is dit moord en doodslag , verkragting en geplunder al om n mens nlu word mens nog omsingel deur riool !

Dries du Toit ·

Dit is seer en tragies maar dit is waar PIERRE. Ons moet staak om te poog om hier te probeer regeer of saam hulle te probeer regeer. Dit mors waardevolle tyd. Tyd moet gebruik word om selfbeskikking na te jaag. Dit kan ook net gebeur as ons getel word en dit kan net gebeur as ons versamel onder een politieke party. Indien daai party dan namens n volk kan praat dan kan ons simpatie by die wereldmagte kry wat ons daardie basiese volkereg van srlfbeskikking afdwing. Hierdie reg is ook in ons grondwet gesetel

Wat kan ek sê? ·

Dis ‘n goeie ding , die aanklag. Dis net dat die tydsberekening dui daarop dat maar net nog ‘n verkiesingsfoefie is. As die VF+ eerlik was, sou die saak al ‘n paar jaar terug gemaak gewees het toe die probleem begin het.

Bossie ·

Henk ja, dit sal my verbaas indien daar nog Uitvalwerke is wat werk. Moontlik in die Kaapprovinsie maar verder betwyfel ek dit. Ons gebruik al baie jare ‘n watersuiweraar maar soos jy sê, mens bly naar vir die watersituasie. Wag maar indien die krag permanent afgaan, wat gaan gebeur, dan gaan riool in elke dorp se strate afloop. Hierdie gaan al jare aan maar na die verkiesing, wanneer die kragopwekkers nie meer diesel het nie en niemand meer geld vir SA gaan leen nie, is waaroor ons mense ernstig oor bekommerd moet wees. Dit gaan in chaos ontaard. Gaan luister na Ted Blom en bly ingelig. Eskom se kragstasies werk nie sommer net weer nie. Kragopwekkers is nie volhoubaar nie. Hier is groter … oppad. Letterlik en figuurlik. Maroela, dalk kan julle daaroor berig sodat die werklike stand van sake aan die lig gebring kan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.