Klag oor regering se rassebeleid ingedien

Dirk Hermann. (Foto: Rozier van Tonder/Okay Deer.)

Solidariteit het Dinsdag ’n klag teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies (VN) se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) ingedien.

Indien Solidariteit suksesvol is, sal die regering sy beleid van regstellende aksie moet wysig. Suid-Afrikaanse wetgewing bepaal dat plaaslike wetgewing aangepas moet word aan die hand van internasionale konvensies. Indien die regering steeds sou weier om sy beleid te wysig, kan Solidariteit hom tot Suid-Afrikaanse howe wend om die regering te dwing om sy beleid te verander.

Die klag fokus op die regering se beleid van rasseklassifikasie, spesifiek met betrekking tot regstellende aksie. Solidariteit voer aan die beleid voldoen nie aan die aanbevelings wat CERD, asook die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) daaromtrent aan die regering gemaak het nie. Volgens Solidariteit is dit die eerste keer dat daar ’n substantiewe klag teen die regering se rasbeleid ingedien word en dit word daarom as ’n historiese klag beskou.

Vir die klag om te kan slaag, moes Solidariteit kon bewys dat hy massasteun daarvoor het. Minstens 300 000 mense het aangedui dat hulle dié klag ondersteun.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, spruit dié klag teen die regering vanuit ’n jare lange strawwe litigasieproses.

Solidariteit het reeds in 2015 ’n verslag by CERD ingedien waarin aangedui is dat die regering nie aan die VN se Internasionale Konvensie oor die uitskakeling van alle vorme van rassisme voldoen nie. Dit het daartoe gelei dat CERD ’n aanbeveling gemaak het wat die regering se rasseklassifikasie gekritiseer het.

Die SAMRK het boonop in 2018 in ’n verslag bevind dat die Wet op Gelyke Indiensneming, na aanleiding van CERD se aanbeveling, gewysig moet word. Die regering het egter nie die aanbeveling van CERD óf die bevinding van die SAMRK ingestel nie.

Solidariteit het oor die afgelope ses jaar ook verskeie howe oor die saak genader, maar ook dít het geen vrug afgewerp nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die feit dat die regering met sy rasbeleid volhard, ondanks CERD en die SAMRK se verslae, plaas Solidariteit in ’n baie sterk posisie om die regering se rasbeleid by die VN uit te daag.

“Suid-Afrika onderteken die VN se konvensie teen rassisme. Die land is dus verplig om sy wetgewing daarvolgens aan te pas,” sê Hermann.

Volgens Hermann poog die regering om ’n rasgebaseerde samelewing in Suid-Afrika te normaliseer en sy ideologie in werkplekke, by universiteite, op die sportveld en selfs by kinders in skole af te dwing.

“Die regering het verder met sy rasbeleid gegaan as wat enige internasionale konvensie toelaat. Waar jy werk, watter posisie jy beklee, wat jy mag studeer, en watter span jy haal, word nie op meriete toegeken nie, maar volgens ras beoordeel en uitgedeel. In Suid-Afrika word jou vermoë om aan ’n velkleur-vereiste te voldoen hoër geag as jou vaardighede.

“Ons kan nie toelaat dat hierdie soort rassediskriminasie genormaliseer word nie. Dit is elke geslag se plig om teen sulke onreg te veg.”

Solidariteit beoog om mosies oor wat hulle die regering se rasmalheid noem, ook by verskeie Europese parlemente in te dien. Die VN is eerste genader omdat hy hom reeds sterk teenoor die regering se rassediskriminasie uitgespreek het.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, sê omdat Suid-Afrika sterk bilaterale verhoudings met talle Europese lande het, waaronder Duitsland, Nederland, België, Frankryk en Oostenryk, sal die volgende stap wees om die Europese Unie ook oor die saak te nader.

“Ons sal eers sterk op Europa fokus weens Suid-Afrika se sterk bande met lande op dié kontinent. Van hierdie lande het dit reeds ’n prioriteit gemaak om te sien hoe Suid-Afrika as demokratiese land slaag. Ons sal daarna steun van ander lande, soos die VSA en China, ook probeer werf,” sê Kleynhans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Herpiet ·

Sterkte en dankie Dr Herman dat julle probeer. Die SA howe word deur die Anc beheer onthou.

ES ·

Nee Herpiet, die Regsbank is heeltemal onafhanklik van die Staat, al word die Regterpresident deur die President van die land aangestel.

Willem ·

Heeltemal onafhanklik, met julias malemma die voorsitter van die kommitee wat die regers aanstel. Gaan doen gerus jou huiswerk.

Anoniem ·

Die regering is verantwoordelik vir die huidige Rassisme en Rassehaat. Dit is hul wat dit aanvuur deur hul dubbele standaarde. Die Regering sien hul mense is nie opgewasse/opgelei om die posisies te belkee nie, maar hul ploeter net eenvoudig voort. Die Regering weet nie wat MERIETE beteken nie.

koos10 ·

En dan gaan CR en vertel vir die wêreld dat dit nie waar is nie en dat dit nie bestaan nie. Onthou julle nog sy plaasmoorde stelling!

Ria ·

Kommunistiese bestel. Lankal bewys as onsuksesvol, maar hulle ploeter voort. Plaasmoorde moet weer bo aan die agenda geplaas word. Dis skreiend hoe mense hulle lewens verloor en getraumatiseer word deur swakkelinge wat onskuldiges teiken.

Ria ·

Moenie bekommer nie. Hulle kan nie eers die straatligte se knoppue kry nie

Wakkerslaper ·

Ek steun julle 100% en alle sterkte met julle pogings….. maar ek is bevrees hier gaan baie min van kom, 1. Met die groeiende anti-wit sentiment gaan die res van die wêreld nie veel voel vir ons saak nie. 2. Die ANC terroriste regime gaan hulle beslis nie steur aan die VN en internasionale howe nie. 3. Die ANC se oorspronklike plan is in volle swang – beskuldig, verdeel, verarm, ontwapen, onteien en vernietig die Boere.

Maar, kom ons kyk maar hoe verloop dinge, die een ding is seker – die wêreld kan nie omdraai en sê ons Boere het nie alle beskaafde en wettige maniere probeer om ‘n gewapende konflik te probeer vermy nie.

Riaan ·

Hoe lank na die indien van die dokumentasie kan mens ‘n “antwoord” / reaksie verwag ?

Belinda ·

Imagine dit word bewaarheid. Mense kry werk vir die geleerdheid / ondervinding wat hul het en nie oor wie en wat hul is nie. Dan kan B-BEE geskrap word en enige klein of groot besigheid kan dan makliker handel dryf. Baie besighede werk deur middel-manne omrede hul nie B-BEE geregistreer is of kan word nie. Op die ou einde kan elke een-man saak n kans staan om sy besigheid te bou. Eks seker daar sal minder bedrog ook dan gepleeg word. En die EFF kan ophou om haatspraak te lewer sonder om aangeraak te word want CR is te bang om hom op sy plek te sit. Ons KAN almal saamwerk as daar minder mense is wat kwaad stook.

Kokkie ·

Ek kan nie genoeg dankie sê vir Afriforum en Solidariteit nie. Dankie! Dankie! en duisendmaal dankie vir al julle aksies. Julle is regtig my enigste hoop in ons land.

Harley Davidson ·

Ons moet soos een Solidariteit ondersteun, finansieel en hulp verleen waar ons kan as die rasistiese wet geskrap word sal die ekonomie sterker word en meer mense in ‘n werk sit.

Skuilnaam ·

Wat is BEE en AA anders as blatante rassediskriminasie?

Margaret ·

Dankie Solidariteit! Ons ondersteun hierdie aansoek absoluut.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.