Klag teen plaasbestuurder vir eers laat vaar

Frikkie van Huyssteen (Foto: Facebook)

Die saak teen Frikkie van Huyssteen, die 30-jarige Vrystaatse plaasbestuurder, is van die rol geskrap nadat die staat maande later steeds nie sy ondersoek afgehandel het nie.

Van Huyssteen is van poging tot moord aangekla nadat die aanvaller wat hy in September verlede jaar glo uit selfverdediging geskiet het, vroeër vanjaar dood is.

Van Huyssteen het Vrydag vir die soveelste keer in die landdroshof op Kestell verskyn waar die staatsaanklaer weer eens aangedui het dat die staat se ondersoek na die voorval steeds nie afgehandel is nie.

Die verdediging het nie tydens die vorige verskyning in Februarie vanjaar teen nóg ’n uitstel beswaar aangeteken nie, met die voorwaarde dat dit die laaste uitstel sou wees.

Johan Niemann, Van Huyssteen se prokureur, het Vrydag in die hof aangevoer dat sy kliënt benadeel word ingevolge artikel 35 van die Grondwet wat voorsiening maak vir die reg tot ’n regverdige verhoor sonder enige onbillike vertraging.

Die landdros het toe besluit om die saak van die rol te skrap.

“Die staat het meer as agt maande gehad om sy ondersoek af te handel. Dit is ’n eenvoudige saak. Daar is twee ooggetuies – die beskuldigde en die oorledene,” het Niemann Maandagoggend aan Maroela Media gesê.

Niemann sê hoewel sy kliënt in dié stadium verlig is dat die saak van die rol geskrap is, hy daarvan bewus is dat dit nie die einde van die pad is nie. Die moontlikheid bestaan dat Van Huyssteen vorentoe weer aankla word indien die staat sy ondersoek afgehandel het en steeds wil vervolg.

“Dit hang soos ’n swaard bokant sy kop,” sê Niemann nou.

Maroela Media het vroeër berig Van Huyssteen en twee plaaswerkers het in September verlede jaar ysterpale op die plaas Middelpunt in die omgewing van Kestell gelaai toe ’n voormalige plaaswerker Moses Thokozane Hlube (37) hulle genader en oor die pale gekonfronteer het.

Hlube het na bewering een van die pale “soos ’n spies” opgetel, Van Huyssteen bestorm en hom met die paal op sy neusbrug gesteek. Van Huyssteen is ernstig in die voorval beseer en het glo uit noodweer sy vuurwapen uitgehaal en Hlube in die nek geskiet.

Die polisie en nooddienste is glo destyds dadelik ná die voorval ontbied. Die staatsambulans het Hlube egter ure later na ’n hospitaal vervoer waar hy lank behandeling ontvang het voordat hy eindelik ontslaan is.

Hlube was glo sedert die voorval verlam. Sy toestand het later verswak en hy is weer in die hospitaal opgeneem waar hy op 28 Januarie vanjaar dood is. Hlube is voor sy dood van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekla in verband met die aanval op Van Huyssteen.

Daar was ná Hlube se dood sprake daarvan om die aanklag teen Van Huyssteen na moord te wysig. Die aanklag is tot op hede nog nie gewysig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Sterkte |Frikkie. Jy het net jouself beskerm teen on opgevoede landsburgers. Baie dankbaar dat jy dit hele gemors agter jou kan sit en aangaan met jou lewe.

Werner

Aangesien Frikkie homself regmatig binne die wet verdedig het het die staat nie n saak nie.

Robert

Wat sê die ander twee plaaswerkers of is hulle gedreig net soos die spul by pampoenkraal.

marius

Bring ‘n aansoek dat die staat hom laat pleit . Hy is dan geregtig op uitspraak .

Androclus

Daar is twee ooggetuies – die beskuldigde en die oorledene,” het Niemann Maandagoggend aan Maroela Media gesê.maar die oorledene kan hom nie verdedig nie.As hulle 2 alleen was dan is dit iets anders. Wie weet ek en njy was nie daar nie.