Klag ná belediging van baba met Down se sindroom

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die ma van ’n agt maande oue babadogtertjie met Down se sindroom het ’n saak van crimen injuria teen ’n man van Pretoria aanhangig gemaak, nadat dié na bewering beledigende kommentaar oor haar en haar baba op sosiale media gelewer het.

Ouers van ander kinders met Down se sindroom het intussen na vore gekom en gesê ook húlle het aanstoot geneem oor die beledigings wat geplaas is.

Anthony Boucher, ’n private speurder, sê die babadogtertjie se ma het hom Maandag genader. Hy moes help om die man op te spoor wat haar profielfoto – waarin sy en haar kind verskyn – verlede Vrydag ná ’n woordewisseling in die kommentaarafdeling van ’n groep op Facebook geplaas het.

Boucher sê ’n vriendin van die ma het aanvanklik vir raad op die betrokke groep op Facebook gevra. Die betrokke man het die vriendin in die kommentaar daarvan beskuldig dat sy ’n bedrieër is. Die ma het toe besluit om haar vriendin te verdedig en hom daaroor aangevat.

Dit is tóé dat die man glo sy visier op die ma rig en haar profielfoto in die kommentaar met lag-emoji’s plaas. “Hy het waarskynlik gedink dit is die perfekte invalshoek om die ma seer te maak,” vertel Boucher aan Maroela Media.

Die ma het die man gevra om die foto te verwyder en is toe daarvan beskuldig dat sy ’n bedrieër is en dat sy dwelms tydens haar swangerskap gebruik het en Down se sindroom by haar baba veroorsaak het.

Albei partye het mekaar in ’n stadium beledigings toegesnou.

Die pa van die kind het later ’n private boodskap oor Facebook aan die man gestuur en is toe ook beledig.

“Dit was ’n baie lelike storie,” vertel Boucher aan Maroela Media. “Die ma het seergemaak gevoel. Sy het dit nie net as ’n aanval op haar nie maar ook op haar kind beskou.”

Boucher het vandeesweek ondersoek ingestel en kon die man se besonderhede bekom, sodat die ma ’n saak teen hom by die polisie aanhangig kon maak.

Die storie het sedertdien die plaaslike media gehaal en Boucher is vroeër vandeesweek deur ’n pa van Pretoria genader wat self ’n kind met Down se sindroom het en baie ontsteld was ná die petalje.

“Selfs hulle is seergemaak oor wat hulle daar lees.”

Boucher sê hy het besluit om die saak pro bono te laat ondersoek aangesien die stigma rakende Down se sindroom en boeliegedrag op sosiale media aangepak behoort te word.

“Ek het gevoel dit is ’n beginselsaak. Jy sien soveel boeliery op Facebook – al kan ons net van hierdie man ’n voorbeeld maak en só ander in die toekoms help om te dink voordat hulle iets op sosiale media plaas.

“So iets kan nie net daar gelaat word nie. Dit is absoluut onaanvaarbaar.”

Maroela Media het Vrydagoggend ’n navraag aan die polisie gestuur rakende die klag wat ingedien is en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sarel ·

Daar is te veel mense wst Sosiaie Media so misbruik.
Maar sal graag wil volg hoe lank die saak gaan duur en
of daar iets van gaan kom.

Kobus ·

Kan mense nog so ongevoelig wees? Sies man, wonder of jy volmaak is.

Tanniepetoors ·

Dit is sulke tye wat ek wil swig onder die versoeking om ‘n mens te verwens. Hoe laakbaar van hierdie “man” om neerhalend te wees teenoor hierdie kindjie en ouers.
Ek stem saam, maak ‘n voorbeeld van hom. Hoop sy naam word wyd bekendgemaak en hy betaal miljoene skadevergoeding.

Pampoen ·

As die Ma nou net nie DEELGENEEM het aan die oor en weer beledigings nie, dan was haar kant nou skoon.

Jean ·

Albei partye het mekaar in ’n stadium beledigings toegesnou….. en nou sal die mense net eenkant kies.

Chantel ·

ai, ek is bitter jammer vir die mamma, ek hoop geregtigheid geskiet. SWAK van die man

Mieke ·

In die lewe gáán mens maar met onopgevoede en gemene mense te doen hê… beste is om net nie te reageer nie, want dan kry hulle éérs hul sin.

Prontuit ·

Ek sou beslis ook nie stilgebly het as jy my kind aanvat nie no way hozey ordentlik grootgemaak of nie GEEN ouer wat sy sout werd is sal nie sy kind verdedig nie moenie my daai een vertel nie dis in ons bloed ons beskerm wat naby aan ons harte is – hy moes sy opinie vir homself gehou het

marthie ·

Ek sou ook mens weet nie hoe dit mens seer maak nie veral ‘n ouers met sulke kinders as hul nie van downsindroom kinders spot of vieslik praat nie dan praat hul van ander kinders wat erger gestrem is hoop daai daai ou word goed gestraf hoe durf hy

Antjiepat ·

Kan net se uit persoonlike ervaring (ek het self ‘n down sindroom meisiekind). Nie net down-sindroom nie maar nog ander spesiale liggamlike behoeftes ens ens. Een ding wat ek en my gesin bitter swaar geleer het… hou alle foto’s van jul kind, hetsy baba foto’s hetsy tiener foto’s, uit die media. Daar is mense daar buite wat maar net gevoelloos is en nie verstaan wat presies Down Sindroom is nie. Om ons meisiekind te beskerm het ons nerens ‘n profiel van haar of word ‘n foto van haar op sosiale media geplaas nie… ons is al deur hel toe daar eenkeer ‘n foto van haar as kleuter geplaas is en ons het net besluit nooit weer… sterkte aan die ouers (al het die mamma ook nou betrokke geraak in die bek geveg) bly nog steeds ‘n mamma wat opgekom het vir haar kind.

Tanniepetoors ·

Jou kind is jou kind. Maak nie saak.of daar iets nie perfek is nie. Jy neem nog steeds ‘n pragtige foto van jou pragtige kind. In my oë was myne Godgegewe perfek en het ek met haar prestasies gespog oraloor. Vir my was sy Godgegewe en ‘n wonderwerk. Soveel vreugde geput uit die tyd wat sy vir ons gegun was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.