Klag teen duiker ná voorval met walvis

Op die foto wat deur Heinz Toperczer geneem is, kan gesien word hoe Rainer Schimpf halflyf by die bek van die walvis uithang. (Skermskoot uit video)

ʼn Klag is gelê teen die duiktoeroperateur en natuurlewefotograaf van Port Elizabeth wat nou as ʼn “moderne Bybelse Jona” bestempel word nadat hy in die bek van ʼn walvis beland het.

Rainer Schimpf (51) het in Februarie sowat 46 km van die Port Elizabethse hawe saam met twee kollegas gesnorkel. Schimpf wou graag foto’s neem van ʼn sardienloop en die malgasse, pikkewyne en robbe wat op die visse jag maak. Hy het in die kol visse ingeduik om die beste moontlike foto’s te neem.

Skielik het ʼn Bryde-walvis te voorskyn gekom wat aan die skool visse wou smul. Dit was op daardie oomblik wat die walvis se bek om Schimpf se bolyf gevou en alles om hom donker geword het.

Die walvis het Schimpf egter vinnig weer gelos. Hy is nie beseer nie en het dadelik verder geduik en foto’s geneem.

Heinz Toperczer, ʼn professionele fotograaf, was aan boord van die boot en het die verstommende gebeurtenis op sy kamera vasgevang.

Die unieke ondervinding het internasionale mediadekking geniet nadat die foto’s van die voorval verlede week bekendgemaak is.

Zolile Nqayi, ʼn woordevoerder van die departement omgewingsake, het aan Maroela Media bevestig dat hulle wel ʼn klagte oor die voorval ontvang het.

“Ons het Vrydag ʼn verslag van Schimpf ontvang. Die departement kan bevestig dat hy ʼn permit vir fotografie het, maar nie ʼn permit wat hom toelaat op toeriste uit te neem op bote om na walvisse te kyk nie.

“Die duiker beweer hy het nie die walvis gesien aankom terwyl hy geduik het nie.”

Volgens Nqayi is die departement besig om die verslag saam met hulle wetenskaplikes te bestudeer sodat hulle die voorval beter kan verstaan voordat daar verder stappe gedoen sal word.

Arnold Slabbert, ʼn voormalige vissery-beheerbeampte en natuurbewaarder van Port Elizabeth, het aan Maroela Media bevestig dat hy die departement gevra het om die voorval te ondersoek.

“Operateurs wat toeriste uitneem op ʼn boot om walvisse te besigtig weet goed hulle mag nie in Suid-Afrikaanse water tussen die soogdiere duik of swem nie.”

Slabbert, wat self gereeld duik, meen iemand wat die seelewe ken en gereeld duik behoort ook eenvoudig van beter te weet. “Ek dink nie hierdie was ʼn eenvoudige ongeluk nie. Die duiker moes geweet het walvisse kom smul ook graag aan die sardiens en daar kan nie met die diere se vreettyd ingemeng word nie.

“As die fotograaf in ʼn soortgelyke situasie met ʼn leeu beland het, wat besig was om te jag, het almal nou gevra hoe die fotograaf so dom kon wees.

“Ek voel enigiemand wat met so min respek vir die natuur optree moet beslis ernstig op die vingers getik word. Boonop dink ek hierdie skep beslis nie ʼn positiewe beeld vir verantwoordelike toerisme in Suid-Afrika nie.”

Sommige kenners het ook intussen hul kommer uitgespreek dat die Bryde-walvis se filtreerplate in sy bek in die voorval beskadig kon raak.

Peter Morey. Foto: Facebook.

Maroela Media het met die bekroonde fotograaf Peter Morey gesels oor die etiese aspekte wanneer ʼn fotograaf daardie unieke kiekie van wildediere wil vasvang.

“Ek kry nie die gevoel dat die fotograaf in hierdie geval ʼn etiese lyn oortree het nie. Hy wou juis die skouspelagtige jagtog van roofdiere op die sardientjieloop vaslê en daarvoor moet jy so naby aan die aksie as moontlik kom.

“Boonop het die fotograaf gesê hy het nie die walvisse in die omtrek gesien nie. Ek dink dit sou ʼn ander storie gewees het as hy die walvis gesien het en reg in sy bek ingeswem het om ʼn foto te neem.

Morey vertel hy het al gesien hoe viertrekvoertuie met fotograwe op ʼn streep langs die rivierbank in die Masai Mara Nasionale Reservaat staan om die jaarlikse migrasie van wildebeeste op film vas te lê.

“Die leeus het die wildebeeste in ʼn hinderlaag gelei en die voertuie gebruik om agter te skuil. Die arme wildebeeste het pas die kake van ʼn krokodil vrygespring en dan staan ʼn viertrekvoertuig in een van sy moontlike ontsnaproetes langs die rivierbank – dit was amper vir my ʼn erger oortreding.”

Bonné de Bod, aanbieder en medevervaardiger van die dokumentere rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War‘, het ook haar siening oor die kwessie met Maroela Media gedeel.

‘n Skermskoot van Bonné de Bod se insetsel oor tuna. Foto: Verskaf.

“As wildlewe televisieaanbieder en filmmaker is hierdie etiese kwessies daagliks deel van my werk. Hoe naby? Of kan ons die etiese lyn bietjie aanskuif? Dít is die vrae wat jou konfronteer.

“Aan die begin van my loopbaan, meer as ’n dekade gelede, was daar tye waar ek stories aangebied het waar die regisseur van die insetsel verwag het dat ek baie naby aan daardie etiese lyn beweeg en selfs soms oor die lyn trap. Ek onthou ’n storie oor buffels waar ek gevaarlik naby aan ’n trop was om skakels vir die kamera te doen. Internasionale kanale soos Animal Planet wys en leer ons dat hierdie ‘hands-on’-benadering die in-ding is. Wat ons moet onthou, is dat dit [die diere se] ruimte is en ons is bloot daar om waar te neem,” het De Bod gesê.

“Met ’n storie oor tuna het ek die besluit geneem om nie saam met hulle te swem of hulle te hanteer nie en dit was een van die gewildste insetsels van die betrokke televisiereeks.

Bonné de Bod en Albert Smith is op die toneel by ʼn renosterwesie in die Kruger Wildtuin. Hierdie kalf het haar ma ‘n paar uur vroeër in die verloor na stropers haar vir haar horing vermoor het. Bonné dek die oog van die jong renosterkoei om haar oë te beskerm teen die son, aangesien sy nou onder narkose is. Albert hou haar liggaam koel in 43 grade hitte in die veld. Foto: Verskaf.

“Ook in my film STROOP neem ek die observasie-benadering ter harte en is ek net daar om die situasie en dit wat om my gebeur, met die kykers te deel. Die bottelvoeding van klein renosterwesies is die rehabiliteerder se werk; hoe oulik dit ook al lyk… my rol is om die storie te vertel. Ek sal net oor die lyn trap wanneer dit ’n noodsituasie is en die dier se lewe daarvan afhang soos in die geval waar ’n veldwagter my gevra het om met ’n renosterkalfie in die Krugerwildtuin te help [sien foto],” het De Bod bygevoeg.

Schimpf het tot dusver nie op Maroela Media se navrae gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Elvira ·

Vervolg vervolg. Kan niemand in hierdie land LEEF AS HULLE NIE KAN VERVOLG NIE. VERVOLGINGS WAANSIN. Liewe genade. Is daar nie kriminele wat EERDER vervolg moet word nie.

Charlotta ·

Net jammer die verkeerde mense word vervolg.
Wat n grap,moenie gaan duik of swem nie.

Lola ·

Nee nie vervolgingswaansin nie, geldgierigheid, hoekom maak hy alleen geld uit sy besigheid?

Leef ·

Leef en laat leef!!!…
Ek dink dit is ‘n fantastiese foto! Niemand is skade aangedoen nie ! beboet liewer mense wat veldbrande veroorsaak, want daar brand diere dood..

Ellisras ·

Die “natuurliefhebbers” kan eerder hul energie gebruik om perlemoen stroper te vang. Doen iets nuttig. Hierdie maak mense bewus van die natuur. Los hom uit.

Andrea ·

Sjoe, in hierdie land met sy belaglike aanklagte het ek vir n oomblik gewonder of daar nou n klag teen die walvis gemaak gaan word…

Johann cb ·

En ek glo nie Schimpf het/kon die voorval beplan nie! Moet ons iemand vervolg om ons jaloesie weg te steek? Vra maar net…

Michael ·

Andrea hulle gaan seker nog die walvis in die hof ook inbring en dan die walvis borg gee.want dit is hoe dit in hierdie land gaan

Oceanminded ·

Vandag n dooie malgas, in vislyn verstrengel, by Sardiniabaai naby P.E. gesien. Die tjokkavisser wat veranwoordelik was, sal seker ook vervolg word. Vervolg ook die mense wat die oseane met plastiek besoedel, dit sal baie help!

Karolis ·

Ag ek hoop nie hulle vervolg vir Marelize omdat sy op die rugbyveld met haar fiets gery het nie.

LM ·

Karolis jy moet oppas wat jy se van Marelize want dit is my naam. ???
Belaglike vervolging.

Potlood ·

Ja ek stem, dis bietjie rof, maar probleem is dat mense partykeer bietjie rigting nodig het (‘n voorbeeld van reg en verkeerd). Kan julle nou dink hoe dit sal wees as elke tweede duiker soortgelyk die natuur se proses beinvloed?

Liedie Odendaal ·

In the name of life, waarvoor sal jy nog vervolg word, ek het die artikel so geniet, ons eie Jona :), heeltemal iets anders as moord, verkragting en al die ander negatiewe artikels wat ons elke dag in die media van lees!! Ons kort meer sulke positiewe artikels om ons met n glimlag te los.

Anti-Haas ·

Jy meneer voormalige inspekteurtjie….. Julle TIPE is die euwel wat veroorsaak dat die groot smokkelaars van perlemoen en kreef wegkom. Julle net braaf as dit ‘n sagte teiken is.
Nou kom spoel jy jou afgunstigheid en vervolging (Waansin) op hierdie ou uit. Ek sien gereeld hierdie tipe inspekteurs. Lees jou koerant en ontspan jou boude……. Hierdie duiker het nie die voorval beplan soos wat dit gebeur het nie.

AH ·

Dit is belaglik dat hulle die duiker wil vervolg! Die howe is klaar stampvol van onbenullige sake wat die belangrike sake op lang waglyste laat beland. Vervolg liewer kriminele soos bv brandstigters en los onskuldige mense uit.

fish ·

En so sal jy altyd ‘n idioot kry wat ‘n probleem met als en almal het. Ek dink die grootste probleem is dat so idioot op aarde is, want hy is net jaloers hy is nie in die foto nie en kan seker nie eers swem nie never mind kan duik.

Gerhardb ·

Al self ‘n week lank die sardyn Run geduik op die Suid kus. In die middel van die skool visse ingespring met die wete daar is roof visse agter die skool aan om te jag. Ons het dit gedoen om behoorlike fotos te kan neem. Dit geweldig geniet en sal dit enige tyd weer doen. Basta met die Arnold Slabberts……Soos die een leser skryf, gaan vang eerder die perlemoen smokkelaars. Lekker dag vir almal.

Goeie foto’s en internet roem is prioriteit ·

Daar is dus niks fout daarmee om die natuur en diere te versteur vir behoorlike foto’s en internet sensasies nie. Al die kommentators hierbo stem daarmee saam dus moet dit reg wees.

Krugerwildtuin is ideaal vir fotografie en internet videos ·

Dit sal dus reg wees volgens al die kommentaar hierbo om vrylik in die Krugerwildtuin rond te beweeg vir die beste foto’s en miskien ‘n sensasionele video of twee.

Stuiwer ·

Wat ‘n storie om eendag om ‘n braaivleis vuur te vertel!! Soos my skoonma wat se vinger deur ‘n leeu afgebyt is by ‘n leeuplaas. Only in Africa (die keer in positiewe sin)

Amelia ·

Arnold, jou gierigheid, belaglikheid en jaloesie loop by jou ore uit. Jammer ou Arnold, jy sou so graag self in dai posisie wou wees.
Doen asb iets beters met jou tyd en geld.

Db ·

Ag siestog Arnold wou self daardie knoppie druk om die video te maak en toe druk hy sy vinger in sy ………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.