Klag ontvang teen Madonsela oor Nkandla

Thuli Madonsela Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn Ad hoc komitee wat ʼn verslag vir die Nasionale Vergadering voorberei rakende ondersoeke oor opgraderings by Nkandla, het Donderdag gehoor ʼn formele klag is ingedien waarin daar versoek word dat “regstellende stappe” teen die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, gedoen moet word.

Die komitee, wat hoofsaaklik uit ANC-LP’s bestaan nadat opposisiepartye uitgestap het, het besluit om die klag van “growwe wangedrag” teen Madonsela na die parlementêre portefeuljekomitee vir justisie te verwys.

Die groep, Concerned Lawyers and Educationists for Equality before the Law, wat hoofsaaklik uit ʼn groep KwaZulu-Natalse prokureurs bestaan wat simpatiek is jeens pres. Jacob Zuma, het die klag ingedien. Hulle meen Madonsela het nie haar gevolgtrekkings in haar ondersoek oor opgraderings by Zuma se huis in Nkandla, getoets nie en dit is “propvol foute, onwaarhede, teenstrydighede en onverskoonbare flaters”.

Die groep het gesê die reputasie van die president en die land het skade gely en dit het moontlik daartoe gelei dat Suid-Afrika se kredietgradering gedaal het.

Hulle meen die tydsberekening dat die verslag in Maart vrygestel is, is ook vooraf beplan om die ANC tydens die verkiesing in Mei skade te berokken en opposisiepartye te bevoordeel.

Hulle het versoek dat Madonsela dadelik uit haar amp verwyder moet word indien sy die grondwet en die Wet op die Openbare Beskermer oortree het.

Die komitee het gesê hy gaan die Speaker vir uitstel versoek omdat hulle meer tyd benodig om die voorlopige verslag saam te stel. Die sperdatum was aanvanklik 24 Oktober.

Opposisiepartye het verlede maand uit die komitee onttrek en gesê hulle gaan nie deel wees van ʼn proses wat “ontwerp is om Zuma teen aanspreeklikheid te beskerm” nie. Hulle het op 3 Oktober aangedui hulle sal self hul eie verslag aan die parlement oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

alet ·

Los haar uit die ANC is gekwes en hulle weet dit los haar dat sy haar werk doen as sy moet bedank dan moet Zuma ook waai.Sy haal skelm uit en julle bevorder hulle

renette ·

Klink meer soos “Concerned Lawyers for ANC criminals”

scalla ·

dood het n oorsaak, anc kan nie feite face nie… korrupsie deel van hul weksaamhede

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.