Klag teen Gauteng-gesondheidsdepartement oor ‘tenderbedrog’

Argieffoto: http://www.jameschesley.com/

AfriForum het Woensdag ’n strafregtelike klag by die Johannesburg Sentraal-polisiestasie ingedien om ondersoek in te stel na ’n beweerde onregmatige tender van R24 miljoen wat deur die Gautengse departement van gesondheid toegeken is.

Volgens die burgerregteorganisasie is die tender toegeken sonder dat die aanvaarde tenderprosedures gevolg is. Die tender behels die verskaffing van gespesialiseerde mediese toerusting aan die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria.

“Slegs twee maatskappye in Suid-Afrika kan dié toerusting verskaf en albei het ’n tender ingedien; een vir R12 miljoen en die ander vir R24 miljoen. AfriForum het egter dokumente van ’n fluitjieblaser ontvang met bewyse dat die tenderevalueringskomitee die goedkoper tender onregmatig afgewys het – selfs al het dit aan al die nodige vereistes voldoen,” het Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Mostert het die departement van gesondheid se tenderevalueringskomitee die goedkoper tenderaar bloot afgewys sonder om die tenderdokument se aanhangsels in ag te neem. Die klagtes sluit ook bewyse in van die uitbetaling van onreëlmatige fakture teen bedrae wat veel hoër is as die ooreenstemmende dienste wat gelewer is.

“Daar is ook skriftelike bewyse dat ’n agent vooraf aangestel en betaal is om vergaderings tussen die duurder tenderaar en die departement te reël. Suid-Afrikaanse wetgewing verbied die gebruik van agente binne enige tenderprosesse. Dié misdrywe moet dus deur die owerhede ondersoek word,” het Mostert gesê.

“Geld wat deur dié departement bestee word, moet aangewend word om mense in hospitale, klinieke en ander versorgingsinstellings te help en versorg, en om hul personeel daartoe in staat te stel – beslis nie om hooggeplaastes se sakke vol te stop nie.”

Omdat die maatskappy van die duurder tenderaar internasionale voetspore het, gaan AfriForum ook klagtes by die departement van justisie in die VSA indien ingevolge dié land se Foreign Corrupt Practices Act (FCPA), asook by die Britse polisiediens Scotland Yard, ingevolge die Verenigde Koninkryk se Bribery Act van 2010.

Die FCPA maak dit onwettig vir maatskappye wat ’n verbintenis met die VSA het om buitelandse amptenare met persoonlike betalings of belonings te beïnvloed. Terselfdertyd word die Britse Bribery Act van 2010 beskryf as een van die strengste teenkorrupsiewetgewings ter wêreld: Mense wat dit oortree, kan tot tien jaar tronkstraf opgelê word of onbeperkte boetes kry. Die wetgewing het verder byna universele jurisdiksie; die vervolging van enige persoon of maatskappy wat met die Verenigde Koninkryk verbind word, word dus hierdeur moontlik gemaak.

“Ons hoop dat die skuldige partye aan die pen sal ry en geregtigheid sal seëvier,” het Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng, gesê. “AfriForum sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat belastingbetalergeld verantwoordelik en regmatig aangewend word, en dat moontlike strafregtelike aktiwiteite onder die loep geneem word. AfriForum doen ’n beroep op fluitjieblasers om na vore te kom om korrupsie te help blootlê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dan ·

Daar is net geen einde aan die bedrog en korrupsie nie. Goeie werk deur Afriforum om die klag aanhangig te maak. Ek sien egter nooit vervolgings teen die skuldiges nie.

Annette Stander ·

Die ANC het hom nog nooit gesteur aan enige wetgewing nie.

Griki ·

Nee, Joe. Gauteng is Jhb se kant en val onder die ANC (David Makhura is die premier). Pta is Tshwane onder die DA.

Johanna Botha ·

Verbaas mens gladnie …skandes op skandes van die anc

Hanna ·

Al wat ek weet is dat sou Suid – Afrika ooit n soortgelyke “anti bribery act” instel en onderhou soos in Britanje, sal ons tronke nog voller wees. Sommer heelwat voller. Maar nou ja, seker maar net wishful thinking.

johny_walker ·

Is daar enige departement van die staat wat korrek en sonder korrupsie funksioneer ?

Magda ·

Dankie Agri Forum vir alles wat julle vir SA doen om te keer met al die korrupsie – Hoop die skuldiges gaan binnekort tronk toe en hulle bates verkoop om die geld terug te betaal – Genoeg ook nou gehad van die Korruopsie.

broos ·

‘n mens sou dink dat teen die tyd hulle moet weet dat hulle een of ander tyd uitgevang gaan word. Polisie se R11.5 miljoen, hierdie R12 miljoen……it all adds up, en ongelukkig nie teen voordeel van die armes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.