Klag oor sage by Vishoek-skool ingedien

(Foto: quicket.co.za)

Die VF Plus het ʼn klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien rakende die diversiteitsopleiding by Fish Hoek High School in Vishoek, Wes-Kaap, wat leerders erg getraumatiseer het.

Die klag is teen die Wes-Kaapse onderwysdepartement, die LUR vir onderwys, David Maynier, en die groep kursusaanbieders wat die opleiding gedoen het. Die klag is ingedien namens bekommerde ouers wat uitgereik het na die VF Plus ná die opleidingsessie.

Die VF Plus vra dat die MRK die saak ondersoek, asook die materiaal wat by die sessie aangebied is, en om ʼn uitspraak te maak rakende die grondwetlikheid daarvan.

“Die VF Plus het genoeg bewyse ingesamel om te bewys dat die voorval ʼn dramatiese inbreuk gemaak het op die grondwetlike regte van die leerders,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se nasionale voorsitter. Hulle is veral ook bekommerd oor die aanval op die Christengeloof en leerders se reg op vryheid van spraak.

Die diversiteitsopleiding is deur die departement gefasiliteer en het 31 Oktober by die skool plaasgevind na aanleiding van ʼn beweerde voorval van rassisme vroeër vanjaar.

Maroela Media het vroeër berig ouers was woedend en talle leerders getraumatiseerd oor die inhoud van die aanbieding – oor geloof en rassisme – terwyl verskeie organisasies skerp kritiek gelewer het op die ingryping wat van stapel gestuur is ná ʼn beweerde rassevoorval by die skool.

Sommige leerders is glo só ontstel deur die gebeure dat hulle sielkundige berading moes ontvang.

Skending van regte

Argieffoto

Volgens Alberts is die leerders se reg op vryheid en veiligheid geskend weens die feit dat hulle teen hul wil in ʼn skoolsaal gehou is sonder die wettige oorsig van die onderwysers wat buite die saal moes wag.

“Geen leerder is toegelaat om uit die saal te gaan nie en geen onderwysers is binne toegelaat nie in weerwil van die gesag wat onderwysers het om na leerders om te sien in die afwesigheid van hul ouers of voogde. Die leerders is ook verbied om ʼn opname van die opleidingsessie te maak.

“Hierdie onwettige isolasie van die leerders het die voorwaarde geskep vir die verdere ondermyning van hul regte. ʼn Geheimsinnige en sielkundig predatoriese omgewing is sodoende geskep waar die leerders sonder beskerming gelaat is.”

Soos vroeër berig, het leerders tydens die kursus onder meer glo gehoor dat swart mense nie rassisties kan wees nie en indien daar werklik omgekeerde rassisme was, almal in die skool ʼn Afrikataal sou praat en nie toegelaat sou word om hul eie taal te praat nie.

Volgens Alberts vorm hierdie stelling die fondament van kritieke rasteorie, is inherent ongrondwetlik en skree teen die gelykheidsbeginsel vervat in art. 9 van die Grondwet.

“Een van die wit leerders het in reaksie gevra hoe swart-teen-wit-plaasmoorde dan verstaan moet word, maar hy is met minagting stilgemaak, wat ʼn verbreking van art. 16 van die Grondwet daarstel wat vryheid van uitdrukking beskerm.

“Die onderdrukking van gesonde debat is net nog ʼn rooi vlag wat aandui dat leerders opgestel is om weerlose subjekte van propaganda in die vorm van kritieke rasteorie te wees.”

Die uitsprake wat tydens die sessie teenoor die Christendom gemaak is, is volgens Alberts godslasterlik.

Die aanbieder het ʼn gedig aangehaal sonder om die konteks daarvan te verduidelik waar dit, onder meer, lyk asof die Christenskap gelykgestel word aan wit patriargale oorheersing. Die Drie-eenheid is voorgestel as ʼn vreemde liefdesdriehoek en die moontlikheid is opgeroep dat die Heilige Gees queer kon wees.

“Hierdie ongevraagde aanval op die Christendom voor minderjarige leerders is onregverdigbaar en ʼn wesenlike verbreking van die reg op godsdiensvryheid in terme van art. 15 van die Grondwet vir mense wat die Christenskap soos vervat in die Bybel bely.”

Alberts sê samevattend was die sielkundige aanval op die leerders ʼn wesenlike verbreking van hul reg op integriteit in terme van art. 10 van die Grondwet, asook ʼn verbreking van die regte van kinders in terme van art. 28 van die Grondwet.

“Art. 28 waarborg die reg op beskerming teen mishandeling, nalatigheid en afknouery en vereis dat daar bowenal altyd in belang van kinders opgetree word. Dit was beslis nie die geval tydens dié opleidingsessie nie.”

Alberts sê dit is van groot belang dat die MRK hom in die algemeen uitspreek teen die verwronge idees vervat in die ideologie van kritieke rasteorie en meer spesifiek ʼn pad van herstel skep ná die sielkundige skade wat aangerig is aan die leerders by die Hoërskool Vishoek.”

Geen reaksie van departement

David Maynier, LUR van onderwys in die Wes-Kaap (Foto: Courtney Africa, ANA)

Daar is ook verswarende omstandighede wat teen die Wes-Kaapse onderwysdepartement tel, sê Alberts.

Die organisasie sonder winsbejag, Free Speech Union of South Africa (FSUSA), het voorheen twee keer aan die LUR geskryf om hom te waarsku oor die negatiewe inhoud wat vervat word in diversiteitskursusse in die Wes-Kaap.

FSUSA het veral klem gelê op die vernietiging van sosiale kohesie en vryheid van spraak deur die diversiteitskursusse.

FSUSA se eerste brief is nie beantwoord nie waarna ʼn tweede brief aan die LUR gerig is. Iemand in sy kantoor het aangedui dat hy wel sal reageer, maar dit het blykbaar nooit gebeur nie.

Maynier het sowat ʼn week ná die sessie die departement opdrag gegee om ʼn dringende hersiening van enige beleid, riglyne en/of regulasies te doen wat die departement se verkryging van dienste by eksterne diversiteitskonsultante reguleer.

Hy het gevra dat die Wes-Kaapse regering se regsdienste raad gee oor regsopsies wat verband hou met die diensverskaffer se gedrag tydens die ingryping self.

“Dit sal insluit of daar gronde is vir ʼn siviele skadevergoedingseis in hierdie verband,” het Maynier gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

47 Kommentare

Roek ·

Net soos FW en Roelf wat belowe het die minderheids groepe sal beskerm word !

Rooikoos ·

Hulle was genoeg betaal deur die kommuniste om te kapituleer.

Johann ·

Dis nou dieselfde MRK wat NIKS fout sien met “one fo all toilette” by skole?

JohanR ·

Johann – ons sal wag vir die eerste verkragting in die “one for all” toilette! Jy kan miskien groot mense saam sit in ‘n one for all maar tieners???

Piet parys ·

Die hoof het die propaganda veldtog teen blankes en christendom toegelaat. Dank hom af. Die mense is betaal om dit te propegeer en deur wie? Wie het dit goed gekeur en teen watse koste . Haal hulle almal permanent uit die hele spul is besig om kinders te breinspoel .Besig om hulle communisme op kinders af te dwing .

Frank ·

Die hoof het nie geweet wat die inhoud daarvan was nie maar ek raai kan nuusberigte seker nie behoorlik lees nie

Koen ·

So van breinspoel gepraat. Die ou NP/NG/broederbond het dit meesterlik reggekry.

Lourens ·

Ja Koen. Maar dit het 35 jaar gelede al opgehou. En hulle was 40 jaar aan bewind , so daar is sedertdien al amper net soveel tyd verby as dit.
Dit maak steeds nie wat hier gebeur het reg of aanvaarbaar nie.

Michael ·

Wel die dametjie wat dit gedoen het is glo tussen R80,000-100,000 betaal.

Daisy ·

Ek kan net juig dat ek nie meer kinders op skool het nie. Ek het ‘n kleinkind wat tuisskool, waarmee ek nie regtig saamstem nie, maar as mens kyk wat in skole aangaan is dit regtig die pad vorentoe vir ons kinders.

Jacobus ·

Dankie VF+ slaan die ANC met hulle eie medisyne. Volg asb net hierdie klagte gereeld op, iemand moet verantwoordelik wees.

Michael ·

Dis nie die ANC nie, die Wes Kaap is DA, die skool hoof het die departement onderwys genader vir raad, na daar deur van die studente, let wel, twee jaar terug, rassistiese aan tuigings gemaak is op Instagram op ‘n anonieme profiel.
Die Departement het die vroutjie iewers op getel en haar toe gelaat om te doen wat sy wil, van wat ek verneem is die Departement van Onderwys in die Wes Kaap baie “woke” en genoeg om anti minderheids aantygings te maak.
Die LUR vir Onderwys in die Weskaap is ‘n DA kader.

Jacobus ·

Ek is van Kaapstad hierdie was geimplementeer deur die nasionale departement van onderwys wat toe ek laas gekyk het n ANC minister was. Dit sou landwyd uitgerol gewees het maar is vir eers gestop. Moenie alles glo na wat jy verneem nie. Jy is reg David Maynier is die DA skaduminister van onderwys, maar hy het nou die saak gemaak, die oorspronklike besluit was deur die nasionale ANC minister gemaak.

Cherokee ·

Na Michael se verduideliking is die DA-aanhangers nie juis spraaksaam nie.

Sandra ·

Ek wil hierby aanlas met verpligte skoolvakke. My kind se skool het geskiedenis as verpligte vak, maar hulle leer nie geskiedenis nie, net politiek! Ek wens so ek as ouer mag my weersin te kenne gee en haar uit die klas haal.

Nommer 7 ·

Dis reg. In graad 6 leer die kinders dat natuurrampe net swart boere benadeel, en nie wit boere nie.

Samuel ·

Om te beweer dat die Drie- eenheid ‘n patriargale stelsel is en die Heilige Gees moontlik “queer” kon wees, is godslasterlik. Dit is tipies van ons kommunistiese, goddelose leiers in SA, of hulle ANC, swart, wit en DA of VF+ is, maak nie saak nie. Selfs ons kerke is die ANC gedienstig.

Jacobus ·

Hierdie was geimplementeer deur die nasionele ANC minister. Daar was nie eens onderwysers in die saal toegelaat nie so ek glo die skoolhoof ook nie. Die skoolhoof moes eintlik die praatjie net daar gestop het.

Nommer 7 ·

Eise wat tot dusver deur howe goedgekeur is vir onregmatige inhegtenisnemings, is gebasseer op die skending van vryheid van beweging. Ek vermoed die Wes-Kaap se DvO gaan ‘n klasaksie eis ontvang vir “aanhouding” van die leerders, wat sodoende hul menseregte geskend het.

Michael ·

Vir die van ons volkie wat dink die DA is anders as die mal Demokrate in the VSA, gaan kyk ‘n bietjie wat in Kalifornië aan gaan in die VSA, als wat julle hier sien het al reeds daar gebeur. GET WOKE, GO BROKE. Pasop vir die adders van die DA. Waar is hul stem in die hele storie, nada, net mooi niks, want dis hul LUR van onderwys wat die goed, goed keur. Dit skree van kommunisme.

Keelvol ·

Die DA is erg liberaal. Daarom stem ek nie vir hulle nie.

Jacobus ·

Jy slaan die bal erg ver mis. Gaan lees my verduideliking waar jy op my kommentaar kommentaar gelewer het. Die DA doen met die Weskaap wat geen ander party met geen ander munisipaliteit regkry nie. Die wat hulle monde so uitspoel oor die DA en Weskaap kan seker nie bekostig om hier in die Weskaap te bly nie, soos ek kan agterkom moet julle in elk geval maar bly waar julle is ons is beter af sonder julle antie DA, Stem julle maar vir die ANC.

BullsBabe ·

Here, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie……..Soos U sê “My land/mensdom gaan tengronde weens gebrek aan kennis”. Dis werklik die waarheid. Gryp hier in, Here, net soos U Hand kan.

Sarel ·

Die DA is doodstil oor die voorval…kom laat ons hoor wat is julle storie..

Jacobus ·

Dit is dan nou reeds die DA se skaduminister van onderwys David Maynier wat die saak gemaak het. Ek weet nie wat jy nie verstaan nie.

Wildemien ·

Jacobus, gaan lees gou weer. Met begrip. Die saak waaroor hier berig word is TEEN , onder andere, Maynier, LUR vir onderwys.

Cherokee ·

Die organisasie sonder winsbejag, Free Speech Union of South Africa (FSUSA), het voorheen twee keer aan die LUR geskryf om hom te waarsku oor die negatiewe inhoud wat vervat word in diversiteitskursusse in die Wes-Kaap.

Eers na die VF+ ‘n klag gelê het teen Maynier en kie het hy dit opgevolg. Geen saak gemaak soos jy dit stel nie. Dìt behoort werklik nie so moeilik te wees om te verstaan nie, Jacobus.

Delia ·

So wie het haar aangestel en betaal om die sessie te doen. So niemand het ook haar inhoud nagegaan.
En wat is haar kwalifikasie???

Chris dupreez ·

Ondersoek die aanbieder , wat haar intensies was en sommer van watter politieke party.

Anel ·

Na regte kan dit ook op ontvoering neerkom. Die kinders is ontneem van hul vryheid en aan gehou in die saal. Kyk, hulle kan regtig bly wees dat ek nie daar kinders gehad get nie!!!!

Papsak ·

REGTIG DIT IS ONHIGENIES OM ALMAL TOE LAAT OM TOILETS TE GEBRUIK EK GEBRUIK GEEN OPENBARE TOILETS NIE JAMMER SIES MORSIG

Samuel ·

Wat het hierdie berig met die hele toiletsaga uit te waai??

Republikein in die Wes Kaap ·

Ordentlike kinders daar. In die ou dae sou die seuns die deure oopgebreek het en deurwagte aangerand het om uit te kom.

Parmantige samaritaan ·

Ons wag vir die aanbieders van hierdie snert om dit weer te probeer.

piet ·

Mens sou dink dat die departement eers die inhoud van sodanige opleidingsessies nagaan voordat dit op vatbare kinders losgelaat word.

Delia ·

So een vrou, wat die kurses aangebied het,

1. het die skoolhoof en al die onderwysers verbied om na die lesing te luister?
2. Het die deur gesluit met n slot dat die skoolhoof of onderwysers nie kon insit?
3.het n brief met n instruksie van Mnr Maynier gewys wat hulle toegang weier.

Jr ·

Daai kommuniste MRK wat gesê Malema is onskuldig aan haatspraak, daai selfde een wat se selfde geslag toilets is reg. Wragtag die selfde een. Wat se uitspraak verwag julle. Mors van tyd en geld

Nikolaas ·

Mense wat die opvoeding van hul kinders aan die staat oordra kry n staatsopvoeding.

My hart breek vir die ouers en kinders wat geen ander uitweg tans insien as staatsopvoeding nie.

Rooikoos ·

Toemaar, siril is in die UK om kapsie te maak teen die colonialists se negatiewe invloed op RSA. Hy gaan hulle goed oor die knuckles piets.

Carel ·

Dié “Comrade” het BAIE GROTER PROBLEME as die Mense Regte Kommissie

Hierdie rondte in die kryt gaan haar vir ’n banja, banja lang tyd nog bloots ry

Markus 3:28 Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het;
Markus 3:29 maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel—

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.